Die Universiteit Stellenbosch (US) is die afgelope week om al die verkeerde redes in die nuus. Skaars nadat die rektor, Wim de Villiers, namens die universiteit verskoning gevra het omdat ’n student na bewering op ’n medestudent se rekenaar en boeke urineer het, is ’n 18-jarige eerstejaarstudent van die US glo twee keer deur ’n medestudent op die kampus verkrag.
Die bestuur van die universiteit het Donderdag in ’n verklaring gesê hulle het met groot ontsteltenis kennis geneem van ’n beweerde verkragting op die kampus.
Die beweerde oortreder, ’n student van die US, is Woensdagoggend deur die SAPD in hegtenis geneem. Die US sê in ooreenstemming met die universiteit se gevestigde prosedures en protokolle sal die universiteit die beweerde oortreder uit sy koshuis skors, hangende verdere interne en kriminele ondersoeke deur wetstoepassingsowerhede. “Hierdie aangeleentheid is nou ’n kriminele saak en die wet moet sy loop neem,” lui ’n verklaring wat Donderdag deur die universiteit uitgereik is.
JUST IN: Police have arrested a Stellenbosch University student for alleged rape.#StellenboschUniversity pic.twitter.com/FFp8wbe7ay
— Jacaranda News (@JacaNews) May 19, 2022
Hester Klopper, viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, sê die slagoffer is tans veilig en ontvang versorging. Sy het Woensdag ’n klag van verkragting teen die oortreder by die SAPD aanhangig gemaak. Die SAPD het haar na die Stellenbosse provinsiale hospitaal vergesel, waar sy ondersoek is en ook die nodige medikasie, sorg en primêre berading ontvang het.
Klopper sê die rektor en bestuur van die universiteit veroordeel alle vorme van misdaad en enige skending van menseregte, waaronder geslagsgebaseerde geweld, ten sterkste. “Die Universiteit het onmiddellik daad by die woord gevoeg wat ondersteuning aan die slagoffer betref, sowel as ten opsigte van die ondersoek en tugproses. Daar is hoegenaamd geen plek in ons samelewing, of op ons kampusse, vir enige dade van geweld nie. Ons harte gaan uit na die slagoffer van die beweerde verkragting.
“Nes my kollegas in die rektoraat, is ek persoonlik ten diepste verbind tot hierdie saak. In pas met ons beleid vir onbillike diskriminasie en teistering, sal ons steeds harder werk om ’n omgewing te skep wat vry is van geslagsgebaseerde geweld en om gelyke regte vir almal te bevorder. Menswaardighed moet en sal altyd ononderhandelbaar wees by die Universiteit Stellenbosch. Menswaardigheid moet gerespekteer en bevestig word, maar ook herstel word wanneer daarop inbreuk gemaak is, ongeag die oortreding en sonder enige vrees vir of beskerming van die beweerde oortreder,” sê Klopper.
In ’n afsonderlike verklaring sê die rektor met verwysing na die afgelope naweek se rassevoorval waar ’n wit student na bewering op ’n swart student se rekenaar en boeke geürineer het: “Die skokkende voorval by Huis Marais wat op die selfoonvideo te sien is, is geheel en al onaanvaarbaar.”
De Villiers sê die US veroordeel enige destruktiewe en diskriminerende gedrag wat ’n inbreuk maak op die regte van enige student of lid van die US-gemeenskap.
Die damestudent wat na bewering verkrag is, het teen Donderdag nog nie die voorval by die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid aangemeld nie, maar sy is van inligting voorsien oor die verskeie maniere waarop so ’n voorval ook intern by die US aangemeld kan word. Die universiteit sê sy sal hierin bygestaan word en hulle respekteer haar wense en besluite.
Wat betref die ondersoek na die urineringsvideo sê die universiteit ondanks hulle sterk veroordeling van enige voorval wat deur rassisme aangevuur word, tesame met die erge en verstaanbare openbare verontwaardiging, moet die saak volgens regsvoorskrifte hanteer word om ’n ten volle verdedigbare uitkoms te verkry.
Die US sê in ’n verklaring die finale uitkoms moet ’n presedent skep om enige herhaling van bewese skendings van die reg op persoonlike menswaardigheid op die US-kampus te verhoed.
Die pa van die student op wie se rekenaar daar skynbaar geürineer is, het intussen ontken dat hy en die ouers van die seun wat dit na bewering gedoen het, mekaar gaan ontmoet om die saak uit te klaar. Hy sê die seun se ouers het hom wel gekontak, maar hy het geen planne om hulle te ontmoet nie.
The father of the #StellenboschUniversity student whose belongings were urinated on took on social media to debunk reports of the so called reconciliation meeting with the pepertrator's family 👀 pic.twitter.com/OR0fYMjSdI
— Veve (@LudidiVelani) May 19, 2022