Verskeie gemeentes in die NG Kerk verkeer in ’n benarde finansiële posisie en in sommige gevalle moes daar selfs afleggings van personeel wees omdat daar nie genoeg geld is nie.
Die NG Kerk se amptelike mondstuk, Kerkbode, berig dat gemeentes se inkomstestrome radikaal deur die COVID-19-inperkingsmaatreëls geaffekteer is.
Gemeentes wat reeds voor die inperkings finansieel swaargekry het, se finansiële posisie het volgens Kerkbode benard geword.
Die kerk se geldsake was een van die aangeleenthede wat die afgelope week tydens ’n virtuele saamtrek van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) bespreek is. Volgens ’n verslag van die dagbestuur van die ASM verkeer sowat 10% van die kerk se meer as 1 100 gemeentes na raming in ’n dilemma. “Bankkollektes, gemeentebasaars en insamelingsgeleenthede asook dankoffers is beïnvloed,” het die kerk se moderator, Nelis Janse van Rensburg, volgens Kerkbode gesê.
Janse van Rensburg het ’n beroep op lidmate gedoen om hulle weer na eredienste te waag ná maande agter grendel en voor rekenaarskerms.
Hoewel gemeentes sedert die instelling van vlak 1 toegelaat word om weer tot 250 mense in eredienste toe te laat, verneem Voertaal van verskeie gemeentes waar die bywoning van eredienste sedert die inperking selfs minder is as die toegelate 50 mense onder vorige vlakke van inperking. Lidmate moet vooraf aandui of hulle ’n erediens wil bywoon, dan word hul name op ’n lys geskryf, maar in baie gevalle is daar minder as 50 mense wat vra om ’n diens by te woon.
Janse van Rensburg het volgens Kerkbode gesê daar moet vir lidmate wat hulself op ander plekke soos in winkelsentrums blootstel, gesê word hulle moet hulleself nou in die kerk ook blootstel – terwyl daar by die reëls gehou word. “Ek dink dit is tyd dat ons ons kerke oopmaak vir die groter hoeveelhede mense,” het hy gesê.
Intussen het die storm in die NG Kerk oor selfdegeslagverbintenisse nog lank nie gaan lê nie. Verskeie gemeentes het volgens ’n verslag wat voor die kerk se leiers gedien het, aangedui dat hulle doleer as gevolg van die 2019-besluit insake selfdegeslagverbintenisse. Om te doleer is kerklike taal vir wanneer ’n gemeente “treur” oor ’n besluit van die kerk. Dit is ’n manier om protes aan te teken teen besluite waarmee hulle nie saamstem nie. Dit het egter geen kerkregtelike status nie. Gemeentes wat doleer, geniet steeds al hulle voorregte en moet al hulle verpligtinge ten aansien van die kerkverband nakom. Daar is na raming meer as 40 gemeentes in die NG Kerk wat doleer.
Die aktuarius van die algemene sinode, De Wyk Ungerer, het ’n verslag met die kerkleiers bespreek waarin hy die implikasies van dolering verduidelik het. Volgens die verslag is gemeentes wat doleer, steeds verplig om hulle sinodale deelname na te kom en sinodale bydraes te betaal. Bydraes wat weerhou word, loop op en sal later deur die nageslag betaal moet word, lui die verslag. Gemeentes word ook gewaarsku dat die nienakoming van ooreenkomste en finansiële verpligtinge sou neerkom op kontrakbreuk.
Volgens Janse van Rensburg moet daar geen twyfel wees dat gemeentes en lidmate die reg het om te verskil en gesprek te voer oor onderwerpe soos selfdegeslagverbintenisse nie. Hy sê dit is nie asof enigiemand beswaar ontmoedig nie, maar dit moet op ’n kerklike wys geskied.
“Mense moet praat en as mense glo die Algemene Sinode is teologies nie suiwer nie moet hulle dit sê. Daar is weë geskep daarvoor. Daar is ’n kerklike manier om kerklike goed te hanteer,” het hy volgens Kerkbode gesê.