’n NG-dominee wat deur ’n medekollega in sy kerk van dwaalleer aangekla is omdat hy ’n gebedsbyeenkoms saam met Moslems bygewoon het, is deur sy kerk se ring vrygespreek van dwaalleer.
Riaan de Villiers tydens ’n intergeloofsbyeenkoms vroeër vanjaar wat gelei het tot klagtes van dwaalleer teen hom (Foto: Facebook):
Altesaam nege klagtes van dwaalleer is teen Riaan de Villiers van Groote Kerk in Kaapstad ingedien. Hy het vroeër vanjaar in solidariteit, oor geloofsgrense heen, saam met Moslems hande gevat om medelye te betoon met slagoffers van terreur om gesamentlik geloofsgeweld te veroordeel.
Die ring van Stellenbosch se tugkomitee het, in ’n dokument van 18 bladsye, beslis dat daar geen gronde gevind kon word vir bewerings in die klagtes van tugwaardige belydenisstandpunte nie en dat ’n verhoor dus nie nodig is nie.
Dit volg nadat ’n medeleraar en kollega in die NG-Kerk die klagtes ingedien het, toe hy op Facebook gesien het, daar word ’n uitnodiging deur die Groote Kerk gereël vir ’n intergeloofsbyeenkoms om saam met die Moslemgemeenskap te treur oor diegene wat in Nieu-Seeland doodgeskiet is terwyl hulle in ’n moskee gebid het.
Later het De Villiers ook ’n gesamentlike byeenkoms saam met Moslems bygewoon om simpatie te betoon met Christene en hulle families wat in Sri Lanka deur ekstremistiese Moslems vermoor is.
Die moderator van die NG-Kerk, Nelis Janse van Rensburg, is ook na die geleentheid genooi. Hy het aanvanklik die uitnodiging aanvaar. Toe daar egter druk vanuit sekere geledere in die NG-Kerk op hom toegepas is, het hy koue voete gekry en besluit om nie meer die geleentheid by te woon nie.
De Villiers het egter voet by stuk gehou en wel die geleentheid bygewoon. Tydens die geleentheid het hy verskoning gemaak omdat die NG-Kerk se moderator nie meer sy weg oopsien om teenwoordig te wees nie.
Die moderator het later op Facebook ’n ellelange verduideliking gegee waarom hy onttrek het. Hy het gesê die sinode se regsmense het dit onder sy aandag gebring dat daar sprake is van ’n leerklag teen die leraar van Groote Kerk en dat sy teenwoordigheid die ring of die sinode se ondersoeke kan kompromitteer as hy by hierdie inter-godsdiensgeleentheid sou optree. Verskeie kollegas en lidmate van die NG-Kerk het die moderator skerp gekritiseer omdat hy kop uitgetrek het nadat hy die uitnodiging aanvanklik aanvaar het.
Janse van Rensburg het destyds gesê hy het ook “van ander baie verantwoordelike teoloë navraag ontvang oor die aard en die inhoud van die geleentheid”.
“Die navrae hieroor het my oortuig dat ons ter wille van deurdagte deelname eers weer deeglik sal moet dink oor die aannames waarmee ons deelneem aan hierdie soort geleenthede,” het Janse Van Rensburg as rede aangebied waarom hy nie meer wou deelneem nie.
De Villiers, wat die afgelope maande met die wolk van nege klagtes van dwaalleer oor sy kop moes loop, het sy dankbaarheid op Facebook uitgespreek dat hy uiteindelik vrygespreek is op al die klagtes teen hom.
“Ek is dankbaar vir die wyse waarop die ring se tugliggaam van die Ring van Stellenbosch geoordeel het en gehandel het met die nege klagtes wat vroeër hierdie jaar teen my gelê is.”
Hy sê hy gaan voort om Jesus se opdrag en voorbeeld van versoening na te streef, dit te probeer beliggaam en daaroor te getuig en om te werk vir ’n samelewing en wêreld waarin daar met meer begrip, aanvaarding en verdraagsaamheid ’n toekoms van vrede en vreugde vir ons kinders gebou kan word.
Verskeie lidmate en predikante van die NG-Kerk het De Villiers op Facebook gelukgewens met sy vasberadenheid.
Nadat hy bewus geword het van die klagtes teen De Villiers, het die NG-Kerk se moderator vroeër vanjaar, na sy eie onttrekking aan die geleentheid, gesê aktivisme is goed, maar dit kan nie sy rol wees nie. “Ek sou eerder wou bydra daartoe dat welmenende Christene ingelig word en begelei word om intergeloofgesprekke met die regte aannames en vertrekpunte aan te pak en sodoende nie hulle geloof in die Drie-enige God onwetend en onbedoeld kompromitteer nie.”
Buro: MvH