Nog ’n boek vol Zuma-skandale

  • 0

 

Nog ’n boek wat oud president Jacob Zuma in ’n uiters slegte lig stel en sy skandale nog verder een vir een oopvlek, is pas gepubliseer.

In die jongste van ’n swetterjoel boeke wat Zuma se ongerymdhede tydens sy presidentskap aan die kaak stel vertel ’n voormalige redakteur en werknemer van die omstrede TV-kanaal ANN7 van Zuma se direkte aandeel in die stigting van die TV-kanaal ANN7.

Die Indiër joernalis Rajesh Sundaram onthul in sy boek Indentured Behind the Scenes at Gutpa TV dat Zuma ’n direkte aandeel gehad het in die totstandkoming van ANN7.

Die boek wat plofbare inligting bevat, onthul ook hoe Gupta-lakeie op ’n bedrieglike wyse Suid-Afrikaanse werksgeleenthede aan mense van Indiese afkoms toegeken het.

Sundaram se boek is een van verskeie boeke wat die afgelope tyd verskyn het waarin Zuma se rol in staatskaping, korrupsie en ander ongerymdhede onthul word. Die bekendste hiervan is Jaques Pauw se boek President’s Keepers wat oornag ’n blitsverkoper geword het en alle boekverkooprekords in Suid-Afrika oorskry het.

Ander boeke waarin Zuma gediskrediteer word en wat onlangs verskyn het, sluit Adriaan Basson se boeke Zuma Exposed en Dead President Walking in. Nog boeke wat Zuma se skandale oopvlek is onder andere Ralph Mathekga se When Zuma Goes en The Republic of the Gupta deur Pieter-Louis Myburgh.

Die titel van Sundaram se boek Indentured verwys na ’n stelsel van slawerny waar Indiese burgers na voormalige kolonies verskeep word om slawe-arbeid te verrig.

Rajesh Sundaram het enkele dae na die berugte Gupta-troue in 2013 by Sun City in Suid-Afrika aangekom. Hy is aangestel as redakteur van die destyds onbekende Infinity Media Networks wat die amptelike naam van ANN7 is.

Saam met ’n klein span professionele Indiër TV-persone moes hulle ’n TV-nuuskanaal op die been bring wat die grootste nuuskanaal in Suid-Afrika sou wees.

In sy boek word verskeie agter-die-skerms gekonkel onthul. Skokkende politieke misbruik om die TV-stasie te help, die misbruik van personeel en die minagting van die wet is alles deel van die verhaal wat hy vertel.

Volgens die uitgewers, Jacana, bevat die boek verskeie stories oor die Gupta-broers en hulle intieme verhouding met Zuma en waarom hy bekend staan as Nommer 9.

Enkele weke na sy aankoms in Suid-Afrika is Sundaram deur Zuma self toegespreek oor die werk van Africa News Network 7 wat algemeen as ANN7 bekend staan.

Selfs die naam van die TV kanaal was volgens hom Zuma se voorstel. Zuma het glo voorgestel die naam moet Africa News Network wees, maar omdat die naam reeds geneem was is besluit op Africa News Network 7 of ANN7.

Die uitgewers sê hulle het ’n aantal vrae aan Zuma gestuur voordat die boek gepubliseer is, maar hy het nie daarop reageer nie.

Zuma se persoonlike inmenging in die TV-stasie strek glo tot sover as om te besluit oor die aanbieders van sekere programme. Hy het onder meer aanbeveel dat die destydse regeringswoordvoerder Mzwanele Manyi as aanbieder aangestel word. Hy was glo nie die geskikste kandidaat toe daar ’n onderhoud met hom gevoer is nie en het glad nie goed oorgekom nie. Daar is egter besluit om hom steeds aan te stel om Zuma tevrede te stel.

Zuma se inmenging was nie net tot advies beperk nie. Selfs die logo van die nuuskanaal is deur hom goedgekeur.

Sundaram se twee-jaar kontrak by ANN7 het in 2013 skielik tot ’n einde gekom na hewige interne konflik by die stasie. Hy het na sy vertrek destyds aan City Press vertel hoe die Guptas hom gedreig en geïntimideer het nadat hy daar weg is.

Hulle was glo vol selfvertroue dat hulle steeds die septer sal swaai as Zuma nie meer president van Suid-Afrika is nie omdat hulle genoeg invloed in die ANC gehad het.

Buro: NB
  • 0
Top