Nederland en Denemarke se premiers besoek Suid-Afrika

  • 0

Enkele dae nadat Cyril Ramaphosa teruggekeer het van ’n omstrede vredespoging in Europa en Rusland om die oorlog tussen Rusland en Oekraïne te probeer beëindig, moes hy Dinsdag Suid-Afrika se standpunt oor die oorlog ook aan die Nederlandse premier, Mark Rutte, en die premier van Denemarke, Mette Frederiksen, verduidelik.

Die twee premiers is dié week op ’n gesamentlike amptelike werksbesoek aan Namibië, Suid-Afrika en Marokko.

Hulle besoek het veral gefokus op kwessies soos hernubare energie, maar die oorlog in Oekraïne was na verneem word ook hoog op die agenda.

Hulle het menings uitgeruil oor internasionale ontwikkelings, multilaterale samewerking, en handel en belegging tussen die lande.

Nederland is glo veral skepties oor Suid-Afrika se “neutrale houding” rakende die oorlog in Oekraïne. Verskeie leiers in Nederland se koalisieregering het reeds sterk standpunt ingeneem omdat Suid-Afrika nie bereid is om Rusland te veroordeel vir sy aandeel in die oorlog nie, en wil graag groter helderheid oor Suid-Afrika se standpunt hê.

Nederland en Denemarke is beide lede van Navo, die militêre verdedigingsalliansie wat in 1949 gestig is en uit verskeie Europese en Noord-Amerikaanse lande bestaan. Die doel van Navo is om die veiligheid en verdediging van sy lede deur middel van samewerking en gemeenskaplike verdediging te verseker. Beide Nederland en Denemarke is aktiewe deelnemers in Navo en dra by tot die alliansie se missies en operasies.

Die besoek het veral gepoog om Suid-Afrika se verhouding met Denemarke en Nederland te verstewig op die gebied van groen waterstof, hernubare energie en billike haalbare energie-oorgang. Suid-Afrika en Nederland sou na verwagting ook die memorandum van verstandhouding oor samewerking met betrekking tot groen waterstof onderteken.

“Die besoek bring ook ’n aansienlike groep beleggers na Suid-Afrika om die hoë vlakke van samewerking en goeie verhoudings tussen Suid-Afrika en twee belangrike Europese vennote te versterk. Die besoek sal ’n program van gesamentlike bilaterale samesprekings en ’n gesamentlike sakeseminaar behels,” het die presidensie in ’n verklaring gesê.

Ramaphosa sê die land hoop om baat te vind by samewerking met Nederland en Denemarke op die gebied van hernubare energie. Hy het by die presidensiële gastehuis in Pretoria gepraat waar hy die twee premiers ontvang het. Hy het verwys na die lande se historiese bande met Suid-Afrika en die rol wat hulle in die bevrydingstryd gespeel het. Ramaphosa het aan die staatshoofde en hul afvaardigings gesê die besoek is veral geleë in die lig van Suid-Afrika se kragkrisis.

Die bilaterale samesprekings is opgevolg deur ’n gesamentlike sakeforum wat bestaan ​​het uit bedryfsleiers uit die verskillende lande, wat ook deur die twee premiers en Ramaphosa bygewoon is.

Die forum se tema was “Groen-energie-oorgang en groenwaterstofvennootskappe vir impak”.

Voordat die leiers die forum toegespreek het, het afgevaardigdes deelgeneem aan sessies oor finansies en vaardigheidsontwikkeling vir plaaslike impak, en aan rondetafelgesprekke om samewerking op ’n aantal gebiede aan te moedig, insluitend die vergroening van nywerheid, hawe-ontwikkeling, nywerheidsontwikkelingsondersteuning, groen mobiliteit en groen-energie-opwekking.

’n Afvaardiging van die uitvoerende hoofde van die Rotterdamse hawe, Invest International, wat finansiering vir projekte verskaf, asook die Gasunie, wat die gastransmissienetwerk in Nederland besit en bestuur, het Rutte vergesel.

Daarbenewens het sowat 15 private maatskappye ook deel gevorm van die afvaardiging. Frederiksen is deur ’n hoëvlak-sake-afvaardiging vergesel.

Rutte het na sy besoek aan Namibië op Twitter gesê die lande het baie om mekaar te bied. Namibië beoog om ook ’n leidende rol in die groenwaterstofsektor te speel. En saam wil Denemarke en Nederland ’n leidende rol in die energie-oorgangsproses speel.

“Ons het saam met maatskappye en instellings na Namibië gereis om ons samewerking oor groen waterstof te versterk. Namibië sal daarby baat, en ons ook. Maar die belangrikste van alles: Die planeet sal baat.”

Rutte het gesê daar is natuurlik ook ander onderwerpe bespreek, soos Rusland se oorlog in Oekraïne, en gesê dit is belangrik om met lande buite Europa en Navo hieroor te praat.

Rutte se reis eindig vandag (Woensdag) in Marokko. In Rabat sal hy ’n vergadering met sy Marokkaanse eweknie, Aziz Akhannouch, hou om die versterking van ekonomiese bande tussen die twee lande, migrasie en streekveiligheid te bespreek.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top