Nóg ’n hofsaak oor Afrikaans by Universiteit Stellenbosch

  • 0

Die taalstryd oor Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch (US) stuur op nog ’n hofsaak af. Hofstukke is Maandag by die Hooggeregshof in Kaapstad ingedien om die universiteit te probeer dwing om Afrikaans nie verder af te skaal nie.

Die studenteorganisasie StudentePlein, tesame met die DA en studente van die US, sê in ’n verklaring hulle bring die hofaansoek om die US te dwing om hul eie taalbeleid, volgens StudentePlein, korrek te implementeer en ook die [vermoedelike] verwaarlosing van Afrikaans stop te sit.

Die hofaansoek spruit volgens die pro-Afrikaanse studenteorganisasie uit ’n interne ondersoek wat glo bevind het dat die US vermoedelik alreeds vir vier agtereenvolgende semesters sy taalbeleid ignoreer deur alle fakulteite op senaatsvlak te magtig om nie nuwe leermateriaal in Afrikaans aan te bied nie.

Die US ontken egter dat hulle afwyk van die 2016-taalbeleid. Volgens die US bly hulle verbind tot Afrikaans as onderrig- ​​en kommunikasiemedium in ’n inklusiewe, veeltalige konteks. Hulle sê dit is een van die min instellings vir hoër onderwys in ons veeltalige, diverse land wat hierdie benadering volg.

StudentePlein het verlede maand in ’n skrywe aan die US vir ’n onderneming gevra dat geen verdere [beweerde] onregmatige afwykings van hul taalbeleid sal geskied nie. Hulle beweer die US het ontkennend gereageer en geweier om so ’n onderneming te gee.

“Dit het vir StudentePlein duidelik geword dat die US eerder ontwykend en ontkennend wil omgaan met hul eie repudiëring van hul taalbeleid en verwaarlosing van Afrikaans as onderrigtaal, as om foute reg te stel en nadeel vir Afrikaanse studente te versag. Omdat briewe skryf en gesprekvoering nie meer help nie, is dit ongelukkig nou nodig om die hof te nader om studente se regte te beskerm,” sê Tian Alberts, direkteur by StudentePlein.

StudentePlein en die ander applikante in die saak vra die hof om die US te gelas om hul taalbeleid korrek te implementeer en weer nuwe leermateriaal in Afrikaans beskikbaar te stel soos wat die taalbeleid en fakulteite se taalimplementeringsplanne vereis.

“Hierdie hofaansoek is ’n eerste stap om onmiddellike verligting te bring vir die meer as 8 000 studente by die US wat verkies om toegang tot kennisbronne in Afrikaans te ontvang. StudentePlein fokus egter hoofsaaklik op die voorsiening van Afrikaanse e-leermateriaal aan lede sodat hulle ’n volwaardige studie-ervaring in Afrikaans kan geniet. Dit is jammer dat tyd en hulpbronne nou op litigasie bestee moet word omdat die US hul eie reëls buite-om die taalbeleid vir die afskaffing van Afrikaans maak.”

StudentePlein meen dat alhoewel die huidige taalbeleid weinig beskerming vir Afrikaanse studente bied, dit steeds belangrik is dat die beleid nie deur die Senaat geïgnoreer moet word nie en dat Afrikaanse studente ten minste moet kry wat hul kragtens die beleid toekom.

“’n Oorwinning in hierdie hofsaak sal nie ’n meer regverdige taalbedeling vir Afrikaanse studente by die US teweegbring nie, maar wel tydelike verligting bring en verantwoordbaarheid laat seëvier.”

StudentePlein sê hulle sal aanhou om in die belang van lede en Afrikaanse studente in die algemeen die US verantwoordbaar te hou, en om Afrikaanse studente met die nodige studiemateriaal en akademiese mentorskap by te staan.

Intussen woed daar ’n onverkwiklike bekgeveg in media tussen die DA en die Vryheidsfront Plus oor Afrikaans by die US. Die twee partye beskuldig mekaar in die aanloop tot volgende maand se munisipale verkiesing daarvan dat hulle die taalkwessie uitbuit om kiesers te lok om vir hulle te stem.

Die DA se kiesafdelingshoof: Stellenbosch Munisipaliteit, Leon Schreiber, beskuldig die VF Plus in ’n meningstuk op Netwerk24 daarvan dat hulle teen die belange van Afrikaans werk. Hy beweer die VF Plus staan op die kantlyn terwyl die DA in die bresse tree vir Afrikaans.

In ’n soortgelyke meningstuk op Netwerk24 skryf die VF Plus se hoofsweep in die parlement, Corné Mulder, die DA se “taalbekering is verdag”. Hy wys onder andere daarop dat die DA selfs in die Wes-Kaap waar hulle aan die bewind is, Engels as voorkeurtaal gebruik.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top