Nog klagtes ingedien teen EFF se opstokery

  • 0

Nog klagte is Donderdag by die polisie teen die EFF ingedien, terwyl die party ook by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie aangekla is vir die opruiende uitsprake uit hulle  geledere die afgelope week.

Dit volg nadat die burgerregteorganisasie AfriForum en die vakbond Solidariteit vroeër die week ook strafregtelike klagte van laster, sameswering vir die aanhitsing tot geweld en aanranding deur middel van dreigemente teen die leier van die EFF, Julius Malema, ingedien het.

Die jongste organisasie wat hulle hierby skaar, is die landbou-organisasie TLU SA. Die organisasie sê in ’n verklaring wat Donderdag uitgereik is dat die dreigemente van Malema teen die polisie vir TLU SA onaanvaarbaar en ’n bedreiging vir stabiliteit in die land is. “Suid-Afrika, en spesifiek die regering, staan op die oomblik voor een van die grootste toetse van geloofwaardigheid en stabiliteit in hulle hantering van die voorval.”

Die leier van die EFF het tydens ’n byeenkoms in die Vrystaat gesê dat hulle polisielede in hulle huise sal aanval.

Die president van TLU SA, Henry Geldenhuys, het Donderdag in Sheepmoor, Mpumalanga ’n klag van terrorisme en ondermyning teen Malema gelê oor hierdie uitsprake.

“Dit is totaal onaanvaarbaar dat enige persoon blatant en in die openbaar ’n aanslag teen die SAPD en sy lede loods,” sê Geldenhuys. “Die SAPD verteenwoordig die gesag in ons land en sodanige aanslag moet dus in die ernstigste moontlike lig gesien word.” Die feit dat Malema ook ’n sittende lid van die parlement is, behoort volgens Geldenhuys verswarend teen hom te tel.

“Die staat behoort alle regsmiddele tot hul beskikking in werking te stel om korte mette te maak met hierdie soort gedrag en uitsprake.”

TLU SA sê dit is onmoontlik om aan die stabiliteit in Suid-Afrika te bou wanneer sulke gedrag slegs deur middel van verklarings verdoem word en eis daadwerklike optrede. Hulle sê Malema het hom nou al herhaaldelik bewys as een van die grootste destabiliseerders van wet en orde, asook verhoudinge, in die land.

“Dit is vir ons as landbouers onaanvaarbaar dat ongegronde stellings soos hierdie gemaak word,” sê Geldenhuys. “Dit is kommerwekkend dat ’n klimaat geskep word waarin verskille met fisieke geweld besleg kan word. Malema en sy trawante se uitsprake dra gewis by tot die geweldskultuur wat Suid-Afrika teister en elke wetsgehoorsame burger se toekoms steel.”

Hy sê die regering moet in hul optrede teen Malema wys of hulle regtig die land regeer en of hulle maar eintlik – soos baie keer beweer word – net pionne in die EFF se spel is.

Solidariteit het Donderdag ook ’n afsondelike ’n klag teen Marshall Dlamini, sekretaris-generaal van die EFF, by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gelê. Dit volg na uitlatings van Dlamini verlede week in ’n  toespraak wat hy tydens die EFF se betoging by Brackenfell gelewer het.

Solidariteit sê in ’n verklaring wat ook Donderdag uitgereik is, Dlamini het tydens die EFF se betoging in Brackenfell verskeie onrusbarende uitlatings teenoor minderhede, spesifiek die wit minderheid in Suid-Afrika, gemaak. “Sy woorde vanaf die verhoog aan die skare het uiteindelik in dade oorgegaan toe EFF-betogers ’n wit man ernstig aangerand het.”

Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), word Suid-Afrika se rassespanning tot breekpunt deur die EFF se optrede gedruk. Hy sê as die situasie bloot verdra word, sal dit tot ’n ontploffing in die kruitvat lei wat tot almal se nadeel gaan strek. “Dit is nou nodig dat redelike mense teen hulle opstaan.”

Solidariteit voer aan dat Dlamini se toespraak voldoen aan die internasionale kriteria vir rassistiese haatspraak en dat dit die ideale geleentheid vir die Menseregtekommissie is om te wys dat hulle nie ’n tandelose waghond is nie, maar ernstig oor die uitroei van rassistiese haatspraak is, waar dit ook al voorkom.

“Mens kan nie elke liewe Facebook-profiel in die land polisieer nie, daarom is dit nodig om eerder voorbeelde van hooggeplaastes te maak wat hulleself skuldig aan rassisme maak.” Dlamini se uitlatings is verwerplik en dit is hoogtyd dat parlementslede wat hulleself skuldig aan haatspraak maak, oor dieselfde kam as afgetrede eiendomsagente geskeer word, sê Mulder.

Solidariteit sê ewewigtige optrede is uiteindelik al wat die vertroue van die publiek in die Menseregtekommissie gaan herstel en dat dit al manier is om ware rassisme aan bande te lê.

“Daar is geen regverdiging vir enigiemand om ’n spesifieke rassegroep in die geheel as die ‘vyand’ te brandmerk en dit dan duidelik te stel dat mens jou vyand om die lewe moet bring nie. Boonop is die EFF ’n party wat al herhaaldelik aangedui het dat hulle gemaklik met die idee van ’n burgeroorlog in Suid-Afrika is. Gegewe die geweldige vlakke van rassespanning tans in ons land en die toenemende wantroue van gemeenskappe teenoor die staat, is die tyd vir hoofstuk 9-instellings se katvoetlopery rondom politici se ego’s, ten koste van vrede tussen rasse, nou finaal verby,” het Mulder gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top