NG Kerk sê gays kan hulle eie kerk stig

  • 0

Die grootste Afrikaanse kerk in Suid-Afrika, die Nederduits Gereformeerde Kerk, sê homoseksuele lidmate moet hulle eie kerk stig as hulle nie van die NG Kerk se standpunt hou dat homoseksuele mense nie mag trou nie.

Die kerk se gay lidmate is ontsteld hieroor. Van die kerk se predikante wat gay lidmate verwelkom sê dit is pynlik dat die kerk vir sy lidmate sê hulle kan hulle eie kerk gaan stig of by ’n ander kerk aansluit as hulle nie saamstem of van die kerk se standpunt hou dat gay verhoudings sonde is nie.

Ds Michelle Boonzaaier sê die NG Kerk het dit nou duidelik gemaak dat lidmate van die LBGT-gemeenskap nie volwaardige lidmate van die NG Kerk kan wees nie.

“Miskien sal gay mense in die NG Kerk nou wakker word, agterkom dat die kussing wat weg is toe nie ’n marshmallow was nie! Ek het dit jare terug uitgevind – die haat en nyd in die NG Kerk is nie my scene nie – en niks gaan verander nie,” het Peet Bothma ’n voormalige lidmaat van die kerk op Facebook geskryf.

Die NG Kerk se standpunt dat gays hulle eie kerk kan stig of by ’n ander kerk moet aansluit word vervat in hofdokumente wat namens die NG Kerk by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is.

Twaalf lidmate van die NG Kerk het hulle kerk hof toe gesleep omdat die kerk ’n besluit dat gays wel mag trou omgekeer het tydens ’n spesiale sinode skaars ’n jaar nadat hulle gesê het gays mag wel trou. Die lidmate voer aan die kerk het sy eie kerkorde geminag toe hulle die besluit dat gays mag trou opgeskort het.

Die saak dien nou op 21 Augustus voor die hof.

Vroeër vanjaar het een van die NG Kerk se teologiedosente aan die Universiteit Stellenbosch, prof Julie Claassens, gesê die NG Kerk het zero moraliteit onder andere as gevolg van die manier hoe die kerk sy gay lidmate behandel.

In 2015 het die gay-gemeenskap die NG Kerk se besluit verwelkom dat hulle mag trou. Nou sê die kerk hulle mag nie trou nie en dat die kerk ’n belang het om die Bybel te gehoorsaam soos hy dit verstaan.

Die kerk se gay lidmate vind dit vreemd aangesien die kerk die Bybel in 2015 presies op ’n teenoorgestelde manier geïnterpreteer het. Hulle het tóé gesê hulle het die Bybel so geïnterpreteer dat gays wel mag trou.

Nadat daar groot teenstand vanuit sekere gemeentes teen die besluit was, het die kerk besluit om die uitslag om te keer en gay verhoudings af te wys as in stryd met die Bybel.

Die hofsaak gaan oor die manier hoe die kerk te werk gegaan het om sy besluit dat gays mag trou ongedaan gemaak het. Volgens die kerk se eie regsadvies was dit in stryd met hulle kerkorde om ’n sinodebesluit summier op te skort.

Die dispuut tussen die NG Kerk waaroor die hof nou moet beslis gaan oor die ongeldigheid van die kerk se optrede omdat hy sy eie kerkorde geminag het terwyl die kerk se eie regsadviseur vir hulle gesê het hulle kan dit nie doen nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top