Naskrif uit Nederland: enkele gedagtes neergepen

  • 0

Ek het nog nooit ’n besondere begeerte gehad om oorsee te gaan nie. Vandat ek jonk was, het my ouers die filosofie gehad dat jy nie die wêreld kan toer voordat jy nie eers jou eie land gesien het nie. Waarom nou oorsee foeter as daar soveel pragtige plekke hier op eie bodem is? Ons land is so ryk aan natuurskoon, kulture, tale, geskiedenis en argitektuur – so leer eers jou eie land ken voor jy die wêreld wil leer ken.

Ek is dankbaar vir die filosofie, want daarom het ek ’n diep en innige liefde vir Suid-Afrika en ken ek dorpies so klein in Suid-Afrika dat dit selfs nie eens op ’n padkaart verskyn nie! Ek was juis onlangs in so ’n klein dorpie, diep weggesteek in die Noord-Kaap tussen niks en nêrens, genaamd Riemvasmaak. ’n Grondpad so sleg dat jy heelpad op jou tande kners van die gehop-hop op die sinkplaatpad. Maar die beloning om uiteindelik daar aan te kom … Natuurskoon so ongerep het ek lank laas gesien.

Staalmeestersbrug

Maar nou dwaal ek van die pad af … My punt is, ek het nooit regtig die begeerte gehad om oorsee te toer nie. Ek was nie daarteen gekant nie; ek het net nog nooit die geleentheid gehad nie en nou nie juis aktief vir ’n geleentheid gesoek nie. Daar was net soveel ander plekke in Suid-Afrika en Afrika wat ek eers wou sien.

Tot onlangs. Dalk is dit die “quarter-life crisis” of dalk die internet en sosiale media waar jy met die kliek die klik van ’n knoppie sien, maar al wat ek weet, is my voete het begin jeuk.

So het dit gekom dat ek, na ’n bietjie rondsnuffelry, aansoek doen vir ’n winterskool by die Vrije Universiteit in Amsterdam, Nederland. En voor ek my oë kon uitvee, was ek op ’n vliegtuig Nederland toe – een van die spesiaalste avonture van my lewe.

Die hoofingang van Vrije Universiteit Amsterdam

By die Vrije Universiteit

Die visumaansoek, voorbereiding en uiteindelik op die vliegtuig klim

Dit was nie net die eerste keer dat ek oorsee sou gaan nie, maar ook die eerste keer dat ek alleen met ’n vliegtuig sou vlieg. Ek was uiteraard maar skrikkerig oor die onbekendheid en nuutheid van alles.

Een van die dinge waaroor ek seker die meeste bekommerd was, was die visumaansoek. Sê maar hulle keur my aansoek af vir een of ander rede? Ek moet egter erken die proses het eintlik toe heel glad verloop. Die webtuiste VFS Global verduidelik alles wat ’n mens moet doen stap vir stap. Eers moet jy bepaal vir watter visum jy wil aansoek doen, dan vul jy ’n aansoekvorm aanlyn in en reël ’n afspraak by die konsulaat. Daar is verskeie dokumente wat jy nodig het vir die aansoek, en dié dokumente moet jy dan saam met jou neem na jou afspraak by die konsulaat. Die webtuiste sê egter presies vir jou wat jy alles nodig het, byvoorbeeld bewys van die rede waarom jy gaan, bewys van akkommodasie, vliegtuigkaartjies, selfs die spesifikasies van die ID-foto’s wat jy moet hê.

Een van die belangrikste dinge wat ek seker geleer het in terme van al hierdie eerstes, is om vrae te vra as jy onseker is oor enigiets. Dit is oorweldigend om iets vir die eerste keer te doen, veral as jy dit alleen aanpak. Om alleen jou pad op ’n lughawe te vind as jy dit nog nooit vantevore gedoen het nie, is byvoorbeeld vreesaanjaend. En die lughawes oorsee is nog soveel groter as Suid-Afrika s’n! Ek het dus geleer om my trots opsy te skuif en mense vir hulp te vra. Of dit nou personeel by die lughawe is of ’n vreemdeling in Nederland se strate, vra het ek gevra.

Eerste indrukke

Mense vra my gereeld wat my indrukke van Nederland was en dan antwoord ek dat dit net doodeenvoudig ongelooflik was! Maar soos ek dan byvoeg, dit was my eerste keer oor die water, dus sou enige land seker maar ongelooflik gewees het.

My eerste gedagte toe ek daar anderkant van die vliegtuig afklim en vir die eerste keer alles inneem, was ’n gevoel van absolute trots – ek het dit gemaak! Ek was terselfdertyd oorweldig, maar tog opgewonde oor die avontuur wat voorlê. Grootoog van verwondering het ek alles ingeneem.

Die paleis op Damplein

Nederland, of dan Amsterdam, was op die oog af vir my tegelyk soveel dieselfde as Suid-Afrika en tog ook soveel anders. Ek sukkel om die gevoel te beskryf.

Een van die dinge wat my ook eerste opgeval het, is hoe verwant Afrikaans en Nederlands nou eintlik aan mekaar is! Dit was vreemd om na padtekens, advertensies en dies meer te kyk en te verstaan wat gesê word. Dit het dit aansienlik makliker vir my gemaak om my pad te vind. Dit was interessant om agter te kom dat ’n mens tog ’n bietjie van die gesprekke tussen Nederlanders kan verstaan!

En natuurlik, hulle winters is inderdaad baie kouer as ons winters…

Die Eerste Wêreld-land-aspek

Sonder om te polities te raak, is die verskil tussen ’n Eerste Wêreld-land en Derde Wêreld-land tog iets wat ’n mens nie anders kan as om op te merk nie. Danie Marais se gedig wat ek in Afrikaans en Nederlands behandel het, “In Duitsland marsjeer die wolke in gelid”, het heeltyd deur my kop gemaal. Ek was nou wel nie in Duitsland nie, maar ek het gevoel die sentiment is tog ook van toepassing. Dit is werklik asof alles so presies is in Nederland dat selfs die wolke in gelid marsjeer!

Die openbare vervoer is in ’n ander klas as Suid-Afrika se openbarevervoerstelsel. Vir ons Suid-Afrikaners is dit maar ’n vreemde ding om in ’n land te wees waar hul openbarevervoerstelsels het wat effektief werk. Watter vreemde konsep vir ons om te dink dat ’n land werkende treine, busse, metro’s en trems kan hê! Hier het ons dit nie. Dit was werklik iets om aan gewoond te raak! En natuurlik is Nederland mos maar bekend vir almal wat so fietsry. ’n Klasmaat het juis vir my gesê dat dit vir haar die vreemdste ding is as iemand van ’n ander land sê fietsry is hul stokperdjie, want fietsry is mos nie ’n stokperdjie nie – dis vir hulle basies soos om te sê bus-ry is jou stokperdjie!

Die veiligheidsaspek van die land was ook ongelooflik. Om laataand vrou-alleen in die strate van Amsterdam rond te loop en nie bang en onveilig te voel nie is die vreemdste gevoel. Jou logika sê vir jou dis oukei so, dat dit ’n veilige land is – en boonop sien jy soveel mense alleen loop – maar diep in jou binneste voel iets net nie reg nie en bly jy maar oor jou skouer kyk. Ek dink dis al so deel van ons wese om altyd oor ons skouer te loer en paraat te wees dat dit maar moeilik is om nie so te voel nie.

Die universiteit

Soos ek reeds genoem het, het ek ’n week lange winterskool by die Vrije Universiteit bygewoon. Ek is tans besig met my meesters in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en die winterskoolkursus wat ek bygewoon het, het gehandel oor kwalitatiewe navorsing, die tipe navorsing wat ek in my tesis gaan gebruik.

Daar was oor die honderd deelnemers van regoor die wêreld wat die winterskool bygewoon het en dit was lekker om soveel diverse mense van verskillende lande te ontmoet. Een van hulle was darem ’n mede-Suid-Afrikaner. Twee persone was van Kenia en een van die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Soos ’n wafferse toeris

Ek het elke af tydjie goed probeer benut en wou soveel toeristebesienswaardighede as moontlik sien.

My top drie was ongetwyfeld die Anne Frank-huis, die Van Gogh-museum en die Rijksmuseum. Ek dink werklik nie jy kan Amsterdam toe gaan en nie by daardie drie gaan inloer nie.

Rijksmuseum

Om deur die Anne Frank-huis te loop en jou te probeer indink waardeur hulle moes gaan ... Dis onmoontlik om die gruweldade van die Tweede Wêreldoorlog te probeer verwerk. ’n Mens leer in Geskiedenis daarvan, jy lees Anne Frank se dagboek, maar om daar te wees in die agterkamer waar hulle weggekruip het, is iets anders.

Die Anne Frank-huis

Die Anne Frank-huis (heel regs)

So ook het ek die Van Gogh-museum geniet, dalk omdat ek op skool van Van Gogh geleer het en dit ’n belewenis was om nou uiteindelik sy werke self te sien. Om weer sy verhaal te hoor en opnuut te besef hoe tragies dit maar eintlik was.

By die Van Gogh-museum op Museumplein

Die Rijksmuseum was net so ’n belewenis. En is daai museum nou nie ’n doolhof nie! Ek wens ek het meer tyd daar gehad.

Lekker soos ’n local

Ek moet bieg, ek het darem so ’n paar cliché local dinge ook gedoen (hoe dan anders?).

Hoewel ek eers hoog en laag gesweer het dat ek glad nie gaan fietsry nie – ek vertrou nie juis my fietsryvernuf nie – het ek eindelik tog geswig en ’n fiets gaan huur. Aanvanklik was ek maar lekker angsbevange, want daai Nederlanders ry vinnig op daai fietse, hoor! Jy moet jou storie omtrent ken.

Fietse, fietse en nogmaals fietse

Wat dit egter makliker maak, is dat fietsryers voorkeur op die pad kry, so almal stop darem genadiglik vir jou sodat jy kan ry. Kyk, as dit nie daarvoor was nie, het ek beslis in een van die kanale beland.

’n Mens kan darem seker nie Nederland besoek sonder om iets plaasliks te eet nie – en dit het ek vir seker gedoen! Bitterballen en natuurlik stroopwafels – ’n mens moet mos maar!

Ek eet bitterballen.

Iets wat my opgeval het, is hoeveel Suid-Afrikaners daar in Amsterdam woon. In die tyd wat ek daar was, het ek en twee vriendinne en twee vriende van die universiteit ontmoet en hulle het my weer aan ander Suid-Afrikaners voorgestel.

Laaste gedagtes

Ek verstaan nou waarom mense sê ’n mens moet reis as jy die geleentheid kry en die wêreld gaan sien. Dit maak nou vir my sin. Jy leer eintlik so baie oor jou eie land ook deur ’n ander land te besoek. Jy leer hoe ander plekke in die wêreld lyk en funksioneer, hoe die geskiedenis dalk dinge in jou eie land beïnvloed het en dies meer. Hoewel ek steeds heelhartig glo dat dit belangrik is om jou eie land en kontinent te sien en plaaslike toerisme te ondersteun, het ek ook besef daar is ’n hele wêreld daar buite om te sien en te verken. Ek sal beslis in die toekoms nog lande oorsee wil sien as ek bevoorreg genoeg sou wees om ’n geleentheid te kry. Maar vir nou eers is dit lekker om terug op eie bodem te wees. Oos wes tuis bes.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top