Nog geen borgtog vir omstrede diamantman en sy vrou

  • 0

Die omstrede diamanthandelaar Louis Liebenberg en sy vrou, Dezzi, sal tot 15 November agter tralies moet sit voordat hulle borgaansoeke aangehoor sal word.

Die verhoor waarin hulle en sewe ander mense aangekla word, is gister (Donderdag 31 Oktober)  in Bronkhorstspruit uitgestel tot 4 Februarie volgende jaar.

Vier medebeskuldigdes het Donderdag borgtog ontvang in hul tweede hofverskyning in die landdroshof in Bronkhorstspruit in Gauteng. Hulle is Nicky van Heerden, Liebenberg se voormalige persoonlike assistent, Hannes Badenhorst, ’n voormalige direkteur, en sy vrou Christelle, asook Dewald Strydom, ’n voormalige direkteur.

Daar was nie Donderdag genoeg tyd voordat die hof verdaag het om Liebenberg en sy vrou se aansoeke aan te hoor nie. Die verhoor is regstreeks op die internet gestroom.

Liebenberg se prokureur het gesê Liebenberg beweer dat daar deur die minister van korrektiewe dienste, Pieter Groenewald, opdrag gegee is om sy lewe “hel” te maak in die tronk, waarop Dezzi in trane uitgebars het.

Drie van die beskuldigdes is reeds verlede week op borgtog vrygelaat, naamlik Liebenberg se voormalige prokureur, Walter Niedinger, Ronelle Kleynhans, mededirekteur van Liebenberg se maatskappy Tariomix, wat gelikwideer is, en Helena Schulenburg, voormalige kantoorbestuurder van Liebenberg se maatskappy.

Hulle staan almal tereg op aanklagte van bedrog, geldwassery, diefstal en rampokkery. Die nege verdagtes is verlede week in Gauteng en Noordwes in hegtenis geneem in verband met die multimiljardrand-diamantbeleggingskema, waarna borgtog aan drie van die verdagtes toegestaan is tydens hul eerste hofverskyning verlede Donderdag.

Liebenberg en sy agt medebeskuldigdes word almal daarvan aangekla dat hulle ’n massiewe beleggingsbedrogspul bedryf het waarin hulle na bewering duisende mense bedrieg het om R4 miljard in ’n diamantskema te belê.

Die beweerde bedrogspul is deur twee maatskappye wat deur Liebenberg, Tariomix en Forever Zircon besit word, uitgevoer.

Volgens die staat kan daar nog arrestasies wees.

Nog vier aanklagte is Donderdag by die aangeklaagdes se 42 klagtes op die klagstaat gevoeg, naamlik een van korrupsie en drie van diefstal .

Sewe van die nege beskuldigers moes tot dusver borgtog van tussen R5 000 en R100 000 elk betaal.

Liebenberg het na bewering voornemende beleggers op sosiale media gewerf om in die koop en verkoop van diamante te belê. Hulle is na bewering hoë opbrengste oor ’n kort tydperk belowe. Duisende mense het na bewering sowat R4,5 miljard belê.

Liebenberg, wat ’n uitgesproke ondersteuner van Jacob Zuma en sy MK-party is, kon Donderdag op die steun van ’n paar MK-lede wat die hofsaak bygewoon het, staatmaak.

Vroeër die week het Liebenberg by monde van een van sy werknemers op Facebook ’n beroep op sy ondersteuners gedoen om die hofsaak te befonds en te veg vir die myn waar die diamante na bewering gedelf word. “Die tyd het aangebreek dat julle baklei vir julle myn,” lui die plasing op sy Facebook-blad wat volgens die persoon wat dit geplaas het, Liebenberg se woorde is. Die Facebook-blad, wat na bewering onder andere deur Liebenberg gebruik is om sy pakkies te adverteer en beleggers te lok, is sedertdien ook deur die likwidateurs oorgeneem wat aangekondig het dit gaan gesluit word.

Intussen is ’n “sakeplan” van Liebenberg se broer, Yochanan Liebenberg, wat baie herinner aan sy broer se diamantpakkies, die afgelope week wyd op sosiale media gedeel. Netwerk24 het ook Donderdag daaroor berig.

Yochanan Liebenberg was voorheen deel van sy broer se besigheid. Na ’n hewige rusie, het hulle paaie stormagtig geskei, maar vroeër vanjaar het hulle die strydbyl begrawe en vrede gemaak.

Volgens Yochanan se sakemodel word die lewensvatbaarheid en aantrekkingskrag daarvan bewys deur ’n merkwaardige sukses in Suid-Afrika, “waar ’n markpenetrasie van 1,48% binne die 2,7 miljoen wit Afrikaanssprekende demografie behaal is, wat 40 000 beleggers gelok het wat R6 miljard (ongeveer VSA$400 miljoen) bygedra het in net twee jaar deur Joint Ondernemingsooreenkomste (JV Partners)”.

Hy sê in sy sakeplan hierdie prestasie demonstreer nie net die groot onbenutte potensiaal binne spesifieke markte nie, maar onderstreep ook die “universele aantrekkingskrag van ons platforms”.

Hy het op navraag gesê wat hy beplan, is sy saak, en dit sal binne die raamwerk van wetlike en regulatoriese vereistes plaasvind van enige jurisdiksie waarin hy sou besluit om te opereer.

Hy sê hy dit het niks te doen met sy broer of sy besighede nie, en dit was slegs ’n konsepplan wat in elk geval oud is.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top