Suid-Afrika se voormalige president, Jacob Zuma, kan reeds dié week gedagvaar word om in die hof te verskyn op verskeie klagtes van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery.
Die leier van die UDM Bantu Holomisa het op Twitter gesê die net span al hoe stywer om Zuma en hy sal op 6 April in die hof verskyn.
Die TV-kanaal eNCA en ander media berig ook dat Zuma op 6 April in die hof sal verskyn op verskeie klagtes.
Die saak teen Zuma hou verband met 783 betalings wat aan hom gedoen is tydens die hoogs omstrede multimiljoenrand wapentransaksie jare gelede.
Die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag Shaun Abrahams het onlangs aangekondig die klagtes wat in 2009 teen Zuma teruggetrek is toe hy president was, gaan weer heringestel word.
Die Valke het ook aangedui dat nog ’n saak van omkopery waarby Zuma na bewering betrokke was hoë prioriteit geniet.
Dit hou verband met ’n ondersoek deur die Valke dat Zuma ’n miljoen rand se omkoopgeld van ’n perlemoensmokkelaar ontvang het in ruil daarvoor dat hy die minister van landbou, bosbou en seevisserye Senzeni Ziwana in sy kabinet moes aanhou.
Die ANC het intussen aangekondig hulle gaan Zuma nie ondersteun in sy verhoor op korrupsieklagtes nie. Lede van die party wat hom goedgesind is, mag hom wel ondersteun solank hulle nie geklee is in kleredrag van die party nie.
Op sosiale media woed daar ’n hewige debat tussen diegene wat wil hê Zuma moet sy dag in die hof kry soos hy gevra het en diegene wat glo hy sal nie ’n regverdige verhoor kry nie en hom ondersteun.
Muzi Mkhulanda het op eNCA se webwerf geskryf dit is nou die tyd om alle krane oop te draai en hand en tand te veg vir Zuma. Hy sê daar is geen kans dat geregtigheid teenoor Zuma sal geskied nie omdat die kapitaliste en onderdrukkers reeds seker gemaak het dat Zuma skuldig bevind sal word. Hy sê Suid-Afrikaners moet daadwerklik help om hom tydens en na sy verhoor te ondersteun.
Nog iemand het geskryf hulle staan vierkantig agter Zuma en dat wit mense hom haat. Die kommentaar het groot reaksie uitgelok.
Zuma-ondersteuners is daarvan beskuldig dat hulle besig is om ’n skurk wat meer as 57 miljoen mense beroof het blindelings te beskerm.
Die sekretaris-generaal van die ANC het gesê enige persoon word as onskuldig beskou totdat die teendeel bewys word, maar die party sal Zuma nie amptelik ondersteun nie.
Hy het na afloop van ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee in Kaapstad gesê lede van die ANC word gemaan om nie enige amptelike ANC-simbole tydens Zuma se verhoor te vertoon nie omdat die ANC nie die indruk wil wek dat hulle enige persoon ondersteun wat in die beskuldigdebank staan nie.
Daar is nog geen uitsluitsel wie vir Zuma se regskoste, wat miljoene rand sal beloop, moet opdok nie.
Die DA, wat die amptelike opposisie is, het reeds ’n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien wat vra die hof moet die meer as R15 miljoen wat reeds deur die staat aan Zuma se regskoste bestee is van hom terugeis. Hulle vra ook dat alle verdere betalings deur die staat aan Zuma se regskoste gestaak word.
Die grondwetkenner Pierre de Vos het op Twitter gesê Zuma moet self opdok. De Vos het op sy blog Constitutionally Speaking geskryf die feit dat Zuma miljoene spandeer het om sy dag in die hof te systap is tekenend van sy angstigheid om nie aan die regter te hoef te verduidelik waarom hy geld van die veroordeelde Schabir Shaik en ’n wapenhandelaar ontvang het nie.
Buro: NB