"Nieuwkomers": Hoe om deur immigrasie die nuwe met die oue te versoen

  • 0

In ’n onlangse skrywe na aanleiding van ’n besoek aan ’n handvol Europese lande wonder ek oor die begrip “nuweling”, soos in nuwe inwoner of nuwe aankomeling. Of, sonder skroom, immigrant. Die Nederlandse woord stel dit mooi(er): “nieuwkomer”.

Ten volle bewus van die sensitiwiteite (of omstredenheid) waarin die debat oor immigrasie gehul is, skryf ek toe dat te midde van al die ordelikheid en netheid ek nie kon help om oor ’n ander verskynsel te tob nie. Dit is dalk werklik iets onsinnigs klein – en dalk glad nie eens nuut of noemenswaardig nie. Ewenwel, op ’n paar plekke het dit my opgeval dat rommelstrooiery, selfs al is dit dikwels net sigaretstompies wat rondlê, ’n seer oog geword het.

Nou moet ek ook darem net noem dat ek vir nagenoeg ’n dekade nie na Europa gereis het nie. Jy kan uiteraard ook nie lande so uiteenlopend soos Switserland, Nederland, Frankryk, Oostenryk, Duitsland, Hongarye en Suid-Tirool in die noorde van Italië oor een kam skeer nie. Asof wat jy in die een gesien het, noodwendig ook in die ander voorkom of op dieselfde skaal. Die vraag is deesdae ook konstant: Hoeveel het die Covid-pandemie met die veranderende omstandighede in welke omgewing ook al te doen? Wat ek dus waargeneem het (en dit is ook nie asof ek die spesifieke lande waar ek dit gesien het, neergepen het nie), is dalk in dié opsig lankal nie meer so vreemd soos wat ek dit ervaar het nie.

Maar, skryf ek toe, die voorkoms van rommelstrooiery het my laat dink oor wat “nieuwkomers” met hul saambring. Ons is vertroud met die geskiedenis van die eerste “nieuwkomers”, dit is die koloniale heersers wat byvoorbeeld hier in Afrika en ook in Asië kwansuis verkenningstogte onderneem het. Dit het uiteindelik met mensehandel en onderdrukking gepaardgegaan. Oor dié kwessie word daar nou opnuut wyd gesprek gevoer na aanleiding van verskonings vir slawerny, aangebied deur onder andere Nederland se koning Willem-Alexander.

Die koloniseerders van ouds het met hulle saamgebring ’n meerderwaardigheid en militantheid waarmee die vreemde omgewing wat hulle betree het, “mak” gemaak moes word. Wat hulle as “barbaarsheid” of (sagter op die oor) “ongekultiveerdheid” bestempel het, moes in “beskaafdheid” omskep word. Die Bybel is soms as handleiding hiervoor wanaangewend. In wat nou as die Demokratiese Republiek van die Kongo bekend is, word die wreedaardigheid van ’n ander koning, Leopold ll van België, goed onthou – en in België self is in Junie 2020 onder meer betogings gehou waartydens aangedring is dat Leopold se standbeeld verwyder moet word.

Nou is dit ’n ander tyd. Die veronderstelde Westerse beskawing word in ons leeftyd deur immigrasie, wettig en onwettig, ontwrig en uitgedaag. (En seker ook deur die sogenaamde “woke”-beweging en kanselleringskultuur; Douglas Murray skryf ’n hele boek daaroor: The War on the West, wat in 2022 verskyn het.) Ook in die nuwe “nieuwkomers”-verwikkeling speel ’n bepaalde geloof – Islam – ’n kernrol. Dit dwing Europa om ’n meer “Arabiese” ingesteldheid aan te neem, sleepvoetend en skoorsoekend soos wat dit in sekere gevalle aanvaar of teengestaan word. In wese kom dit daarop neer dat ruimte geskep moet word vir die nuwe, indien “vreemde”, tradisies en waardes wat saam met die “nieuwkomers” aankom. Omdat dit nie ’n koloniale of imperiale inval is nie – nie Rusland wat op grondgebied beslag lê teen die bepalings van internasionale konvensies nie – is die versugting van die nuwelinge gewoon dat hulle hul geloof en gebruike moet kan uitleef. Of so wil dit voorkom ...

Waar dit teëstand beleef, ontplof dit by tye in die gesig van die plaaslike regeerders in die vorm van gewelddadige opstande en onluste, soortgelyk aan wat onlangs in Frankryk plaasgevind het. Die lont vir sodanige oproer is soms ’n onverwante insident, maar dalk net wat nodig is om uiting aan die opgehoopte frustrasie te gee.

Die vraag wat ek in die genoemde skrywe na aanleiding van rommelstrooiery gevra het, was of dit moontlik ’n sagte protes kan wees teen die wyse waarop die ou Europese geskiedenisse en kulture, wat tot die vroegste tye terugdateer, onder meer in openbare parke en geboue en selfs in die verpakking van verbruikersgoedere, soos beskuitjies, ten toon gestel word?

Of is dit inderwaarheid (of óók) die oorspronklike inwoners – hulle wat nog altyd daar was – wat uit protes teen die nuwe aankomelinge of die bestaande heerskappy óók nie meer omgee vir (of veel erg het aan) die ou “beskawing” nie, met ander woorde die bekende, gevestigde waardes en gebruike waardeur hulle vir generasies lank geregeer is?

Om ’n plaaslike, Suid-Afrikaanse voorbeeld te noem: ’n Mens sien gereeld hoedat mense van Asiatiese afkoms op straat spuug wanneer jy hulle voor hulle winkels teëkom. Dit is op sigself nie ’n vreemde voorkoms in sekere gemeenskappe hier ter plaatse nie, maar wanneer die “nieuwkomer” dit doen, is dit asof iets heiligs vertrap word. ’n Ander voorbeeld is die verval van dorpe – en selfs sekere stedelike ruimtes – weens die wanorde (of wetteloosheid) wat met die nuwe “sakekultuur” gepaard gaan, waar handelaars uit ander dele van Afrika deesdae sake doen. Uiteraard word hierdie soort verandering versterk deur die agteruitgang van (politieke) dorpsbestuur en die toepassing van wette deur diegene wat daarvoor verantwoordelik is en ’n goeie salaris daarvoor ontvang.

Waar die wil en hulpbronne beskikbaar is, gryp individue en burgerlike organisasies in om die verval te keer of te beperk vir solank moontlik. Die hoop is dat die owerhede se waardering vir die belangrikheid van instandhouding mettertyd ’n wonderbaarlike terugkeer sal maak. Terloops, dit is dalk nie onvanpas om te vermeld nie dat die “nieuwkomer” nie noodwendig bydra tot die belastinginkomste van die dorp of land nie, maar dat hulle met aankoms onmiddellik toegang geniet tot die bestaande infrastruktuur en, in Suid-Afrika, grondwetlik kan aanspraak maak op onder meer openbare gesondheidsdienste, gebrekkig soos wat dit in sommige plekke is.

Die vraag is nou hoedat ’n mens kan verseker dat immigrante (nuwe aankomelinge, “nieuwkomers”) nie slegs geïntegreer word in die samelewing wat hulle betree nie, touwys gemaak word in hoe dinge nog altyd daar gewerk het of gedoen is nie en dat van hulle verwag word om gewoon daarby in te val nie. Die doel moet wees om uiteindelik die opvatting te verander dat immigrante slegs kom “teer” op diegene wat die bestaande opgebou het. Of op die burgers wat sorg dat die staatskoffers gevul bly deur belastingbetalersgeld, waaruit maatskaplike toelaes aan behoeftige nuwe aankomelinge betaal kan word.

Terwyl ek onlangs per fiets deur Amsterdam reis, onder leiding van die bekende Nederlandse politikus Martin Bosma, word ek opnuut bewus gemaak van oudpres Paul Kruger se historiese teenwoordigheid daar. Onwillekeurig word jy ook herinner aan sy alombekende aanhaling dat jy uit die verlede moet neem dit wat goed en edel is, en die toekoms daarop moet bou. ’n Aanpassing van dié wyse woorde kan ons vandag help met die uitdaging van “nieuwkomers”: Neem uit die hede dit wat goed en edel van nuwe aankomelinge is, en bou saam met die goeie van die oorspronklike burgery daarop ’n beter toekoms.

  • Heindrich Wyngaard het as uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum tussen 23 Julie en 7 Augustus saam met 11 ander verteenwoordigers van instellings, wat deel uitmaak van die Solidariteit Beweging, na Europa getoer om netwerke te bou en meer oor outonome plaaslike bestuur te leer.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top