Nog bedankings uit die EFF word verwag nadat die party se adjunkpresident, Floyd Shivambu, Donderdag onverwags uit die EFF bedank en aangekondig het dat hy hom by die MK-party gaan aansluit.
Shivambu dien sedert die EFF se ontstaan in 2013 as sy adjunkpresident.
Dit is onduidelik om in dié stadium te bepaal hoe groot die uittog gaan wees en watter lede van die EFF Shivambu se voorbeeld gaan volg.
Twee senior lede van die party, Carl Niehaus en Busisiwe Mkhwebane, het Donderdag op sosiale media bewerings ontken dat hulle ook die party gaan verlaat.
Die EFF-leier, Julius Malema, het egter tydens die nuuskonferensie waartydens Shivambu se bedanking uit die EFF amptelik aangekondig is, toegegee dat meer EFF-lede waarskynlik sy voorbeeld sal volg. Hy het EFF-lede op grondvlak voorberei dat daar waarskynlik nog bedankings uit die party sal wees en sê hulle moet daarop voorbereid wees.
Malema het bevestig dat Mzwanele Manyi ook reeds as EFF-parlementslid bedank het om by die MK-party aan te sluit.
Manyi het nie die oorspronklike lys van die EFF gehaal om parlement toe te gaan nie. Malema het glo self ’n persoon van die lys verwyder wat jare lank vir die EFF gewerk het, om Manyi in die parlement te akkommodeer.
Malema sê Shivambu se bedanking was vir hom ’n pynlike skok gewees en het dit vergelyk met die nuus wat hy gekry het toe sy ma dood is.
"When @FloydShivambu sent me the resignation letter yesterday, I felt what I felt whe I received the news of the passing of my mother," @Julius_S_Malema#EFFPresser floyd. Ndlozi. The eff. Lady zamar pic.twitter.com/c3JzwQ1xot
— Meshack Mathe Bevhula (@MeshackBevhula) August 15, 2024
Hy sê daar was geen bakleiery of konflik tussen hom en Shivambu wat daartoe gelei het dat hy die EFF verlaat het nie. Hy sê dit is pynlik en dit was onverwags. City Press het egter berig daar is betroubaar verneem dat die EFF se tweede in bevel bedank het ná ’n uitval met Malema toe Malema gehoor het Shivambu wil sy leierskap uitdaag by die EFF se nasionale konferensie in Desember. Malema ontken dit.
Volgens Malema het sommige EFF-leiers trane gestort toe hulle van Shivambu se bedanking hoor, omdat hulle dit nie sien kom het nie. Hy sê daar is egter niks wat hulle kan doen wanneer mense persoonlike besluite neem nie.
Malema het Donderdag die deur vir Shivambu oopgehou indien hy sou besluit om na die EFF terug te keer. Hy sê die EFF se grondwet laat nie mense toe om te bedank en by ander politieke partye aan te sluit en weer terug te kom na die EFF nie. “Maar ek het hierdie aanbod aan Floyd gemaak, die dag wanneer jy besluit om terug te kom, is jy meer as welkom.” Malema sê dit is omdat Shivambu nie net ’n gewone lid van die EFF is nie, maar die man wat die party saam met hom gestig en uitgebou het.
MALEMA: The Constitution of the EFF DOES NOT allow people to resign and join other Political parties, and come back to the Party.
BUT I HAVE MADE THIS OFFER TO FLOYD, that the day you decide to come back, YOU ARE MORE THAN WELCOME #EFFPresser
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) August 15, 2024
Daar was uiteenlopende reaksies op sosiale media oor die paleisrevolusie wat in die EFF se geledere losgebars het.
Malema en Shivambu was albei die afgelope tyd in die media se kollig ná bewerings dat hulle finansieel voordeel getrek het uit die VBS-bankskandaal. Die twee word albei van korrupsie, bedrog en geldwassery beskuldig, maar nie een van hulle is tot dusver daarvoor aangekla nie.
Dit volg nadat die bank se voorsitter, Tshifhiwa Matodzi, beweer het dat Malema en Shivambu betrokke was by die aanvaarding van onwettige voordele van die bank.
Daar word beweer dat hulle die onwettige opbrengs gebruik het om ’n buitensporige lewenstyl te finansier en eiendomme te bekom, wat baie mense, insluitend pensioenarisse, se lewens verwoes het omdat al hul spaargeld daarmee heen is.
Malema het gesê wat homself betref, sal hy begrawe word met die vlag van die EFF op sy kis. “My kis sal toegedraai word met die vlag van die EFF en ek sal nooit my rug op my mense draai nie.”
MALEMA: So, I want to Repeat, I will be buried with the FLAG OF THE EFF. My Coffin will be wrapped with the FLAG OF THE EFF, and I Will NEVER turn my back on my people. #EFFPresser
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) August 15, 2024