Nederkaans – "Daai ietsie van Suid-Afrika"

  • 0

....

“Wat vir my die naam uniek maak, is dit simboliseer die integrasie van Afrikaans na Nederlands. Dat mens altyd so ’n bietjie van altwee sal hê.”

....

Heimwee na Suid-Afrika het vir Maronel Lotter geïnspireer om ’n besigheid te begin wat Suid-Afrikaners in Nederland (Utrecht) meer tuis laat voel. Sy gesels met Cliffordene Norton oor hoe Nederkaans begin het, waar die naam vandaan kom en wat volgende is.

Wat het jou geïnspireer om Nederkaans te begin? 

Dit was ’n groot aanpassing in ’n nuwe land. In Suid-Afrika het ek ’n loopbaan as ’n laboratoriumtegnikus gehad. Dit was my passie en dit was iets waarop ek baie trots was. Toe ons na Nederland trek, was my kinders my begin, middel en einde van die dag. Soveel as wat ek dit geniet het saam met hulle, was dit ook moeilik om nie meer iets van my eie te hê nie.

Ek het terug verlang na die huis en my eie kultuur. Dis toe wat my man vir my die snyplotter gekoop het en ek het begin om vir myself goedjies te maak wat my meer tuis laat voel. Muurdekals met mooi Afrikaanse woorde.

Ek het toe ’n bietjie ruimteprobleme begin ondervind in my huis en besluit om my dekals aan ander mense te verkoop wat dalk dieselfde voel. Dit was suksesvol en ek het toe oorgegaan na kussingslope en sakke. Na dit het ek begin om op T-shirts te print, wat ek baie geniet. En toe besluit om my besigheid te registreer by die KVK (Kamer van Koophandel) as Nederkaans.

Hoe het jy jou besigheidsnaam Nederkaans gekies? 

Aan die begin was dit ’n bietjie lastig om te kommunikeer in Nederlands met ’n Afrikaanse agtergrond. Toe ontstaan die grappie dat ons Nederkaans praat – ’n mengsel van Afrikaans en Nederlands. Wat vir my die naam uniek maak, is dit simboliseer die integrasie van Afrikaans na Nederlands. Dat mens altyd so ’n bietjie van altwee sal hê.

Ek praat Nederkaans.

Neem ons kortliks deur die ontwerp- en vervaardigingsproses van die Nederkaans-produkte.

Sodra ’n bestelling deurkom, bestel ek die onbedrukte T-shirts van ’n verskaffer. As ek dit ontvang, gaan ek dadelik aan die slag met die uitsny van die design dmv ’n snyplotter. As alles goed lyk, sit ek hom in die heatpress sodat die ontwerp aan die T-shirt vassit. Dan kom fakture print en verpakking. Daarna pos ek dit na my klant.

Maronel skep produkte wat jou tuis laat voel.

Wat was die moeilikste aspek om ’n nuwe onderneming te begin?

Vir my is die moeilikste om jou produk daar buite te kry. Ek voel ek kan mense help om hulle huise weer soos tuis te laat voel en ’n bietjie van Suid-Afrika in te bring.

Watter was die uitdagings en hoogtepunte wat jy tot dusver ervaar het?

Die uitdagings wat ek ervaar het, was om die ontwerpe en T-shirts perfek te kry sodat dit die gehalte is wat mense verwag.

Die hoogtepunte wat ek ervaar het, is elke keer wat ’n klant tevrede is oor sy produk en ook die opgewondenheid wat met dit gepaard gaan.

Ook natuurlik is elke verkope ’n hoogtepunt vir my.

Wat was jou eerste indrukke van Utrecht, en hoe verskil dit van Suid-Afrika?

Utrecht en Suid-Afrika verskil letterlik wêrelde.

Die eerste keer wat ek in Utrecht-stad gaan loop het, was die geboue vir my besonders, veral die geskiedenis agter dit.

Hoe skoon die strate is en hoe veilig ek gevoel het. Die winkeltjies om elke hoek en eetplekkies.

’n Mooi gebou van Utrecht (Foto: Pixabay.com)

Suid-Afrika het ook pragtige geboue met soveel geskiedenis, maar dis nie meer veilig om orals te loop en te gaan kyk nie. Die stede is nie meer ’n opsie nie – vuil strate en geboue wat vergaan. Die geskiedenis in Suid-Afrika is iets wat my kinders nooit sou ervaar nie.

Wat is jou planne vir die toekoms met betrekking tot Nederkaans?

Ek wil Nederkaans uitbrei sodat elkeen wat hiernatoe trek en alleen voel en voel asof hulle nie inpas nie, daai ietsie van Suid-Afrika, hulle eie kultuur, hier by hulle kan hê. Of dit nou ’n T-shirt, kussingsloop of net ’n muurdekal is. Dis daardie klein goedjies wat ’n huis jou eie maak.

  • Foto’s verskaf, tensy anders aangedui.

Buro: MvH
  • 0
Top