Nederland en rugby

  • 0

As daar nou een ding is wat alle vertrektes uit Suid-Afrika na hunker, is dit cream soda, boerewors, biltong, NikNaks en natuurlik sport. Ons Suid-Afrikaners is gek na rugby en sonskyn. Goed, kom ons wees eerlik: hier is nie baie son nie en daaraan kan ons nie veel doen nie, maar ek het wel rugby hier ontdek.

Ek en my beter helfte van 26 jaar se getroude lewe (dit voel langer) het Februarie 2016 na Nederland verhuis en vier maande later, ná die inburgering en "wittebroodfase" verby was, koffie gedrink en pannekoek geëet by Zaanse Schans (die meeste toeriste besoek hierdie gebied omdat dit ’n werkende museum is met baie windmeulens). Terwyl ons daar was, het ek rugbypale aan die oorkant van die pad gesien. Soos ons maar doen, het ek die naam gekry en kontak gemaak. Die daaropvolgende naweek ’n wedstryd gaan kyk en ’n paar bevele van die kant gegee. Die volgende week is ek gevra om Zaandijk vir die volgende seisoen (2016–2017) te help afrig. Belangrik om te noem dat ek glad nie gedink het dat ek weer met rugby betrokke sou word nie.

Zaandijk is ’n voorstad van Zaandam, wat ongeveer 20 minute van Amsterdam geleë is. Die klub is baie klein en is maar drie jaar oud. Ons was die eerste span wat op die nuwe velde met ’n klubhuis gespeel het. (Eintlik ’n "hand-me-down van ’n voetbal- (sokker-) klub wat verhuis het.) Ek het begin met 19 spelers en ons het in die 3de divisie Noord gespeel. Daar was 12 spanne in die liga en ons het baie hard gewerk om ’n merk te maak. Die meeste van die senior spelers werk tot laat en kom dan oefen. Ons het soms in die sneeu geoefen, wat my natuurlik totaal gek gelaat het. Ons sien sneeu net op Kerskaartjies! Wedstryde word op Sondae gespeel, wat ook vir my nuut was. Om rugby te bevorder moet daar met die jeug begin word. Die jeug het van 12 tot 38 gegroei en die seniors tot 34. Ons het ’n baie goeie seisoen gehad en 3de op die ranglys geëindig. Ek is oortuig dat hulle hierdie seisoen na die 2de liga sal promoveer.

In diep gesprek met my span. My passie!

’n Nuwe fase het met die Amsterdam 7’s vir my begin toe ek deur ARC (Amstelveense Rugby Club) genader is as hoofafrigter vir die 2017-2018-seisoen. (Rugbyseisoen is hier van September tot Mei.) Ja, ons is in die noordelike halfrond geleë en dit beteken dat ons middelwinter wedstryde speel. Dit is nie koud nie, dit is m... koud.

Amstelveen is ’n voorstad van Amsterdam en word gereken as een van die groter klubs in Nederland. Hulle het die meeste van hul bestaan in die Ereklasse (liga) gespeel en verlede jaar afgegradeer na die 1ste liga. Ek was getaak om hulle weer tot by die Ereklasse te kry. Die klub bestaan uit 550 spelende en niespelende lede van jonk tot baie oud. Die klub het ’n pragtige nuwe klubhuis en ’n ryke geskiedenis wat oor 55 jaar strek. Wedstryde word baie goed bygewoon en is op die meeste se kalender aangedui. Na wedstryde is die klub oop en word daar tot laat gekuier. Wat vir my steeds opvallend is, is dat van klein tot groot met hulle fietse daar aankom – reën, mooiweer of sneeu.

Soms oefen ons tot in die sneeu!

Ek het ’n baie groot taak gehad om die spelers te motiveer om hul beste te gee om weer in die Ereklasse te kan speel. Ons het reeds in die voorseisoen begin en fiksheid in die Amsterdamse bos gedoen onder leiding van ’n fiksheidsinstrukteur. Ek het stelselmatig begin met vaardighede en daar is gekyk na posisionele spel en ook spantemperament en samespel.

Die liga waarin ons speel, is ’n baie moeilike en fisieke liga omdat almal in hierdie liga na die Ereklasse wil promoveer. My siening is dat hoe harder ons oefen hoe makliker speel ons. My spelers het dit aanvaar en werk ongelooflik hard daaraan om so professioneel moontlik te wees rondom alle fasette van rugby.

Ons oefen op Dinsdae en Donderdae. Ons maak gebruik van nog ’n Suid-Afrikaner, Marius, wat ons wedstryde op video opneem en ontledings doen. Dit is van onskatbare waarde. Foute word uitgewys en word aangespreek, asook nuwe taktiek en wedstrydbeplanning. Ons oefeninge word vooruit beplan en tyd word optimaal gebruik.

Tydens ’n wedstryd. Langs my is die teenstanders se afrigter.

Ons het reeds 11 ligawedstryde gespeel en is sover onoorwonne. Van die ouer garde vertel dat dit die eerste keer in 49 jaar is dat soveel wedstryde na mekaar gewen word. Hierdie oorwinnings plaas ons onder die top 12 spanne in Nederland. Ons is dankbaar vir al die ondersteuning en dit kan gesien word in die aantal ondersteuners wat die tuiswedstryde en ook wegwedstryde bywoon. Die joligste bus terug is die ondersteunersbus! Daar word oormatig gevier met bier en "borrel".

Rugby is nog maar in sy kinderskoene en het net ongeveer 6 700 senior spelers en 7 800 jeugspelers, met 85 klubs. Ek is baie bevoorreg om deel te wees van die toekoms van hierdie pragtige sport in Nederland.

Indien ek gekontak wil word, kan ek by deonduplessis1967@gmail.com opgespoor word.

My droom: om hierdie seisoen op ’n hoë noot af te sluit en om in die Ereklasse ’n krag te wees.

Groete uit ’n koue en nat Nederland.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top