Nelson Mandela-plein, Sandton

  • 0

Alle foto's deur die skrywer

Woensdag 25 Julie tot Vrydag 27 Julie 2018 was ’n belangrike tydperk op Suid-Afrika se ekonomiese en finansiële kalender. Die leiers van die BRICS-lande het in Sandton, Johannesburg byeengekom vir die 10de BRICS-spitsberaad. Die akroniem BRICS staan vir die vyf lande waaruit BRICS bestaan: Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika. Ten spyte van al die kritiek teen die voormalige president, Jacob Gedleyihlekisa Zuma, Suid-Afrika se derde demokraties-verkose president, was dit juis te danke aan sý administrasie dat Suid-Afrika lidmaatskap tot BRICS verkry het. Dit was egter Zuma se opvolger, Matamela Cyril Ramaphosa, wat die spitsberaad geopen het en die ander wêreldleiers, onder andere Vladimir Putin, in Sandton verwelkom het.

Daar is in die aanloop tot die spitsberaad berig dat dit bo Suid-Afrika se vuurmaakplek is om die geleentheid ordentlik te reël. Hierdie tipe onnodige Afro-pessimisme laat mens terugdink aan die wêreldrugbybeker- en wêreldsokkerbekertoernooie, toe menigtes die land se vermoë om hierdie tipe geleenthede aan te bied, bevraagteken het. Suid-Afrika het egter bewys dat ons daartoe in staat is om wêreldklas geleenthede te reël. Die onlangse BRICS-spitsberaad was geen uitsondering nie. Die Suid-Afrikaanse dagblaaie en poniekoerante het baie deeglike dekking van die geleentheid gegee en Times Live het berig dat China se Xi Jinping $14,7 miljard in die Suid-Afrikaanse ekonomie belê het. Uiteindelik het Ramaphosa se regering in Julie altesaam $35 miljard ingesamel! Dit sal daarom interessant wees om te sien in watter rigting die Suid-Afrikaanse ekonomie in die volgende paar jaar ontwikkel, en wat die uitwerking van die onlangse gebeure by die BRICS-spitsberaad gaan wees.

Dit was daarom geen verrassing dat dit weens streng veiligheidsmaatreëls vir ’n gewone besoeker byna onmoontlik was om gedurende die beraad Sandton City, die hartjie van Suid-Afrika se finansiële spil, te besoek nie. Gelukkig het my besoek aan Sandton City plaasgevind toe die beraad byna verby was, en kon ek daarom tot my vreugde ’n artikel oor hierdie baie energieke en dinamiese plek skryf.

Nelson Mandela-plein in Sandton City, Suid-Afrika se mega-inkopiesentrum

Nelson Mandela-plein is ’n plek van matelose aksie en energie. Duisende mense lê besoek af by die standbeeld van Nelson Rolihlahla Mandela, wenner van die Nobelprys vir Vrede en Suid-Afrika se eerste demokraties-verkose president.

Duisende mense kom van regoor die wêreld om aan Nelson Mandela se voete te kom staan. Die standbeeld staan prominent in die Nelson Mandela-plein.

Nelson Mandela-plein is ook die tuiste van verskeie uitmuntende restaurante, en restaurantgangers sal moeilik kan besluit waar om te eet. Al die restaurante, waarvan sommige in hierdie artikel bespreek word, kyk uit op Nelson Mandela-plein.

Daar is verskeie uitstekende restaurante om van te kies. Die Plein is wêreldklas.

Hier kan jy na aan Mandela kom en sien hoe hy sy spesiale "Madiba-dans" doen – die dans wat hy gedoen het toe hy as president verkies is. Die dans is vandag alombekend. Hierdie manier waarop hy gespanne situasies hanteer het, is ’n goeie voorbeeld van wat ons Madiba Magic noem. Hy was lief vir dans en het stadige ritmiese bewegings op maat van die musiek uitgevoer. Daardeur het hy ook ander mense hul litte laat losmaak.

Die 10de BRICS-spitsberaad het ’n week na die 100ste herdenking van Nelson Mandela se geboortejaar (Mvezo, 18 Julie 1918) plaasgevind. Mvezo is ’n klein dorpie op die oewer van die M'basherivier en is naby Mthatha in die Oos-Kaap geleë. Die Mandelas is Mvezo se stamfamilie.

Van alles wat ons van Mandela weet, is dit waarskynlik sy strewe na vryheid van onderdrukking waarvoor hy die meeste onthou sal word. Hy het die volgende stelling in 1964 vanuit die getuiebank tydens die Rivonia-verhoor gemaak:

During my lifetime I have dedicated myself to this struggle of the African people. I have fought against white domination, and I have fought against black domination. I have cherished the ideal of a democratic and free society in which all persons will live together in harmony and with equal opportunities. It is an ideal which I hope to live for. But my Lord, if needs be, it is an ideal for which I am prepared to die.

Suid-Afrika het in Julie dus twee groot geleenthede gevier: Mandela-dag op 18 Julie, en die die BRICS-beraad wat van 25 tot 27 Julie hier aangebied is. Ek het ’n paar mense gevra hoe dit in daardie tyd by Mandela-plein was, en die oorgrote meerderheid het gesê "woes"! Nelson Mandela-plein (voorheen Sandton-plein, waarvan die naam in 1994 na die intrede van demokrasie verander het) is maklik bereikbaar met die Gautrein. Die Gautrein loop na Sandton City, waarskynlik een van Suid-Afrika se mees toonaangewende inkopiesentrums. Die Sandton City-mega-inkopiesentrum het baie om aan die skrander besoeker of toeris te bied – of jy nou op soek is na die nuutste toestel of ’n kristalkraffie. Baie van die bekende handelsname is ook daar te vinde, soos Mango, Zara en die haute couture de luxe-huise Cartier en Louis Vuitton ... om natuurlik nie te vergeet van die meer bekostigbare Mr Price, Stuttafords en Edgars nie. Daar is ’n reuse-restaurantarea met ’n groot verskeidenheid kitskosrestaurante, deli’s en cafés vir diegene wat ’n vinnige happie wil kry om te eet. As jy ander opsies vir ’n lekker maaltyd soek, loop deur Mandela-plein en kyk watter restaurant jou mond laat water. Jy kan terselfdertyd ook by van die winkels inloer, soos by Charles Greig se galery met ongelooflike Afrika-kuns (sien onder). Klik hier vir meer inligting oor Sandton City.

Ultramoderne juweliersware is beskikbaar by Charles Greig se boetiek. Hulle is ook een van die grootste leweransiers van eg Suid-Afrikaanse Ardmore.

Ardmore-keramiekkuns by Charles Greig

Trumps het sy deure oopgemaak in dieselfde tyd toe Sandton-plein die Nelson Mandela-plein geword het. In 2015 is die restaurant herbou en is dit nou op internasionale standaard. Een van hulle spesialiteite is Karan beef. Dié vleis word met groot bedrewenheid op die perseel deur die restaurant se eie slagter rypgemaak.

The Big Mouth bied fusie-cuisine. Dit is werklik op internasionale vlak en jy kon net sowel in Los Angeles of Londen gewees het. Mens kry nie aldag nog Mosambiekse garnale nie, maar hier sal jy moet vra oor die prys, aangesien dit nie aangedui word nie. Daar is ook boerewors teen ’n goeie prys. Boerewors is eie aan Suid-Afrika en kan ten beste beskryf word as ’n liggespeseryde wors.

By Tashas is goeie gehalte altyd gewaarborg. Daar is ’n lekker atmosfeer, vriendelike personeel en maaltye wat prakties is en sin maak. Jy moet goed wees as jy truffel-biefcarpaccio as ’n voorgereg kan aanbied. Die groot kanonne is egter die seebaars, geroosterde garnale en volstruis.Daar is ook ’n verskeidenheid slaaie vir vegetariërs en veganiste.

The Butcher Shop & Grill by Nelson Mandela-plein

Vleisliefhebbers se smake sal by The Butcher Shop & Grill bevredig word. Alhoewel dit die vanselfsprekende keuse vir rooivleis is, bied hulle ook vis- en hoenderdisse. Hulle spog met ’n uitstekende wynlys. Die lendestuk met die been word sterk aanbeveel (sien onder).

The Butcher Shop & Grill is ’n noodsaaklikheid vir elke vleisliefhebber

The Butcher Shop & Grill verkoop egter ook vis en ander heerlike disse vir die nievleisetende klant.

Vars oesters en Noorweegse salm

By Hard Rock Cafe kan jy vars, smaaklike Amerikaanse disse geniet. Dit is die perfekte plek om van die gejaagdheid van hierdie Afrikastad te ontsnap.

Septimo was nie oop toe ek die navorsing vir die artikel gedoen het nie, maar lees hier meer oor dié restaurant: http://www.eatout.co.za/venue/septimo-italian-restaurant.

Wangthai in Sandton bedien outentieke Thai-disse. Die restaurant is ruim uitgelê en het ’n groot balkon wat uitkyk oor die Plein en wat ideaal is vir al fresco-etes. Daar is op die spyskaart ’n verskeidenheid aanloklike disse wat keurig met onder andere sitroengras, soetrissie en tamaryn gegeur is.

Piccolo Mondo bied die elegante restaurantganger en fynproewer die geleentheid om die beste Italiaanse en internasionale disse saam met goeie wyn (’n keur van Suid-Afrika se beste wyn teen bekostigbare pryse) te geniet.

Dan is daar die Michelangelo Hotel self. Dis amper asof die kunstenaar in sy ateljee in Florence self gehelp het om die gebou te ontwerp.

Een van die ingange van die Michelangelo Hotel

In die foyer van die elegante Michelangelo Hotel

Die arkade van die Michelangelo is in die Renaissance-styl gebou. Ek is seker Michelangelo self sou hier baie tuis gevoel het.

Bukhara reg langs die Mandela-plein bedien Noord-Indiese geregte.

Die Michelangelo bedien uitstekende wyne.

Die sagte skakerings van die Lounge-area in die Michelangelo Hotel laat jou op jou gemak voel.

Cilantros is ’n lieflike eetplek met baie opsies. Dit is hier waar ek op uiteindelik aandete geëet het. Hier onder is foto's van die garnale en die souse wat daarmee saam bedien word. My ervaring was genotvol en die kos was uitstekend.

Na my ervaring daar vind ek die beskrywing van die restaurant uiters toepaslik: “Cilantros combines its city roots with a European sensibility and has a contemporary, trendy and casual approach in a bustling environment.”

Toe ek van die Nelson Mandela-plein af terugkeer na my blyplek in Johannesburg, het ek gevoel asof ek meer tyd daar moes spandeer het. Maar die tyd stap aan, en by Sandton City hardloop dit! Ek gaan beslis terugkeer vir die garnale by Cilantros.

Buro: LE
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top