Nog ’n metro se burgemeester is die goue ketting kwyt

  • 0

Om deesdae ’n burgemeester te wees in een van die land se metro’s wat deur koalisieregerings regeer word, blyk een van die mees riskante beroepe in die land te wees.

Die mees onlangse geval van ’n burgemeester in een van die land se sewe metro’s wat aangekondig het dat hy sy goue ketting teruggee, is Tshwane se uitvoerende burgemeester, Randall Williams, wat die aankondiging Maandag gedoen het. Hy het uit eie beweging bedank voordat hy deur die opposisie uitgeskop kon word.

Dit volg skaars twee weke nadat Johannesburg hulle DA-burgemeester, Mpho Phalatse, uitgeskop en vervang het met die ANC-gesinde Thapelo Amad van Al Jama-ah. Al Jama-ah is ’n klein Moslem-party met een setel in die parlement en 11 raadslede regoor die land se munisipaliteite.

Die toekoms van Ekurhuleni se DA-burgemeester, Tania Campbell, hang aan ’n baie dun draadjie wat dalk nog dié week geknip gaan word wanneer daar na verwagting weer ’n mosie van wantroue in haar ingedien gaan word.

Dit is alles deel van die jongste samewerking tussen veral die EFF en die ANC in Gauteng om van DA-burgemeesters ontslae te raak.

In ander metro’s, soos Nelson Mandelabaai, eThekwini (Durban) en Mangaung (Bloemfontein), kan ’n burgemeester ook nie sy of haar goue ketting seker wees nie.

Die ANC in die Vrystaat gaan glo die omstrede Mangaung-burgemeester, Mxolisi Siyonzana, die trekpas gee en herroep te midde van die stad se voortgesette verval en die korrupsie in die metro. Volgens bronne in die party se tussentydse provinsiale komitee het die metro nuwe leierskap nodig. Die kabinet het die munisipaliteit verlede jaar onder nasionale administrasie geplaas ná aansienlike finansiële en diensleweringsuitdagings. Nou wil die provinsiale ANC Siyonzana as burgemeester verwyder.

Die eThekwini-burgemeester van die ANC, Mxolisi Kaunda, moes ook al ’n mosie van wantroue in die gesig staar nadat hy daarvan beskuldig is dat hy agter die ineenstorting van Durban en sy eens florerende toerismebedryf was, maar klou nog vas aan sy pos.

Kaunda het verlede Vrydagaand tydens ’n spesiale raadsitting die mosie van wantroue oorleef danksy stemme van die ANC, EFF en NFP.

In die Oos-Kaap se Nelson Mandelabaai is die DA-burgemeester, Retief Odendaal, sy posisie seker ook net solank as wat hy daarin kan slaag om sy koalisievennote tevrede te hou. Die raad se politieke stabiliteit hang gedurig aan ’n draadjie.

Die enigste twee metro’s wie se burgemeesters met ’n redelike mate van gerustheid kan gaan slaap, is Buffalo City (Oos-Londen), waar die ANC se Xola Pakati aan die stuur van sake is, en Kaapstad se Geordin Hill-Lewis, wat ook niks te vrees het vir sy posisie nie. Hy sit waarskynlik die stewigste in die saal van al die metro’s se burgemeesters.

Indien Tshwane se burgemeester nie Maandag sy bedanking aangekondig het nie, sou hy waarskynlik dieselfde paadjie moes gestap het as sy buurvrou in Johannesburg toe sy verlede maand uit die kussings gelig is.

Sy bedanking kan gesien word as ’n strategiese stap van die DA om die koalisieregering in Pretoria uit die hande van die ANC te hou en hulle koalisievennote se steun te behou.

Die DA het Maandag in ’n verklaring “kennis geneem” van Randall Williams se bedanking en hulle dank en waardering uitgespreek vir die werk wat tydens sy ampstermyn gedoen is.

Die DA sê Williams het, nadat hy te midde van Covid in 2020 tot uitvoerende burgemeester van Tshwane verkies is, en in die nasleep van ANC-wanbestuur wat die stad met ’n tekort van R4 miljard gelaat het, begin om die stad se finansies te stabiliseer. “Dit het hy gedoen as die hoof van ’n DA-minderheidsregering tot die plaaslike regeringsverkiesing in 2021.”

In November 2021 is Williams weer as die uitvoerende burgemeester van Tshwane verkies, hierdie keer as die hoof van die stad se eerste veelpartykoalisieregering.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top