Parlementslede van Nederland, België en Duitsland is die afgelope week deur ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging van die vakbond Solidariteit gevra om politieke druk op Suid-Afrika se regerende party, die ANC, te verhoog.
Daar is afsprake met sestien parlementslede én politici van nege lande in die Europese, die Nederlandse en die Vlaamse parlement, vasgemaak. Die Duitse, Oostenrykse en Hongaarse parlemente, parlementslede en politici is reeds besoek.
Solidariteit sê in ’n verklaring daar is besoek afgelê by politieke partye oor die hele spektrum. Dié besoeke sluit in ’n besoek aan lede van die regerende VVD-party in Nederland, die N-VA, wat die grootste politieke party in Vlaandere, België is, én die Christen-Demokrate van Duitsland.
Daar is Dinsdag en Woensdag gesprekke gevoer met lede van verskeie politieke groeperinge in die Europese parlement, met die doel om die Europese Unie aan te moedig om standpunt in te neem oor sake soos grondonteiening sonder vergoeding, raswette, korrupsie en die staatsverval in Suid-Afrika.
’n Klag is ook Woensdag teen die Suid-Afrikaanse regering se raswette by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) in Genève, Switserland ingedien. Die klag fokus spesifiek op rassewetgewing soos van toepassing in die werkplek.
#InDieNuus
Solidariteit het Woensdag 'n klag teen die regering se raswette by die Internasionale Arbeidsorganisaie (IAO) in Genève, Switserland, ingedien. @SolidariDirk @maroelamedia https://t.co/Cp7ZLIJPv8— Solidariteit (@solidariteit) October 7, 2021
Hierdie klag volg kort nadat Solidariteit ’n klag teen die regering by die Verenigde Nasies se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie (CERD) ingedien het.
“Ons is verras oor die ontnugtering wat Europa oor Suid-Afrika ervaar. Die aantal parlementslede wat ons wil sien, het só toegeneem dat ons ons afvaardiging moet opdeel om almal te kan sien. Die aantal vriende van die Solidariteit Beweging het ook baie gegroei,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.
Die doel van die besoeke is volgens Solidariteit om Europa in te lig oor die stand van sake in Suid-Afrika. Daar word op anargie, sistemiese korrupsie, die gebrek aan vervolging, staatsverswakking, onteiening sonder vergoeding en “rasmalheid” gefokus.
Europese parlementslede word ook versoek om mosies by hulle onderskeie parlemente teen staatsvergrype en “rasmalheid” in te dien. Solidariteit sê hulle wil die gesprek oor Suid-Afrika op die Europese agenda hou en diplomatieke druk op die land verhoog.
“Suid-Afrika is nie geïsoleer nie en het ’n oop ekonomie. Buitelandse druk is noodsaaklik om te help keer dat die regering nie voortgaan met beleid wat beleggers se vertroue skaad nie. Die besoek is nie onpatrioties nie, maar juis daarop gerig om die regering in Suid-Afrika te verbeter. Die buitelandse besoek is eerder ’n bevestiging dat ons ernstig is om die voorwaardes te skep om in Suid-Afrika te kan bly. Die manier hoe die regering regeer is onpatrioties en moet gestop word,” het Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling van die Solidariteit Beweging gesê.
Die klag by die IAO is ingevolge Resolusie 111 van dié organisasie gebring. Dié resolusie verbied rassediskriminasie. “Suid-Afrika oortree hierdie resolusie op talle vlakke. Die beleid van absolute rasseverteenwoordiging lei daartoe dat regstelling niks meer met regstelling te doen het nie, maar alles met ras. Dit bring ook mee dat die regstelling permanent is,” het Hermann gesê.
Die Solidariteit-klag steun ook sterk op die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se gelykheidsverslag wat bevind het dat die Wet op Billike Indiensneming nie aan grondwetlike en internasionale verpligtinge voldoen nie.
Solidariteit versoek die IAO se komitee van kundiges om onder meer aan te beveel dat Suid-Afrika ’n genuanseerde benadering tot regstellende aksie moet volg. Solidariteit versoek die komitee voorts om aan te beveel dat ras nie die bepalende faktor moet wees nie. Solidariteit voer ook aan dat Suid-Afrika se wiskundige benadering tot regstellende aksie tot verskillende regte vir verskillende groepe lei.
“Suid-Afrika is die mees rasgereguleerde land in die wêreld. Ons durf nie toelaat dat dit normaal raak nie. Internasionale resolusies en klagte help om ’n internasionale spieël voor die abnormaliteit van die Suid-Afrikaanse rassebedeling te hou,” het Hermann gesê.