Nog ’n kindermoord en nog oorstromings

  • 0
Nederland treur ná nog ’n kindermoord

Die familie van die negejarige Gino uit Maastricht was platgeslaan toe dit uiteindelik afgelope Saterdag bekend word dat sy liggaam gevind is.

Klein Gino het Woensdagaand vermis geraak nadat hy in ’n speelpark naby sy suster se huis in Kerkrade naby Maastricht gespeel het, berig nu.nl. ’n Uitgebreide polisiesoektog met vrywilligers, honde, hommeltuie en selfs ’n helikopter is ontplooi.

Teen Donderdag en Vrydag is voorwerpe wat aan Gino behoort het, gevind.

Vrydagaand is ’n 22-jarige man van Geleen naby Maastricht aangekeer en is onder verdenking van moontlike betrokkenheid by die voorval. Die volgende dag, die Saterdag, het die polisie ’n perskonferensie gehou waartydens meegedeel is dat die liggaam van klein Gino in ’n onbewoonde huis gevind is.

Die nuusdiens 1Limburg berig dat die verdagte, bekend as Donny M, in 2017 deur die hof in Maastricht veroordeel is vir die bedreiging en mishandeling van twee seuns en die misbruik van minstens een van hulle.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat daar meer verdagtes by die voorval betrokke was.

Donny M het Dinsdag in die hof verskyn. Die regter het beslis dat hy voorlopig nog in aanhouding bly.

’n Stille tog is vir Woensdag in Kerkrade vir Gino beplan. Die optog sal by die parkie eindig waar Gino laas lewend gesien is.

Skokbeeldmateriaal in hof vertoon van moord op Peter R de Vries

Die hofsaak van die beskuldigdes Delano G (22) en Kamil E (36) vir die moord op die misdaadjoernalis Peter R de Vries het Dinsdag begin.

Op die eerste dag van die verrigtinge is beeldmateriaal van die voorval getoon. Net voordat die beeldmateriaal vertoon is, het die hof die aanwesiges oor die skokkende beelde gewaarsku, waarna De Vries se dogter, Kelly, die hof verlaat het, berig die nuusdiens nu.nl. Op van die beeldmateriaal kan ’n mens sien hoe die dader die slagoffer nader en van die toneel vlug.

Daar word vermoed dat Delano G die persoon was wat vyf minute ná die aanslag ’n berig gestuur het aan die opdraggewer, wie se identiteit nog onbekend is. In die berig beskryf hy hoe hy De Vries “dwars door zijn kk hoofd en lichaam” geskiet het en dat hy “kk-dood” is.

De Vries is verlede jaar op 6 Julie naby Leidseplein in Amsterdam doodgeskiet kort ná ’n televisieonderhoud in die program RTL Boulevard om 19:26, nog helder daglig, terwyl hy na sy motor verder af in die straat geloop het.

Die verdagtes is binne ’n uur deur die polisie vasgetrek.

Op ’n vraag deur die regter aan Delano G of hy die persoon was wat die sneller getrek het, het hy geantwoord dat hy hom op sy swygreg beroep.

België steier onder swaarste oorstromings in 20 jaar

In Landen, in die Belgiese provinsie Vlaams-Brabant, is die swaarste oorstromings in 20 jaar aangemeld. Provinsies Luik en Name moes ook onder swaar oorstromings ly. Dit volg op die ramp verlede jaar waartydens talle dorpe in België en Duitsland oorstroom is en groot skade aangerig is.

“Onze gemeente is zeer zwaar getroffen,” sê burgemeester Gino Debourx.

Sommige inwoners kla dat die plaaslike owerheid nie genoeg doen om oorstromings te beperk nie. Debourx sê egter daar was wel die afgelope 20 jaar beleggings teen oorstromings gewees. “We hebben wachtbekkens aangelecht, en we zijn bezig met ontharding.”

Die oorstromings het ook probleme veroorsaak in die provinsies Namen en die Andenne waar strate en huise oorstroom is. Ook in Borgworm, in die provinsie Luik, was daar oorstromings.

Die Extrema-buitelugfees in Houthalen-Helchteren het besoekers gevra om eers vanaf 19:00 na die feesterrein te kom. Hoewel dit swaar gereën het, het die fees nog steeds voortgegaan. “Er wordt nog altijd muziek gespeeld, maar we zitten wel met een aantal kortsluitengen,” sê ’n woordvoerder van die fees.

Elders in die land was daar ook swaar reën met gepaardgaande vloede. In Brussel is sommige tonnels vir ’n tyd lank gesluit en op die E314-hoofroete na Genk moes een van die rybane gesluit word.

Nederland moet dalk tog gas in Groningen win

Met Rusland se aankondiging verlede week dat hy summier die gastoevoer na Nederland afsny omdat die vernaamste gasaankoper nie in roebels wil betaal nie, heers daar paniek oor hoe om die tekort aan te vul met die oog op die komende winter. In die jongste verwikkeling het die Mynraad ’n advies aan die kabinet gerig waarin hy aanbeveel dat die gasveld in Groningen heropen moet word en dat Nederland se gasbergingsgeriewe dringend met 100% gevul moet word en nie 80% soos voorheen aanbeveel is nie.

Die Mynraad is ’n onafhanklike groep kenners wat die kabinet oor energievoorsiening adviseer. Die advies is omstrede, omdat daar vroeër aan inwoners van Groningen beloof is dat gaswinning gestaak sal word.

Die winning van gas in dié provinsie veroorsaak aardbewings, wat op sy beurt groot skade aan eiendom veroorsaak.

Die minister van ekonomiese sake en klimaat, Rob Jetten, het vroeër gesê volgens die beplanning moet die Groningse gasvelde in 2023 en 2024 finaal gesluit word ongeag die oorlog in Oekraïne, maar volgens die Mynraad is dit nie volhoubaar nie.

As jy wil rook, gaan jy hoes!

As dit van staatsekretaris Maarten van Ooijen afhang, sal ’n pakkie sigarette teen 2040 sowat €47 (sowat R773,99) kos, berig De Telegraaf. ’n Pakkie sigarette kos op die oomblik sowat €8 (omtrent R131,74) en Van Ooijen se plan is gegrond op navorsing wat aantoon dat prys die doeltreffendste middel is om rokers van hul gewoonte te laat afsien.

Koalisiepartye het vroeër ingestem dat ’n pakkie sigarette se prys teen 2025 na €10 (sowat R164,72) verhoog  kan word.

Van Ooijen wil hê dat die prys daarna jaarliks met €2 styg. Hy verwag dat die persentasie rokers teen 2040 van die huidige 20% na slegs 7% sal daal.

Die plan moet nog met die ministersraad bespreek word.

Daar was egter reeds kritiek van lede van die Tweede Kamer oor Van Ooijen se plan met duur sigarette. So sê kamerlid Rudmer Heerema dat “het noemen van bizarre prijsverhogingen voor een pakje sigaretten niks oplost en alleen maar onrust creëert”. Hy waarsku ook dat wetmakers rekening moet hou met die “grenseffecten” en onwettige handel in tabakprodukte.

NS maak plan om personeel te werf

Die Nederlandse Spoorweë het met ’n blink plan vorendag gekom om die nypende personeeltekort die hoof te bied. Oor die volgende paar weke gaan die NS ’n treinsimulator inspan wat hulle van stasie tot stasie gaan neem. Die publiek kry dan die geleentheid om via die simulator ’n idee te kry hoe dit voel om self as masjinis een van die nuutste treine te bestuur.

Die simulator boots die stuurkajuit van ’n trein so realisties moontlik na. “De simulator is heel realistisch: je gaat door slecht weer, er kan een vertraagde trein voor je rijden, allemaal zaken die je in het echt ook tegenkomt,” sê masjinis Mark van Dooren. “Drie kleinere schermen tonen alle knoppen en systemen die je nodig hebt om de trein te controleren. Denk aan het bedienen van de stroomafnemer, het openen en sluiten van deuren en hoe hard je mag rijden. In de simulator kunnen we de dodeman uitzetten, zodat mensen die voor het eerst rijden ook even kunnen wennen,” sê Van Dooren.

Die NS sit met 1 100 vakatures wat hy sukkel om gevul te kry. Dit het al beteken dat die spoordiens van sy werksaamhede moes inkort.

Utrecht Centraal was op Vrydag 3 Junie eerste aan die beurt. Hierna gaan die simulator na Arnhem, Alkmaar, Deventer, Rotterdam en Eindhoven.

Koningin Máxima verras met valskermsprong

Koningin Máxima het verlede week die valskermskool in Breda besoek en het, vasgemaak aan ’n ervare valskermspringer, by ’n vliegtuig uitgespring.

“Ik moest echt tegen mezelf zeggen: je moet nog ademhalen,” sê die Koningin aan die nuusdiens ANP. “Het was heel spannend. En natuurlijk word je zenuwachtiger naarmate het moment nadert.”

Die valskermspringer wat haar begelei het, sê hy het haar wel ’n bietjie gerus gestel, “maar ze deed precies zoals we het hadden gebrieft. Ze had de juiste houding. Ze mag zeker trots zijn.”

Die valskermskool lei jaarliks tussen 800 en 1 000 militêre valskermspringers op.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top