Net span stywer om die Zumas

  • 0

Oudpresident Jacob Zuma se seun Duduzane Zuma is onder streng borgvoorwaardes op borgtog van R100 000 vrygelaat tot 24 Januarie aanstaande jaar wanneer hy weer in die hof moet verskyn op klagtes van korrupsie. Sy paspoort is ook ingetrek en hy mag nie die land sonder toestemming verlaat nie.

Die staat het gevra vir uitstel omdat daar nog ’n ander klag van bedrog is waarby hy na bewering ook betrokke is. Verdagte nommer een in die saak, Ajay Gupta, is egter nog op vrye voet in Dubai.

Die jong Zuma wat die afgelope tyd ook in Dubai was, het homself aan die polisie oorgegee toe hy in Suid-Afrika aangekom het vir sy broer se begrafnis.

Sy inhegtenisname is deel van die uitgebreide ondersoek na staatskaping waarby verskeie hoëprofielpersone betrokke is.  Hy word daarvan aangekla dat hy deel was van ’n komplot om die destydse adjunk-minister van finansies, Mcebisi Jonas, by die Gupta-woning in Saxonworld in Johannesburg om te koop. Daar word beweer dat die jong Zuma, die sakeman Fana Hlongwane asook Ajay Gupta in 2015 omkoopgeld van R600 miljoen aan Jonas aangebied het met ’n belofte dat hy ook minister van finansies sou word.

Dit is nie die enigste swaard wat oor die jong Zuma se kop hang nie. Hy moet later die week weer in die hof verskyn op  ’n klag van strafbare manslag.

Dit hou verband met ’n noodlottige ongeluk waarin hy in 2014 betrokke was waartydens ’n vrou dood is. Hy het met sy Porsche teen ’n minibustaxi gebots waar Phumzile Dube op slag dood, en drie ander mense in die ongeluk beseer is.

Zuma het Maandag in voetboeie in die hof verskyn toe sy borgaansoek aangehoor is. Van sy ondersteuners was woedend hieroor en het op sosiale media gesê dit was onnodig aangesien hy homself aan die polisie oorgegee het.

Intussen staar die jong Zuma se pa, oudpresident Jacob Zuma, ook verskeie klagtes van bedrog, rampokkery en geldwassery in die gesig. Hierdie klagtes hou verband met die destydse wapenskandaal in die laat 1990’s, maar Zuma senior hou vol hy is onskuldig.

Die politieke ontleder Piet Croucamp het aan Netwerk24 gesê Zuma junior se verskyning in die hof is dalk die begin van ’n proses om die hele staatskapingsage oop te krap en dat die staat nou die aandag vestig op nog sake wat in die toekoms kan kom.

Daar is reeds ’n regterlike kommissie wat aangestel is om bewerings van staatskaping te ondersoek. Croucamp sê die kommissie se ondersoek kan verskeie ander bewyse aan die lig bring wat in toekomstige staatskapingsake gebruik kan word.

Die afgelope maande was nie ’n goeie tyd vir die Zumas nie. Oudpresident Zuma se ander seun Nhlakanipho Vusi Zuma is skaars ’n week gelede na ’n kort siekbed oorlede. Hy was die jongste van vyf kinders wat Zuma by een van sy talle vroue, Kate Mantsho gehad het en die broer van die bekende ander twee Zuma-kinders naamlik die tweeling Duduzane en Duduzile. Hulle ma Kate het ’n paar jaar gelede haar eie lewe geneem.  Zuma senior het nog ’n stuk of 20 ander kinders by die res van sy vroue.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top