NG-dominee kry trekpas oor WhatsApp-boodskappe

  • 0

’n NG-dominee wat na bewering boodskappe met ’n pornografiese strekking aan ’n getroude vrou gestuur het, is deur die kerk in die pad gesteek.

Eduan Naudé se gemeente, die Lyttelton Moedergemeente in Pretoria, is Sondag deur middel van ’n brief wat by die kerk se deur uitgedeel is, ingelig dat hulle dominee ontslaan is.

Naudé ontken egter dat hy enige iets verkeerd gedoen het. Hy beskuldig die kerk van lafhartige optrede teen hom.

Netwerk24 berig dat die afgedankte predikant in ’n e-pos aan hulle gesê het hy was die afgelope Sondag self in die kerk toe sy gemeente ingelig is oor sy summiere afdanking.

Hy sê die manier waarop hy afgedank is, was lafhartig en die kerk het hom verraai. Volgens Naudé is sy gemeente 18 maande lank in die duister gehou oor die klagtes teen hom en was die proses om van hom ontslae te raak ook nie deursigtig nie.

Hy voer aan die gewraakte WhatsApp-boodskappe wat hom sy werk gekos het, was niks anders as onskuldige humoristiese boodskappe wat hy aan mense op ’n WhatsApp-groep gedeel het en dat sy eie familie ook deel was van die groep.

Hy ontken ten sterkste dat die boodskappe pornografies was of dat hy enige iemand seksueel geteister het soos wat beweer word.

Volgens Rapport het die tugverhoor wat die saak ondersoek het, bevind hy het ’n gemeentelid seksueel geteister en ’n rassistiese boodskap oor Julius Malema aangestuur. Die beweerde rassistiese boodskap was volgens Naudé ’n Nando’s video wat hy aangestuur het.

Naudé sê die kerk het nooit met hom gepraat nie en hy moes vyf maande lank wag voordat hy sy kant van die saak kon stel. Hy is glo skriftelik verbied om kerk toe te gaan en aangesê om geen kontak met enige iemand in die kerk te hê nie.

Hy het aan die koerant gesê die kere dat hy wel die kerk besoek het, is hy berispe. Hy sê hy is skuldig bevind aan iets wat hy nie gedoen het nie en is nie van plan om die saak daar te laat nie.

Die klaagster het volgens hom nooit enige aanduiding gegee dat die gewraakte boodskappe wat volgens hom humoristies was, haar gegrief het nie. Hy beweer sy het herhaaldelik met goedkeuring reageer en grappe in dieselfde trant of erger aangestuur.

............

“Hy voer aan die gewraakte WhatsApp-boodskappe wat hom sy werk gekos het, was niks anders as onskuldige humoristiese boodskappe wat hy aan mense op ’n WhatsApp-groep gedeel het en dat sy eie familie ook deel was van die groep.”

............

Volgens Rapport beweer Naudé sy medeleraar, Danie Langner, en ander betrokkenes is deel van ’n sameswering om van hom ontslae te raak. Langner is ook hoofleier van die Voortrekkers en ’n bestuurslid van die FAK.

Naudé glo daar word ’n vendetta teen hom gevoer omdat hy sekere ongerymdhede by sy gemeente bevraagteken het. Dit hou verband met ’n Afrikaanse kultuurorganisasie, die Afrikaanse Toekomstrust (ATT), waarby sy gemeente betrokke is.

Hy het aan die media gesê hy was nie gemaklik met die rol wat die ATT in die gemeente se bestuursopset speel nie maar wou nie uitbrei oor die beweerde ongerymdhede waarby die ATT betrek word nie. Langner het enige ongerymdhede waarby die ATT betrek word, teenoor die media ontken.

Naudé is vasbeslote om sy werk terug te kry en sê die saak sal volgende maand by die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie (KBVA) verder gevoer word.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top