Die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, het Maandag vir die soveelste keer bloedneus in die hof gekry.
Die Hooggeregshof in Pretoria het in ’n striemende uitspraak van 111 bladsye bevind dat Mkhwebane staatgemaak het op inligting wat reeds gediskrediteer was toe sy haar verslag oor die sogenaamde geheime eenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens saamgestel het.
Die hof het snydende kommentaar gelewer oor haar werksaamhede en ook ’n kostebevel teen haar uitgereik.
Mkhwebane het reeds in verskeie howe die onderspit gedelf oor die manier waarop sy haar werk doen en het haar al ook teen die Valke vasgeloop.
Selfs die hoogste hof in die land, naamlik die Konstitusionele Hof, het vroeër in ’n meerderheidsbeslissing ’n verdoemende uitspraak gelewer waarin bevind is dat sy in kwade trou opgetree het in die Reserwebank-geding.
Die hof het Maandag Mkhwebane se verslag tersyde gestel en ’n kostebevel teen haar toegestaan. ’n Volbank regters het bevind haar optrede was skokkend onvanpas, ongevraagd en laakbaar. Sy het na bewering regsfoute begaan en vermoedelik die hof met minagting behandel. Dit alles onder eed wat gesien kan word as ’n poging om die hof te mislei.
#GordhanvsPP #RogueUnit #Sars
Busisiwe Mkhwebane’s conduct is shockingly inappropriate, unwarranted, reprehensible. She made errors in law. She treated High Court with contempt. All of this under oath which may be an attempt at misleading the court, full bench at High Court says. pic.twitter.com/O6JPHGnYbk— Pauli Van Wyk (@PaulivW) December 7, 2020
Mkhwebane het in haar verslag gesê dat die voormalige kommissaris van die Inkomstediens en huidige minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, die parlement mislei het deur te versuim om te verklaar dat hy met lede van die Gupta-familie vergader het.
Mkhwebane het ook beweer dat Gordhan intelligensiewetgewing oortree het deur toe te laat dat die sogenaamde geheime eenheid geskep word. Die hof het bevind dat Mkhwebane bevooroordeeld was teen Gordhan en die voormalige waarnemende kommissaris van die Inkomstediens, Ivan Pillay.
Mkhwebane, wat reeds die gevaar loop om deur die parlement in die pad gesteek te word, se doppie mag dalk finaal geklink wees na Maandag se uitspraak teen haar.
Die joernalis Pieter du Toit het op Twitter gesê die uitspraak kan waarskynlik die ergste uitspraak nog teen die openbare beskermer wees, en sy het reeds verskeie slegte uitsprake teen haar agter die blad.
The court finds Busisiwe Mkhwebane's conduct in her dealings with the High Court "reprehensible". This could possible be the worst judgment against the PP up until now, and she's had some bad ones. Game over for the 'rogue unit' adherents.
— Pieter Du Toit (@PieterDuToit) December 7, 2020
Die onafhanklike paneel wat die parlement moet help om oor haar lot te beslis, sal bepaal of daar genoeg gronde bestaan om haar in die pad te steek nadat die DA vroeër ’n mosie ingedien het dat sy uit haar pos ontslaan word. Die komitee se werkstyd om ’n aanbeveling te maak is verlede week van 30 tot 90 dae verleng, omdat die omvang van die getuienis teen Mkhwebane te lywig is om binne 30 dae af te handel.
Volgens Maandag se uitspraak deur die volbank regters het die afgelope saak gedemonstreer dat die openbare beskermer na hulle mening nie daarin geslaag het om haar ondersoek op ’n manier uit te voer wat die OB se kantoor waardig is nie. Sodoende het sy, na bewering, die waardes wat in die Grondwet van haar vereis word, totaal verontagsaam, naamlik om onpartydig op te tree en haar werk sonder vooroordeel te doen.
Die volledige uitspraak kan hier gelees word.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het intussen gesê hy is vasberade om te verseker dat die Gupta-familie verantwoording doen oor hulle beweerde rol in staatskaping. Dit ten spyte daarvan dat die Verenigde Arabiese Emirate vermoedelik nie met plaaslike misdaadagentskappe wil saamwerk nie, het RSG Maandag berig.
Die Guptas, wat in staatskaping geïmpliseer word, het vermoedelik talle maatskappye gehad wat winsgewende kontrakte met die regering en staatsinstellings aangegaan het. Die familie het na wat berig word, beweerde sterk bande met die Zuma-familie, dermate dat hulle na bewering insae gehad het in watter minister watter pos sou beklee. Die bewerings het Zuma in 2018 uit die kussings gelig en die Guptas het die land verlaat. Daar word vermoed dat hulle hulle in Dubai bevind. Die NVG-woordvoerder, Sipho Ngwema het volgens RSG gesê pogings om die Gupas uitgelewer te kry, duur voort.