Die tempo waarteen burgemeesters in die land se metro’s stoele verwissel duur steeds voort.
Die jongste van ’n reeks burgemeesters om wie se nek die goue ketting van korte duur gehang het, is Johannesburg se Thapelo Amad. Hy is in Januarie as die Goudstad se burgemeester verkies as een van slegs twee Al Jama-ah-raadslede in die stad.
Die onervare Amad het egter Maandagaand bedank en die handdoek ingegooi op die vooraand van ’n wantrouemosie teen hom.
Hy is in Januarie verkies met behulp van die ANC , EFF en die Patriotic Alliance (PA) toe hulle die DA-burgemeester, Mpho Phalatse, uitgestem het.
Amad beweer sy bedanking het nie gekom uit vrees om deur ’n mosie van wantroue uitgedryf te word nie. Hy sê dit is deel is van ’n proses om die Stad Johannesburg te stabiliseer.
Dit is egter algemene kennis dat hy waarskynlik nie die pyp sou kon gerook het om in sy pos aan te bly nie, nadat ActionSA ’n mosie van wantroue teen hom ingedien het.
ActionSA sê hulle verwelkom die bedanking, wat al ’n ruk gelede moes gebeur het, van die ANC-EFF se “marionetburgemeester” voordat hulle mosie van wantroue in hom voor die raad kon dien. “Ons hoop sy bedanking maak die deur oop vir ’n stabiele koalisie wat die ANC-EFF in die land se ekonomiese hartland uit die kussings kan lig,” sê ActionSA in ’n verklaring.
He's gone!
But he ran away in the dark of night to avoid imminent removal by a motion of no confidence, saving the embarrassment for the ANC-EFF coalition.
Thapelo Amad will be the first to go, but he won't be the last.
The work of fixing Johannesburg has just begin. pic.twitter.com/AlcSWhc8be
— ActionSA (@Action4SA) April 24, 2023
“Burgemeester Thapelo Amad het in die nag weggehardloop om dreigende verwydering uit sy pos deur ’n suksesvolle mosie van wantroue te vermy en sodoende die ANC-EFF-koalisie ’n verleentheid gespaar het. Sy bedanking is te danke aan die direkte en voortdurende druk van ActionSA. Hy het nie vrywillig bedank soos in sy bedankingstoespraak genoem nie,” sê ActionSA.
ActionSA sê hulle bly daartoe verbind om met alle opposisiepartye saam te werk om ’n pad na ’n volhoubare koalisieregering in Johannesburg te vind.
Hulle glo vas dat die mense van Johannesburg vir verandering in die munisipale verkiesing van 2021 gestem het deur die ANC se meerderheid drasties te verminder. Die nuutste burgemeester, speaker en ander ampsdraers se verkiesings was volgens die party te wyte aan agterkamer-transaksies deur die ANC se Panyaza Lesufi en die EFF.
“Ons glo om Suid-Afrika reg te ruk, moet ons die ANC en hul gevolmagtigdes van minderheidspartye uit die magsposisies verwyder. Ons sal voortgaan om alle weë te ondersoek om met eendersdenkende politieke partye saam te werk om daardie doel te bereik en om goeie bestuur en kwaliteitdienslewering aan Johannesburg te herstel.”
ActionSA sê hulle sal nie opgee in hulle verbintenis om Johannesburg reg te ruk deur middel van ’n veelpartykoalisie wat etiese en effektiewe leierskap op alle regeringsvlakke bied nie.
Ook die DA het die bedanking van Amad verwelkom. Die DA sê in ’n verklaring die vorige burgemeester, Mpho Phalatse, sal weer die party se kandidaat vir burgemeester wees wanneer ’n nuwe burgemeester verkies moet word.
Die DA se provinsiale voorsitter in Gauteng, Fred Nel, sê dit is duidelik dat Amad tydens sy kort tyd in die amp ver tekort geskiet het aan die vereistes vir die pos.
“Dit is teleurstellend dat Amad, nog ’n marionetburgemeester, deur die ANC/EFF/PA-koalisie van korrupsie vir hul persoonlike gewin gemanipuleer is. Deur Amad as burgemeester te ondersteun het die ANC/EFF/PA dienslewering gesaboteer en hul persoonlike belange bo die belange van Johannesburgers geplaas.”
Nel sê die huidige koalisie met die ANC en EFF as hoofrolspelers het ondersoeke na korrupsie wat onder die DA-veelpartykoalisie begin is, opgeskort en amptenare wat van korrupsie beskuldig word, weer aangestel.
Die vergadering waartydens ’n nuwe burgemeester verkies sal word, is tot 2 Mei uitgestel.
Die ANC/EFF/PA-koalisie het nog nie hulle kandidaat om Amad te vervang bekendgemaak nie.