Nkabane se ontslag bied tydelike verligting vir RNE, maar spanning en wantroue bly

  • 0

President Cyril Ramaphosa se besluit om Nobuhle Nkabane as minister van hoër onderwys en opleiding te ontslaan het tydelike verligting gebring in die spanning tussen die ANC en die DA binne die RNE.

Nkabane se ontslag volg op intense druk uit verskeie oorde, onder andere die DA, wat haar  beskuldig het van korrupsie en misleiding van die parlement oor die aanstelling van SETA-raadslede.

Hoewel hierdie stap gekeer het dat die DA nog ’n klip in die pad van vanjaar se begroting rol, beteken dit nie die spanning tussen die twee partye in die RNE is nou uit die weg geruim nie.

Die DA het voorheen aangekondig dat hulle nie die begrotings vir departemente onder beweerde korrupte ministers sou steun nie, en Nkabane se verwydering het hierdie hindernis uit die weg geruim.

Sy is egter nie al minister wie se kop deur die DA geëis word nie. Verskeie ander ministers is ook in die DA se visier, onder andere Thembi Simelane, minister van menslike nedersettings.

Die DA het aanvanklik teen Simelane se R33 miljard-begrotingspos gestem weens korrupsiebewerings teen haar, maar het uiteindelik die toedelingswetgewing ondersteun ná Nkabane se ontslag. Hierdie besluit het die begroting se goedkeuring verseker, behuisingsprogramme beveilig, en die RNE se stabiliteit gehandhaaf, maar dit het nie die DA se veldtog teen Simelane beëindig nie.

Die DA bly daarop ingestel om haar met deurlopende ondersoeke aanspreeklik te hou, wat toekomstige spanning in die RNE weer kan laat opvlam, veral in ag genome die MK Party se mosie van wantroue wat oor twee weke in die parlement bespreek sal word.

Die MK Party het op 22 Julie 2025 ’n mosie van wantroue teen Ramaphosa ingedien, met verwysing na ekonomiese wanbestuur, stygende misdaad en beweerde politieke inmenging in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Die party het Ramaphosa se ontslag van Nkabane as “polities gerieflik” en “selektief” gekritiseer, en beweer dat dit ’n teken is van seksisme en swakheid, veral in vergelyking met die hantering van polisieminister Senzo Mchunu, wat ondanks ernstige bewerings slegs op spesiale verlof geplaas is.

Die DA het egter reeds aangedui dat hulle nie die MK Party se mosie om van Ramaphosa ontslae te raak sal steun nie. Een van die redes daarvoor is waarskynlik dat dit die einde van die RNE kan beteken as Ramaphosa die trekpas kry en die weg baan vir die EFF om deel te word van ’n RNE sonder die DA en met Julius Malema as ’n minister in die kabinet. Daarvoor sien die DA nie kans nie.

Die MK Party se mosie, wat ’n dringende sitting van die parlement binne twee weke versoek, kan die RNE verder destabiliseer. Hoewel dit onwaarskynlik is dat die mosie sal slaag, weens die ANC en DA se gekombineerde parlementêre meerderheid, kan dit die brose koalisiedinamika toets.

Die DA-leier, John Steenhuisen, het beklemtoon dat betekenisvolle konsultasie met koalisievennote noodsaaklik is om openbare vertroue te herbou, en dat Ramaphosa konsekwent moet optree teen ander ministers met soortgelyke korrupsiebewerings, soos Thembi Simelane en dit wat tot Nkabane se val gelei het.

’n Groot bron van kommer is of Nkabane elders in die regering herontplooi sal word, soos in ’n adjunkminister- of senioramptenaarspos. Wynand Boshoff van die VF Plus het gewaarsku dat so ’n stap ’n “bespotting van verantwoordbaarheid” sal wees. Histories het die ANC ministers na ander rolle verskuif sonder om bewerings van wangedrag volledig aan te spreek, wat die persepsie van oppervlakkige hervormings versterk. Nkabane se verklaring waarin sy haar toewyding aan “diens aan ons mense” herbevestig, het spekulasie aangevuur dat sy moontlik ’n nuwe rol verwag.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top