Nóg duurder petrol is Suid-Afrikaners se voorland

  • 0

Suid-Afrikaners moet hulle staal vir nog ’n petrolprysverhoging in Desember vanweë ’n verswakkende rand en hoë internasionale oliepryse.

Die Sentrale Energiefonds sal na verwagting later vandeesweek sy midmaandelikse petrolvooruitskattings vir Suid-Afrika bekend maak. Kenners voorspel ’n donker prentjie vir die komende maande.

Suid-Afrikaanse brandstofpryse het op 3 November aansienlik gestyg. Die Automobiel Assosiasie van Suid-Afrika (AA) waarsku dat R20 per liter teen die einde van die jaar ’n moontlikheid is.

BusinessTech berig dat verlede maand se prysstyging, wat die binnelandse 95-oktaan-petrolprys tot verby R19,50 per liter laat styg het, prysinflasie nou tot 33,9% vir vanjaar opgestoot het. Dit sal na verwagting ’n rimpeleffek op die hele voorsieningsketting in die ekonomie hê.

Projeksies van FNB skets ook ’n donker prentjie vir die komende maande, met Chantal Marx, hoof van Beleggingsnavorsing by FNB Wealth and Investments, wat dubbelsyferinflasie tot ten minste Maart 2022 vir brandstofpryse voorspel.

Die vakbond Solidariteit het die afgelope week skrywes aan die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, sowel as die minister van finansies, Enoch Godongwana, gestuur oor die dramatiese styging in brandstofpryse waaronder Suid-Afrikaners tans gebuk gaan.

Solidariteit sê in ’n verklaring Suid-Afrikaners bevind hulle tans in die benarde posisie waar baie nie finansieel ten volle herstel het van die vernietiging wat die COVID-19-pandemie veroorsaak het nie.

“Dit is in die lig hiervan dat ons ’n beroep op die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie doen om alle brandstofpryse op beide groot- en kleinhandelvlakke dringend te dereguleer. Ons doen ook ’n  beroep op die Departement van Finansies om die brandstofheffing te verminder,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by Solidariteit

Volgens Solidariteit lê brandstof in die hart van enige ekonomie, en daarom is dit van die uiterste belang dat pryse so laag as moontlik moet wees of ten minste nie kunsmatig hoog gehou moet word nie, om burgers in staat te stel om by die werk te kom en om dit moontlik te maak vir goedere en dienste om hul pad na burgers te vind.

“Die pandemie en jarelange trae ekonomiese groei is ’n werklikheid terwyl lewenskoste aanhou styg. Een so ’n koste is die brandstofprys, wat tans op die hoogste vlakke in Suid-Afrika se geskiedenis staan. Volgens die jongste VPI-syfers van Statistieke Suid-Afrika is brandstof tans 19,9% duurder as ’n jaar tevore in September 2020. Sedertdien het ons massiewe prysstygings gehad, en spesifiek die verhogings van meer as R1 per liter op elke brandstoftipe aan die begin van November vanjaar,” verduidelik Du Buisson.

Solidariteit voer aan dat toe die kleinhandelprys van diesel gedereguleer is, ons byna onmiddellik ’n aansienlike daling in pryse gesien het. Petrol is tans sowat 20c duurder as diesel wanneer dit teen R9,37 per liter ingevoer word. Op kleinhandelvlak is die prysverskil egter dikwels meer as R2 per liter, met R16,66 die laagste dieselprys wat Solidariteit kon opspoor –  ’n verskil van R2,88 per liter.

“Soos wat deur die dieselprys aangetoon en bewys word, is deregulering in die publiek se belang. Ons doen dus ’n beroep op die minister van minerale hulpbronne om petrolpryse op sowel groot- as kleinhandelvlak te dereguleer en om ook dieselpryse op groothandelvlak te dereguleer,” het Du Buisson gesê.

“Ons land tel vandag onder die minderheid van lande wie se regerings die huidige mate van kunsmatige prysmanipulasie uitoefen. Om sake te vererger, dring ons regering daarop aan om die prys van sekere brandstowwe kunsmatig hoog te hou, terwyl byna alle ander regerings ingryp om die brandstofprys laer te hou. Dié benadering van die regering strek tot nadeel van alle Suid-Afrikaners wat nog van een van die grootste ekonomiese afswaaie in die wêreldgeskiedenis moet herstel.”

Hy sê dit is Solidariteit se vaste oortuiging dat die voortsetting van bogenoemde prysregulering op irrasionele en onbillike optrede deur die ministers neerkom. Indien die ministers besluit om nie verligting aan burgers te bied nie, kan regsoptrede deur dit in die hof uit te daag, nie uitgesluit word nie, het Du Buisson gewaarsku.

Om die volledige brief aan die Minister van Minerale Hulpbronne en Energie te lees, klik hier.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top