Nelson Mandela se tronksleutel op pad terug na Suid-Afrika

  • 0

Die sleutel van oudpresident Nelson Mandela se tronksel waarmee hy op Robbeneiland agter tralies gehou is, is op pad terug Suid-Afrika toe nadat dit byna ten duurste in die buiteland opgeveil is.

Die sleutel vir die tronksel waar Mandela 18 van sy 27 jaar in gevangenskap deurgebring het, sou op 28 Januarie deur die Amerikaanse veilinghuis Guernsey’s opgeveil word.

Planne om die sleutel op te veil is laat vaar toe die Suid-Afrikaanse regering daarteen beswaar gemaak het.

Suid-Afrika voer aan dat die sleutel deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis is en aan die land behoort.

Die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, het in ’n verklaring gesê die sleutel simboliseer Suid-Afrika se pynlike geskiedenis, terwyl dit ook die triomf van die mens se gees oor die bose verteenwoordig.

“Hierdie sleutel is ’n lewende bewys van Suid-Afrikaners se lang pad na vryheid en behoort aan die mense van Suid-Afrika. Dit moet dus met reg na die land terugbesorg word.”

Mthethwa sê die afslaers het onderneem om te reël dat die sleutel in oorleg met die relevante regeringsowerhede op ’n gepaste tyd aan Suid-Afrika terugbesorg word.

Hy sê Guernsey’s het ook ingestem om die verkoop van verskeie ander items wat aan Mandela behoort het, te staak. Volgens die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (Sahra) is die betrokke items alles glo deel van die land se nasionale erfenis.

Die items wat opgeveil sou word, het ook Mandela se oorspronklike skildery The Lighthouse, Robben Island ingesluit, asook die oefenfiets wat hy in die tronk gebruik het en ’n tronktennisraket.

Mthethwa sê Sahra moet die Mandela-familie en die Nelson Mandela-stigting betrek om vas te stel of die ander items wat vir die veiling bedoel is, ook deel van die nasionale erfenis vorm.

Guernsey se president, Arlan Ettinger, het vroeër in ’n onderhoud op CNN se Michael Smerconish se SiriusXM-podsending besonderhede gedeel van die items wat oorspronklik op die veiling geplaas is.

Ettinger het gesê die sleutel, oefenfiets en tennisraket was voorheen in besit van Christo Brand, ’n tronkbewaarder wat later goeie vriende met Mandela geword het.

Ettinger het ook besonderhede gedeel van die ander items wat voorheen opgeveil is wat deur die Mandela-familie aan Guernsey’s gegee is. Dit sluit in die hemp wat Mandela gedra het toe hy uit die tronk vrygelaat is, ’n kombers wat deur die voormalige Amerikaanse president Barack Obama en presidentsvrou Michelle Obama aan Mandela geskenk is, en ’n houtskooltekening van ’n gebreekte ketting wat deur Mandela onderteken is.

Guernsey’s sê op sy webwerf sy Nelson Mandela-veiling word vir eers uitgestel aangesien Sahra die ander stukke wat op die veiling aangebied word, hersien.

Dit is nog onduidelik of die afslaershuis beplan om voort te gaan met die verkoop van die res van die items wat Mandela se familie aanbied.

Volgens Mthethwa is die suksesvolle opskorting van die beoogde veiling moontlik gemaak deur ’n interdepartementele span met relevante agentskappe. Dit het die Departement van Sport, Kuns en Kultuur ingesluit, die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste, asook Sahra, die Robbeneiland-museum, die kantoor van die prokureur-generaal en die kantoor van die staat se hoofregsadviseurs.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top