Nog ’n voormalige hoëprofiel-DA-politikus en gewese DA-burgemeester het by ActionSA aangesluit op soek na groener weivelde.
Die voormalige Oos-Kaapse DA-leier en gewese burgemeester van Gqeberha, Athol Trollip, is die tweede oud-DA-burgemeester wat die afgelope jaar by ActionSA aangesluit het.
Looking good in green 💚🇿🇦
Welcome home @AtholT! pic.twitter.com/VvEmDwPrtQ
— ActionSA (@Action4SA) February 9, 2022
Vroeër vanjaar het Bongani Baloyi, voormalige Midvaal-burgemeester, ook by ActionSA aangesluit nadat hy verlede jaar uit die DA bedank het.
Trollip het die DA in 2019 saam met die party se voormalige leier Mmusi Maimane verlaat. Hul bedankings was ’n skok vir die DA, en die party se federale leier, Helen Zille, het destyds gesê hulle sou verkies het dat Maimane en Trollip aangebly het tot ná die party se nasionale kongres die volgende jaar.
ActionSA se leier, Herman Mashaba, het Woensdag gesê ActionSA is trots om Trollip te verwelkom as die nuutste hoëprofiellid wat by hulle geledere aansluit. Hy sal die rol van die party se provinsiale voorsitter van die Oos-Kaap opneem.
This announcement represents the ongoing effort of building a deeper leadership team and diversifying ActionSA’s brand.https://t.co/NbQ0U2QApa
— ActionSA (@Action4SA) February 9, 2022
Mashaba sê hy is bly dat Trollip by die party aangesluit het. Dit verteenwoordig die voortdurende poging om ’n dieper leierskapspan te bou en ActionSA se handelsmerk te diversifiseer.
As burgemeester van Gqeberha het Trollip na die plaaslike verkiesing van 2016 te kampe gehad met verskeie mosies van wantroue teen hom in die DA-geleide koalisie toe geen party ’n volstrekte meerderheid kon behaal nie.
Volgens Mashaba is Trollip se lidmaatskap van ActionSA ’n aanduiding van die party se voorneme om leierskap in al die nege provinsies van die land te bou en strukture te aktiveer voor die uiters belangrike nasionale en provinsiale verkiesing in 2024.
Trollip is in die Oos-Kaap gebore en getoë. Sy familie het diep wortels met liberale politiek in Suid-Afrika wat terugstrek na die ou Verenigde Party, en ewe diep wortels in die boerdery. Sy politieke loopbaan het in 1980 in die destydse PFP begin.
Trollip het gesê hy het by ActionSA aangesluit omdat hy demokratiese politieke verandering wil sien.
#ActionSA Athol Trollip says he has joined the party because he wants to see real democratic change happening again in South Africa.
"I want to see real political change happening again." pic.twitter.com/3bxjOve96I
— Jacaranda News (@JacaNews) February 9, 2022
“Ek is vandag hier omdat ek werklike demokratiese verandering wil sien plaasvind. Verandering kom deur aksie, en dit is hoekom ek hier by ActionSA is.”
Hy het gesê Suid-Afrika se politiek is deur selfdienende politici besoedel, en bygevoeg hy sal nie sy voormalige party belaster nie.
“Ek het geleer dat loopbaan en oortuiging twee verskillende dinge is. Jy kan nie vir 20 jaar iets dien en bou en dit skielik net sleg maak nie. Dit sou vir my oneties en oneerbiedig wees teenoor die verhouding wat ek met hulle gehad het."
Hy het gesê dat hy ’n konsultasieonderneming begin het wat daarop gemik is om die kloof tussen die openbare en die private sektor te oorbrug.
Intussen het Baloyi, wat selfs na sy bedanking uit die DA deur hulle geloof is vir sy leierskap, die afgelope week op Twitter teruggekap na die DA se federale leier, Helen Zille, wat gesê het hy sal nog spyt wees dat hy die party vir ActionSA verlaat het.
Hi @helenzille , whether i regret joining @Action4SA in 6 months or 12 months is none of your business. Stop infantilising me, I am not your child, I decide what to do with my life.
— Bongani Baloyi (PAPA ACTION) (@BonganiBaloyiBB) February 8, 2022
Hy sê in ’n twiet wat aan haar gerig is, sy moet ophou om hom soos ’n kind te behandel. Dit is nie haar saak as hy die party oor ses of twaalf maande sou verlaat nie en hy sal self besluit wat om met sy lewe te doen.
Zille het geantwoord niemand het gesê hy kan nie besluit wat om met sy lewe te doen nie en het homself soos ’n kind gedra.