Nelson Mandela se huis word ’n luukse hotel

  • 0

Detail uit Sanctuary Mandela se webruimte, besoek https://www.sanctuarymandela.com/

Die geskiedkundige huis waar Nelson Mandela die laaste jare van sy lewe deurgebring het, is nou ’n luukse museumhotel waar gaste kan tuisgaan.

Die voormalige president se herehuis in Johannesburg se spogwoonbuurt Houghton word besit deur die Nelson Mandela-stigting, ’n niewinsgewende organisasie wat in 1999 deur Mandela gestig is.

Die stigting fokus op Mandela se nalatenskap en wil sy lewenslange visie van vryheid en gelykheid vir almal bevorder. Die huis is reeds verlede jaar in ’n hotel omskep, maar kon as gevolg van die grendelstaat nou eers behoorlik op dreef kom.

Sanctuary Mandela, soos dit nou genoem word, was Madiba se eerste huis in Johannesburg nadat hy ná gevangenisstraf van 27 jaar vrygelaat is. Hy het na 1992 op die perseel gewoon en verskeie wêreldbekende mense daar ontvang, onder andere die voormalige Amerikaanse president Bill Clinton en supermodel Naomi Campbell.

Ander beroemde besoekers oor die jare het Michael Jackson, Oprah Winfrey, die basketballegende en Vigs-aktivis Magic Johnson, en die voormalige sokkerspeler en huidige president van Liberië, George Weah, ingesluit.

Sanctuary Mandela word namens die stigting deur Motsamayi Tourism Group (voorheen Thebe Tourism Group) en Miarestate bestuur. Motsamayi Tourism, wat in 2001 gestig is, is die oudste swartbemagtigde Suid-Afrikaanse toerismegroep en het ’n beduidende portefeulje in toerisme-aantreklikhede, verblyf en ervarings. Die groep word volgens die hotel se webwerf wêreldwyd erken en gerespekteer vir die skep, samestelling en viering van Afrika se ikoniese bestemmings.

Die voormalige woonplek en huidige sakeonderneming is ’n lewende galery ter ere van die politieke leier en wêreldbekende ikoon wat in 2013 op 95-jarive ouderdom oorlede is.

Sanctuary Mandela bied nie net verblyf nie, maar beskik ook oor ’n restaurant met ’n Mandela-geïnspireerde spyskaart. Die mure regdeur is versier met memorabilia as huldeblyke aan Suid-Afrika se eerste swart staatshoof.

Daar is nege kamers, maar besoekers sal hul hand diep in die sak moet steek om daar te oornag.

Die hotel se webwerf beloof om elke ervaring onvergeetlik te maak. Die gaste sal in elke kamer iets persoonlik van Mandela se lewe ervaar, insluitend foto’s en briewe van belangrike herinneringe van Madiba se lewe, sowel as subtiele verwysings na sommige van die historiese oomblikke waarby hy betrokke was.

Vir die presidentsuite sal gaste R15 000 per nag moet opdok en die goedkoopste kamer is die Deluxe Studio teen R4 000 per nag.

Gaste kan ook maaltye geniet wat deur Mandela se gunstelinggeregte geïnspireer is. Een van die mense wat hierdie disse voorberei, is Xoliswa Ndoyiya, wat al meer as 22 jaar vir Mandela en sy gesin kook.

“Jy kon nie verkeerd gaan met Tata [Mandela] wanneer jy vir hom groente gee nie, maar dit moes ’n verskeidenheid groente wees, want hy sou jou vertel daar moet kleur van die groente op die bord wees,” het Xoliswa aan Reuters gesê. “Hy was baie lief vir beesstertbredie waarvan ons nou 'n ravioli maak om te eet.”

Xoliswa is ook bekend daarvoor dat sy van die beste Mandela-stories kan vertel.

Sanctuary Mandela bevat ook elemente van die oorspronklike huis en is deurdrenk met geskiedenis.

Madiba en lede van sy gesin het tussen 1992 en 1998 in die Houghton-huis gewoon, waarna dit tot 2002 die hoofkwartier van die Nelson Mandela-stigting geword het. Hy was daar woonagtig terwyl hy onderhandel het oor die veelpartygesprekke wat tot Suid-Afrika se demokratiese bestel gelei het, en het ook tot sy afsterwe na sy termyn as president daar gewoon.

Die hotel se webwerf kan hier besoek word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top