Nederland se koningshuis besoek Suid-Afrika

  • 0

Suid-Afrika en Nederland het die afgelope week die bande tussen die twee lande verder versterk tydens die Nederlandse staatsbesoek van koning Willem-Alexander en koningin Máxima.

Die koninklike egpaar het Woensdag vir ’n ampsbesoek in Suid-Afrika aangekom. Dit volg op ’n besoek in Junie deur die vorige Nederlandse eerste minister, Mark Rutte.

President Cyril Ramaphosa het tydens Donderdag se amptelike samesprekings met koning Willem-Alexander gesê Suid-Afrika en Nederland het lang gevestigde historiese bande wat teruggaan na die aankoms van die eerste Nederlandse setlaars in die Kaap in 1652.

Ramaphosa het in sy toespraak gesê die sterkte van die twee lande se bilaterale betrekkinge vandag en die bande tussen die onderskeie volke weerspieël ’n verbintenis om die ongeregtighede van die verlede te erken en te konfronteer.

Hy sê meer as 200 jaar sedert die Nederlanders soewereiniteit van die Kaap afgestaan ​​het, is daar ’n aantal Nederlandse invloede wat steeds ’n belangrike rol speel in die kulturele en linguistiese lewe van baie Suid-Afrikaanse gemeenskappe.

“Die Afrikaanse taal het baie van sy oorsprong in Nederlands en is die derde mees gesproke landstaal van Suid-Afrika. Ons land se Moslem-gemeenskap kan sy oorsprong naspeur na die aankoms in 1658 van vrye arbeiders en politieke ballinge uit die destydse Nederlands-Oos-Indië. Daar is duidelike Nederlandse invloede in die kookkuns en gebruike van ons land.”

Ramaphosa het ook erkenning gegee aan die verskoning wat koning Willem-Alexander gemaak het vir Nederland se rol in die slawehandel, insluitend in Suid-Afrika. Hy het gesê dit is ’n belangrike stap in die rigting van die bevordering van versoening, herstel en genesing van ou wonde.

Ramaphosa het ook verwys na die voortslepende konflik tussen Rusland en die Oekraïne en die verwoestende gebeure wat in Israel en Palestina afspeel. Hy sê Suid-Afrika vra vir ’n onmiddellike staking van vyandelikhede tussen die strydende partye en dat die beginsels van die internasionale reg gehandhaaf moet word. Die internasionale gemeenskap het volgens hom ’n verantwoordelikheid om te help om gunstige voorwaardes vir onderhandeling en dialoog te bewerkstellig.

Nederland beoog om samewerking met Suid-Afrika te verbeter op die gebiede van groenwaterstoftegnologie en hernubare energie.

Nederland is een van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote. Die totale handel tussen die twee lande het tussen 2019 en 2022 verdubbel en Nederland bly een van die belangrikste beleggers in Suid-Afrika. Suid-Afrika is ook ’n toonaangewende bestemming vir Nederlandse toeriste.

Die staatsbesoek is gemik op bevordering van die goeie betrekkinge en ’n gelyke vennootskap tussen die twee lande. Suid-Afrika is vir Nederland een van die belangrikste vennote op die Afrika-vasteland op ekonomiese, politieke, kulturele, opvoedkundige en wetenskaplike gebied.

Nederland se koningshuis sê op hulle webwerf Nederland en Suid-Afrika werk aktief saam aan oplossings vir ’n regverdiger, meer inklusiewe en volhoubare toekoms. “Vanuit die gedeelde geskiedenis word vooruitgekyk na ’n gesamentlike toekoms op grond van gelykwaardigheid.”

Gelyktydig met die staatsbesoek het daar, onder leiding van minister Adema van Landbou, Natuur en Voedselkwaliteit ook ekonomiese gesprekke plaasgevind op die gebied van toekomsgerigte land- en tuinbou, groen waterstof en sirkulêre afvalverwerking.

Die koning en sy gade het Woensdag, die eerste dag van hulle besoek, ook tyd ingeruim om die Jakarandastad se jakarandabome te bewonder wat tans in volle blom is. Wanneer die jakarandas in Pretoria blom, kleur die bloeisels die strate letterlik pers.

Die eerste dag is afgesluit met ’n ontmoeting met die Nederlandse gemeenskap in Suid-Afrika by die Nederlandse residensie in Pretoria. Die koning het  ’n kort toespraak gehou, waarna Nederland se volkslied gesing is.

Donderdag het die koninklike paar ook Freedom Park besoek, wat deur die voormalige president Thabo Mbeki as ’n gedenkterrein opgerig is vir alle Suid-Afrikaners wat alles gegee het in die stryd vir vryheid en menswaardigheid in Suid-Afrika, insluitende die stryd teen apartheid en vir ’n vry Suid-Afrika.

Die egpaar het ’n krans by die gedenkmonument gelê en die besoek afgesluit met ’n besoek aan ’n foto-uitstalling deur fotograwe wat getuies van die stryd teen apartheid was.

Hulle sluit hul staatsbesoek vandag (Vrydag) in Kaapstad af waar hulle deur die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, onthaal sal word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top