Die NG Kerk het minder as twee weke tyd om te besluit of hulle kans sien vir nóg ’n hofgeding nadat die kerk in die hof slae gekry het omdat hulle nie hul eie reëls nagekom het nie. Die hof het ook beslis die kerk het in stryd met die land se grondwet opgetree deur teen gay mense te diskrimineer.
In ’n lywige uitspraak van 57 bladsye het ’n volbank regters die NG Kerk gedwing om sy omstrede sinodebesluit van 2016 nietig te verklaar. Die besluit van 2015 dat gays mag trou en gay dominees nie selibaat hoef te wees nie, moet nou geïmplementeer word.
Die kerkvaders het 15 hofdae om te besluit of hulle aansoek wil doen om daarteen die appelleer.
Die NG Kerk se amptelike koerant berig dat die kerk nou moet “herbesin” oor selfdegeslagverhoudings. Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk het aan Kerkbode gesê hulle het prosesse opgestel om in komende weke te kyk na die inhoud van die uitspraak en hoe dit die kerk impakteer. “Ons sal met lidmate kommunikeer wat die aard van die uitspraak was en hoe die kerk daarop gaan reageer.”
In ’n “pastorale brief” wat deur die grootste van die NG Kerk se streeksinodes, naamlik die Wes-Kaapse sinode aan sy lidmate gestuur is, sê die kerkleiers hulle bid vir die kerk se lidmate. “Ons is verleë daaroor dat die teenstrydige besluite oor selfdegeslagverhoudings verwarring en hartseer veroorsaak het.” Die brief is onder andere onderteken deur die moderator van die NG Kerk, ds Nelis Janse van Rensburg, wat voorsitter was van 2016 se omstrede sinode toe die onwettige besluit geneem is om 2015 se besluit te herroep.
Hulle sê in die brief hulle het kennis geneem van die hofuitspraak oor die NG Kerk en selfdegeslagverhoudings. “Die kerk respekteer die hofuitspraak. Die kerk moet egter nog saam met sy regspan die uitspraak bestudeer om die volle implikasies daarvan te verreken in sy keuse om na die Konstitusionele Hof te appelleer of nie.”
Uit die reaksies van lidmate in die NG Kerk na afloop van die hofsaak blyk dit dat daar groot verdeeldheid in die kerk is oor die pad vorentoe. Wes-Kaap se moderatuur sê hulle is bewus van die moontlikheid van nuwe spanning en verwarring in gemeentes na aanleiding van die uitspraak van die hof.
Die kerk het die hofsaak met koste verloor en sal na verwagting tot soveel as R5 miljoen moet opdok om die koste te dra. Dit is nie bekend uit wie se sak die geld sal kom nie, maar dit sal waarskynlik uiteindelik gewone lidmate wees wat deur middel van hulle bydraes hiervoor sal moet opdok.
Sommige van die kerk se lidmate meen diegene wat verantwoordelik was vir die feit dat die kerk nie sy eie reëls nagekom het nie, moet self verantwoordelik gehou word vir die reusagtige finansiële verlies wat die kerk as gevolg van die hofsaak ly.
Een van die kerk se lidmate wat aansoek gedoen het dat daar regsekerheid oor die saak kom, proponent Hennie Pienaar het op RSG se aktualiteitsprogram Spektrum gesê die kerk se leiers wat verantwoordelik was hiervoor, behoort te bedank.
Die hof se volledige uitspraak kan hier op Kerkbode se webwerf gelees word.
Buro: NB