Die DA-leier in Gauteng wat Woensdag bedank het, sê as die party hom gaan slegsê omdat hy bedank het, en hy weet hulle sal, dan gaan hy nog dinge van die party oopvlek in die openbaar.
John Moodey het ook as lid van die party bedank. Hy is sedert 1998 ’n lid van die DA, maar sê hy is nie meer gemaklik om ’n lid te wees nie. Moodey was een van drie kandidate wat op die kortlys was om die nuwe leier van die party te word. Sy bedanking volg nadat verskeie ander prominente persone, soos die voormalige burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, en die voormalige partyleier, Mmusi Maimane, die DA verlaat het.
Sy skielike bedanking kom te midde van spanning binne die party, met Moodey wat die voorsitter van die Federale Raad, Helen Zille, kritiseer oor haar twiets. Hy sê hy wil nie langer aanbly om aanklagte teen hom te verdedig omdat hy die voormalige leier, Mmusi Maimane, gesteun het nie.
DA-ondersteuners het uiteenlopend reageer op Moodey se bedanking. Sommige meen dit sal weinig verskil maak aan die DA se steun by kiesers, terwyl ander glo dit gaan die party baie stemme kos tydens volgende jaar se munisipale verkiesing. Dit is bekend dat Moodey ’n groot ondersteuner van beide Maimane en Mashaba was. Daar word bespiegel dat hy hom waarskynlik by Mashaba se nuwe party, Action SA, sal aansluit. Hy het egter nie aangedui by watter party hy hom gaan aansluit nie en sê hy het verskeie aanbiedings in die private sektor en van nieregeringsorganisasies ontvang.
Moodey het die aankondiging van sy bedanking Woensdag op ’n mediakonferensie in Roodepoort gedoen wat regstreeks op Facebook uitgesaai is.
Volgens Moodey was hy “nie meer lus” vir die DA nie. Hy sê die party is volledig gekaap deur ’n sekere wit faksie en as hy nie self bedank het nie, sou hulle hom uitgeskop het. Die party is volgens hom op die oomblik meer begaan oor wit belange en is bevooroordeeld teenoor swart Suid-Afrikaners.
“Ek kan nie aanbly net om ’n salaris te ontvang nie. Ek kondig vandag aan dat ek as lid van die DA bedank,” het hy gesê.
Een van die tekens dat die DA deur wit mense oorgeneem is, is volgens hom die feit dat baie swart burgemeesters in die Wes-Kaap deur wit burgemeesters vervang is.
“As mens net na die afgelope paar maande kyk, is daar nie minder nie as vyf swart burgemeesters deur wit burgemeesters vervang, en daar is mense wat die party as gevolg daarvan verlaat.”
Die joernalis Heindrich Wyngaard, wat presies ’n week gelede vir die dagblad Beeld ’n onderhoud met Moodey gevoer het, het Woensdag op Facebook gesê tydens die onderhoud was die tekens reeds daar dat sy kop straks na Herman Mashaba se kant toe staan.
Moodey het in die onderhoud met Wyngaard sterk uitgevaar teen die wyse waarop die party mense soos Maimane en Mashaba behandel het. Hy sê aanvanklik kon swart leiers onder Helen Zille se leierskap gedy, maar sy maak nou haar goeie werk ongedaan omdat haar eksperiment met Maimane gefaal het.
Volgens hom kan die DA se swak vertoning tydens verlede jaar se verkiesing nie net voor Maimane se deur gelê word nie, omdat die party nie net wit steun verloor het nie maar ook Indiër-, swart en bruin steun.
Buro: MvH