NGV-wet laat alarmklokke lui, sê staatsamptenare

  • 0

Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) wil hê president Cyril Ramaphosa moet die ondertekening van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) uitstel omdat die voorgestelde befondsingsmeganismes vir die skema nie volhoubaar is nie.

Volgens die VSA, wat sowat 235 000 lede in die staatsdiens verteenwoordig, het die skema se befondsingsmeganismes alarmklokke laat lui.

Gegewe die onsekerheid rondom die politieke landskap ná die Mei-verkiesing, het die VSA Ramaphosa versoek om die ondertekening van die wetsontwerp uit te stel.

Die wetsontwerp is laat in 2023 deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur en aan Ramaphosa gestuur om as wet onderteken te word.

“Die wet lê op my lessenaar. Ek gaan deur die wetsontwerp. Ek soek net ’n pen om dit mee te onderteken," het Ramaphosa tydens sy staatsrede in Februarie onder groot gelag van parlementslede gesê.

Die DA het die VSA Donderdag in ’n verklaring geprys vir hulle “omsigtige advies” aan Ramaphosa dat hulle aandring op uitstel in die ondertekening van die wetsontwerp.

Die VSA se standpunt strook volgens die DA met hulle voortdurende kommer oor die NGV se potensiële gevolge op Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel en ekonomie.

Die wetsontwerp word ook skerp gekritiseer deur dokters, verskaffers van gesondheidsgeriewe, gesondheidsversekeringsmaatskappye en sommige van die ander opposisiepartye, soos die Vryheidsfront Plus en ActionSA.

Die VSA sê hulle is uiters bekommerd oor die implikasies van voorgestelde belastingverhogings om die NGV-skema te finansier. Hulle wys daarop dat Suid-Afrikaners nie in staat is om so ’n finansiële las te dra nie, veral tydens die huidige ekonomiese klimaat.

Die DA se skaduminister van gesondheid, Michéle Clarke, sê die gesondheidsorgstelsel is reeds belas deur kritieke personeeltekorte, soos blyk uit die verbysterende 18 804 vakatures vir dokters sedert Februarie 2023. Clarke sê tragies genoeg bly ongeveer 800 jong, gekwalifiseerde dokters werkloos te midde van hierdie krisis.

“In solidariteit met die VSA doen die DA ’n beroep op president Ramaphosa om ag te slaan op hul raad en om die ondertekening van die NGV-wetsontwerp uit te stel. Dit is noodsaaklik dat die regering omvattende konsultasies onderneem en lewensvatbare alternatiewe oorweeg om te verseker dat enige gesondheidsorghervormings werklik die welstand van alle Suid-Afrikaners bevorder.”

Clarke sê die toename in gevalle van mediese nalatigheid oor die afgelope dekade, tesame met ’n skerp toename in mediesgeregtelike eise, skets ’n donker prentjie van ’n gesondheidsorgstelsel in nood. Boonop vererger die erosie van die private gesondheidsektor en die onvoldoende funksionaliteit van openbare gesondheidsfasiliteite hierdie uitdagings.

“Die huidige openbare gesondheidstelsel is swak voorbereid om die toestroming van nuwe pasiënte onder die voorgestelde NGV-skema te hanteer. Ten spyte van die regering se versekering, slaag die NGV nie daarin om die hoofoorsake van ontoereikende gesondheidsorg aan te spreek nie, insluitend chroniese onderbemanning en sistemiese ondoeltreffendheid.”

Die VSA sê die finansieringsmodel wat deur die Departement van Gesondheid aangebied word, is nie volhoubaar nie en belas die armes wat reeds sukkel om met ’n hoë lewenskoste, konstante stygings in petrolpryse en hoë rentekoerse klaar te kom, buitensporig.

“Daarbenewens het salarisverhogings konsekwent onder die inflasiekoerse gebly, wat die finansiële druk op huishoudings vererger,” het die VSA bygevoeg.

Die vereniging glo dat die voorgestelde belastingverhogings waarskynlik onvoldoende sal wees om die koste van die NGV te dek, en dat dit ook bykomende druk op verbruikers sal plaas, hul koopkrag verder sal verminder en finansiële swaarkry sal vererger.

Volgens vorige ramings sal die regering nagenoeg R200 miljard per jaar benodig om die NGV te onderhou.

“Die VSA se kommer oor die NGV se befondsingsmodel resoneer sterk met die DA se bekommernisse. Voorstelle vir belastingverhogings om die NGV te finansier, kan die finansiële las op reeds sukkelende Suid-Afrikaners vererger, veral te midde van ekonomiese onsekerheid en stygende lewenskoste. Die DA eggo die VSA se oproep aan die regering om werkskepping te prioritiseer, fiskale ondoeltreffendheid te bekamp en korrupsie aan te spreek om inkomstestrome te versterk en belastingbetalersdruk te verlig,” het Clarke gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top