NG Kerk te "liberaal en humanisties" vir Moreletapark

  • 0

Dit is fundamentalistiese standpunte wat die NG Kerk se grootste gemeente, naamlik Moreletapark in Pretoria, aanspoor om sy bande met die NG Kerk te verbreek.

Moreletapark sê die NG Kerk bevind hom toenemend op ’n liberale pad. In ’n verklaring op hulle webwerf beskuldig Moreletapark die NG Kerk van ’n “liberale en humanistiese” koers wat nie strook met hulle verstaan van de Bybel nie.

Hulle sê daar is verskeie aspekte binne die NG Kerkverband wat hulle bekommer en wat hulle met die kerkleiers wil bespreek.

Dit sluit onder andere in ’n toenemende “ontkenning van Skrifgesag en die belydenisskrifte” oor sake soos die maagdelike geboorte, fisieke opstanding, bestaan van die duiwel en voorskrifte vir die huwelik.

Moreletapark ontken dat hulle van die NG Kerk wil wegbreek omdat gays mag trou, maar gee toe dat dit ’n indirekte rol speel. Die NG Kerk se hantering van die saak dui volgens hulle op ’n gebrek aan Skrifgetrouheid en -gesag binne die NG Kerkverband.

“Die Skrif is duidelik oor selfdegeslagverhoudings. Net so is die ignorering van die Skrif se voorskrifte oor die hantering van hofsake ook ’n rede tot kommer.”

Die huidige teologiese rigting en moontlike kontroversiële denkrigtings van die NG Kerk is nog een van die sake wat die gemeente bekommer. “Daar is tans tendense en besluite in die NG Kerk ten opsigte van Skrifgesag en -interpretasie wat vir ons kommerwekkend is, en ons laat besin oor die rol en posisie van Moreletapark binne die NG Kerkverband.”

Volgens die gemeente word die Bybel op ’n postmodernistiese en liberale wyse interpreteer wat die gesag van die Bybel bevraagteken.

Moreletapark, wat voorheen deur die hof tot orde geroep moes word en baie geld moes opdok omdat hulle ’n gay orrelis in die pad gesteek het, is ook vies omdat die hof bevind het dat 2016 se sinodebesluit wat teen gay lidmate diskrimineer, ongrondwetlik is.

Hulle sê die saak is op “onkerklike wyses” na ’n wêreldse hof geneem eerder as om die kerklike weg en Bybelse beginsels te gebruik om die saak te besleg. Dit versterk glo die onderhewigheid van die Skrif aan die land se Grondwet.

Die NG Kerk se koerant, Kerkbode, en die res van die media loop onder hulle kritiek deur. Kerkbode word glo gebruik om die liberale standpunte te steun en uit te dra.

Die res van die media se beriggewing is volgens die gemeente dikwels geskoei op aannames en mense se sienings wat nie die waarheid is nie en ook nie deur die gemeente se leierskap gekommunikeer is nie.

Weens finansiële en kerkregtelike kwessies sal dit egter nie so maklik wees vir Moreletapark om sy goed te vat en te loop nie. Die gemeente se inkomste het die afgelope vyf jaar dramaties gedaal. Hulle doen ’n beroep op gemeentelede om hulle volle offergawes te gee en seker te maak dit is in ooreenstemming met “wat God verwag”.

Indien hulle wel bande met die NG Kerk wil breek, kan hulle dit ook nie sommer net as gemeente doen nie. Die leraars sal uit die NG Kerk moet bedank, waarna ’n nuwe onafhanklike gemeente gestig sal moet word met die lidmate wat ook dieselfde proses volg. In dié geval sal die leraars se bevoegdheid, die kerk se duur geboue en die bankrekening in gedrang kom.

’n Kerkraadsvergadering vind op 13 Junie plaas waar die hele aangeleentheid ter tafel is en ’n besluit oor die verdere proses geneem sal word.

Een van die opsies wat tans oorweeg word, is vir die gemeente om te doleer. Dit beteken dat Moreletapark binne die NG Kerk bly, maar in ’n staat van treur gaan oor wat in die NG Kerk aan die gebeur is en daarmee ’n dispuut verklaar.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top