Nederlandse boere bedreig deur onteiening

  • 0

Foto: Roy Buri | Pixabay

Volgens ’n verslag van die regeringsorganisasie Planbureau voor de Leefomgeving werk die kabinet in Nederland aan planne om honderde boere te onteien om stikstofuitlaatgasse in bedwang te bring.

Die NOS berig dat ‘n groot deel van die nasionale begroting volgens twee planne op die tafel vir onteiening en herbestemming geoormerk sal word. Die eerste plan, wat sowat €30 miljard (sowat R500 miljard) gaan kos, fokus op die vermindering van stikstof deur middel van ’n opkoopreëling en tegniese maatreëls en dat landbou waar nodig uitgebrei word. Dit kom neer op meer grond en minder vee. Die tweede plan fokus op die vermindering van stikstof deur middel van opkoopreëlings van die melkvee-, vark- en pluimveestapel. Dié plan is ongeveer die helfte goedkoper. Daar word voorsien dat ongeag op watter plan besluit word, die begrotings van 2022 tot 2030 daarvoor voorsiening moet maak.

Die landbousektor is die grootste sondaar in die produksie van stikstof, wat groot nadele vir die natuur inhou. As gevolg van die hoë stikstofproduksie in die sektor moes ander sektore afgeskaal word, soos die bousektor, en Nederland sit reeds met ’n groot tekort aan behuising. Daar word egter nie verwag dat enige van die planne voor Prinsjesdag ’n werklikheid sal word nie. Prinsjesdag is die dag waarop die koning sy troonrede lewer, wat die opening van die Eerste en Tweede Kamer van die jaar inlui.

Op sosiale media is dit egter duidelik dat boere nie te vinde is vir onteiening nie. Hulle glo dikwels nie dat die stikstofkrisis so erg is nie en voel al jare lank dat die regering hulle in die steek laat.

Nederland is een van die grootste landbouprodusente ter wêreld.

Druk neem toe op Tata Steel in IJmuiden

Die Rijksinstituut voor Gezondheid en Milieu, die RIVM, het die afgelope week bekend gemaak dat die besoedeling wat Tata Steel in IJmuiden veroorsaak, ’n ernstige bedreiging vir die gesondheid van kinders inhou. Dit is reeds bekend dat mense wat in die gebied woon, ’n groter kans het om longkanker te ontwikkel en inwoners kla gereeld oor benoudheid en seer oë. Die provinsie Noord-Holland, waar die staalfabriek geleë is, het sy kommer uitgespreek oor die verslag en wou weet of dit enigsins toegelaat kan word dat die fabriek kan bly voortbestaan. “De grenzen zijn bereikt en er zijn forse keuzes nodig,” sê ’n woordvoerder van die provinsie, Jeroen Olthof.

Ernstige risiko

Volgens die RIVM neem die konsentrasies gevaarlike stowwe toe hoe nader ’n mens aan die fabriek kom. Op sommige plekke is die konsentrasies selfs 100 keer hoër as in gebiede sonder staalaanlegte. Inwoners van die omgewing kla al jare oor die besoedeling en die stof op vensterbanke, tuine en motors op straat. Dit is ook bekend dat Tata Steel die grootste bron van koolsuurgasuitlaatgasse in Nederland is. Tata Steel sê egter hy het reeds honderde miljoene belê om besoedeling te bekamp. So is spesiale filters geïnstalleer om grafietreën te beperk.

Het die staalreus nog ’n toekoms?

Die toekoms van die fabriek, wat deur dieselfde Indiese maatskappy besit word wat destyds Yskor in Suid-Afrika oorgekoop het, word vandeesweek in die Tweede Kamer gedebatteer. Daar word gevrees dat miljarde in euro nodig is om die bedryf volhoubaar te maak. En dit is juis waar die probleem lê. Tata Steel wil die fabriek verkoop, en verdere aanpassings is dus nie op die agenda nie, maar die enigste belangstellende, die Sweedse SSAB, het hom aan die transaksie onttrek en geen ander koper het nog te voorskyn gekom nie.

Verligting vir slagoffers van oorstromings in België

Die Vlaamse regering en versekeraars het ooreengekom dat die skade wat deur die oorstromings in Julie veroorsaak is, volledig vergoed sal word. België is in die week van 14 tot 16 Julie deur ongekende oorstromings in veral die provinsie Limburg getref. Die skade word op sowat €120 miljoen (sowat R2 miljard) geraam. Om te verseker dat versekeraars solvent bly, maak die wet voorsiening vir ’n plafon op uitbetalings in die geval van natuurrampe. Volgens die ooreenkoms met die regering sal versekeringsmaatskappye egter meer bydra as wat die wet voorskryf, en die regering sal die res dek. “Als overheid dekken we het verschil, zodat niemand in de kou blijft staan,” sê die Vlaamse minister-president Jan Jambon.

Mense wat eise wil indien, het nog tot die einde van September om dit te doen. “De Vlaamse regering legt de laatste hand aan de officiële erkenning van de watersnood als ramp, zodat burgers, landbouwers en openbare instellingen hun schade, die niet valt onder de brandverzekering, kunnen melden bij het Vlaams Rampenfonds,” sê Jambon.

Eerste elektriese skip vaar Nederland binne

Die eerste elektries aangedrewe vragskip het Maandag goedere van Alphen aan den Rijn na Moerdijk begin verskeep. Sowat 100 vraghouers met bier gaan daagliks met die skip vervoer word. Die skip is ontwikkel deur Zero Emission Services (ZES) in Rotterdam. Die bedryf het dit ten doel om skeepvervoer volhoubaar, skoon en ekonomies te hou. “Weg met vervuilende stookolie dus,” sê ’n woordvoerder van ZES. Binnelandse skeepvervoer dra maar ’n geringe deel by tot Nederland se algehele koolsuurgasuitlaatgasse van die vervoersektor, maar samewerking in die sektor is steeds noodsaaklik om klimaatdoelwitte te bereik, aldus ZES.

Een van die vraghouers aan boord van die skip is met batterye gevul. Wanneer die skip sy volgende bestemming bereik, word die houer met pap batterye verwyder en ’n houer met gelaaide batterye word opgelaai. Daar is dus geen gewag vir batterye om te laai nie.

Elektriese vaartuie is nie nuut nie en kom by veerbote in Amsterdam en kleiner seeskepe voor, maar dit is die eerste keer dat die tegnologie vir vragskepe ingespan word, sê Jorrit Harmsen, konsultant vir duursame skeepvaart by TNO.

Ander oplossings vir die aandrywing van skepe word ook ondersoek, aangesien batterye ook nadele inhou, byvoorbeeld dat dit net gebruik kan word waar die bestemming oor ’n oplaaigerief beskik. Gevolglik word ook waterstof en metanol ondersoek, sê Harmsen.

COVID-19 belemmer die heropening van skole

Die skole het so pas weer ná die vakansie begin, maar sommige klasse staan al klaar weer leeg. Die huidige beleid rakende COVID-19 bepaal dat hele klasse huis toe gestuur word as een leerder positief vir COVID-19 getoets het. Die kommissie wat die virusuitbreking moet bestuur, die OMT, wil egter dat die maatreël vanaf 20 September geskrap word, berig Trouw. Volgens die voorsitter van die Vereniging voor Kindergeneeskunde en lid van die OMT, Károly Illy, is dit meer wenslik dat slegs kinders wat in noue kontak met ’n besmette kind gehad het, tuis bly. Illy sê die huidige maatreëls is betreurenswaardig. “Dat zorgt voor ongelofelijk onhandige en onwenselijke situaties met leerachterstanden, met kinderen die thuis zitten. Als we dat kunnen voorkomen, is dat voor ontzettend veel kinderen heel erg goed nieuws.” Die OMT wil egter ten minste nog twee weke wag voordat die beleid verander word.

Vlermuismusiek

Foto: Milton Webber

Die bekende Christiaan Müller-orrel in die St Bavo-kerk in Haarlem ondergaan tans ’n deeglike skoonmaak nadat die stadsraad van Haarlem ingestem het om geld vir die werksaamhede beskikbaar te stel. Die orrel uit 1738 het dringend ’n skoonmaak en restourasie nodig gehad weens die skade deur vlermuise en die bont knaagkewer, berig die NOS. Die St Bavo-kerk word al jare lank geteister deur dwergvlermuise wat hulle in die kerk tuisgemaak en die orrel bemors het. Volgens die stadsorrelis, Anton Pauw, is oppervlakkige skoonmaak van die orrel eintlik heel eenvoudig met ’n nat lap, maar die frontpype sal verwyder moet word en verg skoonmaak deur ’n spesialis. In hierdie geval sal dit deur die bekende orrelboufirma Flentrop behartig word. Tegniese foute sal herstel word en die houtwerk sal vir insekskade nagegaan en indien nodig herstel word. Tydens die skoonmaakproses sal die orrel steeds klank lewer, maar die publiek sal merk dat die frontpype weg is. Gelukkig is daar nog ’n groot deel van die orrel wat wel speelbaar is. Die vlermuise word nou na ’n ander deel van die kerk gelok en hopelik sal hulle voortaan daar bly. Die orrel is een van die bekendstes in Nederland en selfs die wêreld. Daar word vertel dat Mozart tydens ’n besoek aan Haarlem die orrel bespeel het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top