Die NG Kerk is nie, soos sommige beweer, ’n homofobiese (gay onvriendelike) gemeenskap nie. Daar is ’n beduidende aantal gay-gelowiges aktief in die Kerk, waarvan baie in besondere ampte dien, wat getuig van die liefde, respek en aanvaarding wat hulle binne hulle gemeentes geniet.
So sê die moderatuur van die NG Kerk se algemene sinode na aanleiding van ’n stortvloed kritiek oor die kerk se verdediging van “billike diskriminasie” verlede week in die Pretoriase Hooggeregshof.
Die kerk sê in ’n verklaring wat op Facebook geplaas is, dit is jammer dat diegene wat die kerk hof toe geneem het, nie al die kerklike opsies benut het om hulle oortuigings binne die kerk te bevorder nie.
Lidmate en predikante van die NG Kerk het uiteenlopend reageer op die NG Kerk se jongste verklaring. André Gaum, die broer van die gay predikant Laurie Gaum, wat midde in die hofsaak teen die kerk staan, ontken ten sterkste dat die aansoekers nie al die kerklike opsies tot hulle beskikking benut het nie.
Hy het op die NG Kerk se Facebook-blad gesê dit is onwaar dat die interne opsies binne die kerk nie uitgevoer is nie. Gaum sê hy stel voor die moderatuur wag op die hofuitspraak en staak hierdie soort mediaverklarings wat nie korrek is nie en lidmate verder verwar.
“Dalk moet die moderatuur openlik wees en ook sê dat die kerk se advokaat in die hof erken het dat die gewraakte besluit, in terme van ons land se grondwet, diskrimineer.” Volgens Gaum is dit absurde onbillike diskriminasie as daar slegs van gay predikante verwag word om selibaat te wees.
Die moderator van die NG Kerk, ds Nelis Janse van Rensburg, het die begrip “billike diskriminasie” ook tydens ’n radio-onderhoud met die joernalis Izak du Plessis op RSG verdedig. Volgens Janse van Rensburg is die vraag of daar in ons grondwetlike bedeling ruimte daarvoor is dat daar onderskeid gemaak kan word tussen mense op grond van ras en geslag en geloofsoortuigings en dies meer. “En dit is inderdaad so dat die huidige grondwet daarvoor voorsiening maak.”
Janse van Rensburg sê dit gaan nie hier oor mense se persoonlike reg nie. “Dit gaan hier oor die kerk se standpunt oor seksuele verhoudings. En die kerk is tans op die punt waar ons sê ons is nie op ’n plek waar ons selfdegeslag-verbintenisse wil kondoneer of in die kerk wil bevestig nie.”
Volgens die NG Kerk se moderator is gay lidmate volledig deel van die kerk. “Hulle mag volledig deel wees van ons gemeente. Daar is geen beletsel nie. Hulle mag volledig deel wees van die liggaam van Christus.”
Die kerk se gay lidmate voel skynbaar nie so volledig deel van die NG Kerk soos wat die kerk se moderator beweer nie. Een van die 11 lidmate wat die Kerk hof toe geneem het oor hulle anti-gay sentimente is proponent Hennie Pienaar. Hy het op Facebook geskryf die besluit van 2016 waartydens die vorige jaar se besluit omgekeer is, het die lig gesien deur middel van “’n gekonkel” agter die skerms.
Pienaar sê hy het na 2016 se besluit ’n brief aan die moderatuur geskryf en gevra dat hulle die regte ding moet doen en bedank.
“Nie een van hulle is opgewasse en leier genoeg om die kerk deur hierdie baie belangrike tydstip van verandering te begelei nie.” Pienaar sê dit is juis as gevolg van hul swak leierskap dat die kerk vandag is waar hy is.
Die NG Kerk se moderatuur sê in hulle verklaring ondanks die oortuiging dat kerklike sake op kerklike maniere besleg moet word, het hulle vertroue in die oordeel van die hof om in sy uitspraak die regte van geloofsgemeenskappe en individue in balans te hou.
Die hof hoop om voor die einde van die jaar uitspraak te lewer.
Buro: NB