Nelson Mandelabaai spook om water in die krane te hou

  • 0

Met enkele dae oor voordat die water in die Nelson Mandelabaai-metro se krane heeltemal kan opdroog, word daar nou 24 uur sonder ophou gepoog om die watervoorsieningskrisis daar te help verlig.

Lekkasies word herstel en nuwe boorgate gesink om te probeer keer dat die stad se inwoners heeltemal sonder water is. Daar word geraam dat minstens 29% van die metro se water weens lekkasies verlore gaan.

Die nieregeringsorganisasie The Gift of the Givers is een van vele rolspelers wat probeer om ’n humanitêre krisis in die metro te voorkom. Hulle het vroeër die week gewaarsku dat die droogtesituasie in die Nelson Mandalabaai-streek so ernstig is dat die krane in Gqeberha binne dae heeltemal kan opdroog.

Gift of the Givers sê hulle bied stadig maar seker waterverligting vir inwoners in Gqeberha, maar hulle pogings alleen is nie genoeg nie. Die droogtesituasie bly erg en kan nie oornag opgelos word nie; en die gebied het twee dae oor voor dag nul bereik word wanneer die krane heeltemal sal opdroog.

Die organisasie het Dinsdag daarin geslaag om sy derde boorgat te boor.

Volgens berigte het waterverbruik die afgelope dae toegeneem, wat verdere druk op die stelsel geplaas het.

Intussen word die stad se munisipaliteit, wat reeds geruime tyd grootskaalse politieke onstabiliteit beleef, uit verskeie oorde daarvan beskuldig dat hulle nie betyds die nodige voorsorgmaatreëls getref het om die krisis te probeer afweer nie.

Martyn Landman, kenner van boorgatboor, het aan Eyewitness News gesê al is die munisipaliteit gekritiseer vir sy hantering van waterinfrastruktuur, kry hulle uiteindelik iets reg. Hulle het nou met ’n volskaalse veldtog begin om lekkasies op te spoor minder as ’n week voordat dag zero ’n waarskynlike werklikheid vir die metro se "rooi sones" word.

"Die ingenieurs en munisipaliteit werk 24 uur per dag. Ek bel hulle in die nag en hulle kom 11-uur of 12-uur in die nag terug na my en gee my terugvoer oor hoe dit gaan," het Landman gesê.

Maar daar word gevrees hierdie pogings kan dalk te min te laat wees. Voorstede in die metro kan sonder lopende water wees wanneer dag nul aanbreek.

Die DA het Woensdag 22 Junie hulle eie inspeksie gedoen van die boorgate wat by St George's Park geboor is.

Die inspeksie het plaasgevind ure nadat Helen Zille, voorsitter van die DA se Federale Raad, die metro besoek en van wanbestuur beskuldig het.

Zille het gesê as twee groot damme, die Churchill en die Impofu, opdroog, het dit die potensiaal om 40% van die inwoners sonder water te laat.

Groot besighede het ook hulle hand in die sak gesteek om by te dra tot Gift of the Givers se pogings om die waterkrisis te help verlig deur nuwe boorgate te sink.

Volgens Daily Maverick  is daar die afgelope week meer as 500 lekkasies herstel, maar daar is meer as 800 nuwe lekkasies aangemeld.

Die metro het vroeër vandeesmaand gesê hul gemiddelde omkeertyd om lekkasies te herstel was 10 dae, maar die meganismes om lekkasies aan te meld het verbeter.

Intussen het Kaapstad, wat ’n paar jaar gelede ’n soortgelyke waterkrisis beleef het, se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, die stad se kundigheid aangebied om te help met die waterkrisis in Nelson Mandelabaai. Hill-Lewis sê alle Suid-Afrikaners is bekommerd oor die krisis, met die vooruitsig dat die metro voor einde Junie sonder water gaan wees.

Die gevreesde dag zero van 2018 is nog vars in die geheue van Kapenaars, aangesien hulle ook ’n verwoestende meerjarige droogte in die gesig gestaar het, maar met goeie beplanning kon verhoed dat daar ’n dag zero aanbreek.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top