Nederland deel van diplomatieke uitval met SA

  • 0

’n Diplomatieke relletjie het tussen Suid-Afrika en vyf van die land se grootste internasionale handelsvennote (onder andere Nederland) uitgebreek wat die ANC en die SAKP warm onder die kraag gehad het.

Die diplomatieke onenigheid op die vooraand van Suid-Afrika se algemene verkiesing later vanjaar, spruit uit ’n vertroulike diplomatieke dokument wat aan die media gelek is.

Die vyf lande  hierby betrokke – Amerika, Duitsland, Brittanje, Nederland en Switserland – is deur die ANC en die SAKP oor die kole gehaal en daarvan beskuldig dat hulle besig is om doelbewus in te meng met vanjaar se algemene verkiesing.

Die Sunday Times het Sondag berig die vyf lande het regstreeks aan president Cyril Ramaphosa geskryf dat hy daadwerklik moet optree teen staatskaping en korrupsie as hy wil hê die buiteland moet in Suid-Afrika belê. Dié lande se ambassadeurs het dadelik vure probeer doodslaan om die geskil op te los. In ’n verklaring wat Duitsland se ambassadeur in Suid-Afrika, Martin Schäfer op Twitter geplaas het, spreek die vyf lande in ’n gesamentlike verklaring hulle spyt uit oor die voorval.

Luidens die verklaring was die memorandum ’n informele besprekingsdokument wat hulle reeds in Junie verlede jaar aan president Ramaphosa gestuur het in die aanloop tot sy beleggingskonferensie. Volgens die ambassadeurs wou hulle Suid-Afrika se veldtog om buitelandse beleggings te lok, ondersteun.

Tydens ’n vergadering wat Maandag met amptenare van die departement van internasionale betrekkinge gehou is, het die ambassadeurs verduidelik dat dit nie ’n amptelike dokument aan die Suid-Afrikaanse regering was nie, maar ’n besprekingsdokument wat sowat ses maande gelede aan Ramaphosa gestuur is. Die doel was glo om die president se Suid-Afrikaanse beleggingsveldtog te steun en hulle konstruktiewe dialoog met die Suid-Afrikaanse regering te bevestig.

Die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge het sy misnoeë oor die uitlekking van die dokument uitgespreek. Hulle sê die memorandum wat aan die president gestuur is, wyk af van gevestigde diplomatieke protokol en praktyk.

Die ANC het ook sy ontevredenheid oor die voorval uitgespreek. Die party se woordvoerder, Zizi Kodwa, het in ’n verklaring gesê Suid-Afrika is besig met ’n grondwetlike proses om die land van staatskaping en korrupsie te bevry en die vyf lande behoort dit te steun.

Kodwa sê die ANC bestempel die uitlek van die dokument as ’n poging om die verkiesing te beïnvloed en waardeer nie die dreigende en afknouerige toon daarvan nie. Volgens die ANC se verklaring is Suid-Afrika ’n “leidende lig” in die wêreld om probleme soos staatskaping en korrupsie te takel.

Die ANC se alliansievennoot, die SAKP, het ook woedend reageer op die nota. Hulle het ’n beroep op die vyf ambassadeurs en hulle lande gedoen om op te hou met hulle “imperialistiese inmenging” in Suid-Afrika se huishoudelike sake.

Die ambassadeurs sê hulle is tevrede met die positiewe gesprek wat hulle met die Suid-Afrikaanse regering gehad het oor die voorval. Hulle sê hulle het dit duidelik gemaak dit was nie ’n amptelike dokument aan die Suid-Afrikaanse regering nie en vra verskoning vir die misverstand.

Die departement van internasionale betrekkinge sê die ambassadeurs het die versekering gegee dat hulle in die toekoms die regte diplomatieke kanale sal volg om boodskappe oor te dra.

Die Suid-Afrikaanse publiek het uiteenlopend op sosiale media reageer oor die voorval. Sommige was vies vir die ambassadeurs omdat hulle nie die regte diplomatieke kanale gevolg het om hulle boodskap oor te dra nie, terwyl ander bly was die vyf lande het die noodsaaklikheid van goeie en skoon regering onder Ramaphosa se aandag gebring.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top