Nederland bevestig steun aan Oekraïne sowel as bande met Suid-Afrika

  • 0

Oekraïne se soewereiniteit en territoriale integriteit is vir Nederland die sleutelprioriteite in die oorlog waarin Oekraïne met Rusland gewikkel is.

So het Nederland se premier, Mark Rutte, gesê na afloop van sy samesprekings met Suid-Afrika se president Cyril Ramaphosa die afgelope week.

Rutte en sy Deense ampsgenoot, Mette Frederiksen, het Suid-Afrika, Namibië en Marokko die afgelope week besoek.

Rutte het op Twitter gesê Nederland en Suid-Afrika deel ’n lang geskiedenis wat donker hoofstukke sowel as gelukkiges het. “Maar vandag is ons bande sterker as ooit, en ons kan met vertroue na die toekoms kyk. Dit was goed om die president te ontmoet.”

Die hooffokus van die week se gesprekke was die lande se samewerking op die gebied van groen waterstof.

Suid-Afrika is goed geplaas om ’n groot rolspeler in die ontwikkeling en handel van hierdie brandstof te word. In Europa neem Nederland en Denemarke die voortou op hierdie gebied.

Benewens die energie-oorgang het die lande se leiers ook oor huidige kwessies gepraat, soos die oorlog in die Oekraïne – ’n oorlog wat hulle almal so gou moontlik wil beëindig, het Rutte gesê. “Die handhawing van ’n dialoog sal ons help om gemeenskaplike grond te vind wanneer dit kom by die gesamentlike beskerming van die internasionale regsorde.”

Terwyl Nederland en Denemarke hulle vierkantig agter Oekraïne skaar in die oorlog, probeer Suid-Afrika ’n neutrale standpunt handhaaf. Ramaphosa en sy regering weier om, soos die meeste Westerse lande, die skuld vir die konflik op Rusland te pak.

Suid-Afrika sal ook aan die 2023-Rusland-Afrika-beraad deelneem wat 26–29 Julie 2023 in Sint Petersburg in die Russiese Federasie sal plaasvind.

Nederland het dit duidelik gemaak dat hulle sal voortgaan om Oekraïne te ondersteun. Hierdie oorlog gaan nie bloot om die verdediging van die vryheid van die Oekraïense volk nie; dit gaan ook oor die beskerming van die vryheid en veiligheid van Nederland, sê Rutte op sy land se amptelike webwerf.

“Ons sal dus nie diegene in die steek laat nie. Baie moet ook gedoen word op die gebied van klimaataksie, behuising, onderwys en sekuriteit. Die regering werk saam met ander partye aan oplossings vir al hierdie uitdagings,” het hy op Twitter gesê na sy gesprekke met die Suid-Afrikaners.

Volgens Rutte wil Nederland meer insig kry in wat in Afrika gebeur, maar sy hooffokus is op die energie-oorgang.

Rutte het gesê dit is belangrik vir mense om te verstaan ​​dat regverdige energie-oorgang nie net daaroor gaan om die energie-onsekerheid aan te spreek nie, maar ook om werks- en verdere ekonomiese geleenthede te skep.

Ramaphosa het by die SA-Denemarke-Nederland-sakeforum gesê vir Suid-Afrika is dit belangrik om groenwaterstofprojekte te ontwikkel wat bydra tot die uitvoermark terwyl die plaaslike ekonomie ontwikkel word.

“Suid-Afrika is gereed om hernubare-energie-projekte te lok en te implementeer en ons het die vermoë om van die komponente te bou wat hierdie projekte sal vereis,” het Ramaphosa gesê.

Hy sê dit sluit projekte in van sonkrag tot biogas, van wind- tot batteryberging, en is alles deel van die belangrikste groeibedrywe in Suid-Afrika.

“Sulke beleggings is veral belangrik aangesien Suid-Afrika ernstige elektrisiteitstekorte in die gesig staar.”

Die hervormings wat in die elektrisiteitsektor aan die gang is, sal volgens Ramaphosa ’n meer mededingende, kostedoeltreffende en volhoubare elektrisiteitsmark moontlik maak.

Hy sê daar moet ook erkenning gegee word aan die beleggings wat nuwe lewe blaas in mynbou, een van die land se oudste bedrywe en steeds een van sy belangrikstes.

Deur hierdie beleggings sal ons ons produksie van platinumgroepmetale en ander minerale uitbrei wat noodsaaklik is vir die opkomende tegnologieë van die toekoms.

Mette Frederiksen van Denemarke het bygevoeg dat haar land private beleggings na Suid-Afrika bring en wens vir ’n regverdige oorgang om energie-onsekerheid aan te spreek. Sy het bygevoeg dat daar baie nuwe moontlikhede in die groen sektor is.

Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge, het in gesprek met SABC News gesê die hoëvlakvergaderings wat tussen die twee lande en Ramaphosa plaasgevind het, sal energiebronne en -ondersteuning ontleed, spesifiek dié wat met die oorgang verband hou.

“Denemarke het ’n lang pad gevorder in terme van skoon energiebronne, en ’n aantal maatskappye is hier om sakegeleenthede sowel as die groen waterstof te soek,” het Pandor gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top