Nóg petrolprysverhoging is Suid-Afrikaners se voorland

  • 0

Suid-Afrikaners kan hulle gereedmaak vir nóg  ’n verhoging in die petrolprys volgende maand.

Die land se rekord petrolprys het verlede maand vir die eerste keer R16 per liter in die binneland verbygesteek. ’n Kombinasie van ’n swakker rand en die hoër oliepryse is vir die skerp stygings verantwoordelik. Die hoër petrolbelasting wat Suid-Afrikaners moet opdok om van punt A na punt B te kom, het die petrolprys die afgelope tyd verder laat styg. Dié styging het ’n rimpeleffek tot gevolg gehad en onder meer gelei tot hoër openbare vervoertariewe en voedselpryse.

Volgende maand se petrolverhogings sal na verwagting nie so hoog wees soos verlede maand se verhogings nie, maar ekonome waarsku dat dit die land se ekonomie verder kan benadeel as brandstofpryse styg.

Netwerk24 berig dat president Cyril Ramaphosa sy ministers in die ekonomiese groepering twee weke gegee het om met maatreëls vorendag te kom wat kan help om die hoë las wat die petrolprys op verbruikers plaas te help verlig. Ramaphosa het egter toegegee die regering se opsies is beperk. Hy sê die regering kan nie veel karring waar dit die begroting en die belastingwetgewing sal beïnvloed nie.

Ramaphosa se poging om die publiek te paai oor die stygende brandstofprys geskied teen die agtergrond van druk vanuit die verbruikersgemeenskap en opposisiepartye om die petrolreserwes te verhoog en dit te oorweeg om die hoë petrolheffings wat in Suid-Afrika geld te bevries of te verminder.

The Citizen het verlede week berig dat Ramaphosa tydens sy onlangse besoek aan drie van die olieproduserende lande, Nigerië, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emeritate ook sou poog om die las wat die hoë oliepryse op die Suid-Afrikaanse verbruikers plaas op een of ander manier te help verlig.

Saoedi-Arabië wat Suid-Afrika van byna die helfte van sy olie voorsien, sou volgens mediaberigte deur Ramaphosa versoek word om hulle  produksie te vermeerder ten einde die stygende petrolprys in die land te help stuit. Saoedi-Arabië beklee die tweede plek onder die wêreld se top10 olieproduseerders met ’n produksie van ongeveer 12 miljoen vate per dag.

Dit is onbekend wat die reaksie van Saoedi-Arabië se koning Salman bin Abdulaziz al Saud and Kroonprins Mohammad bin Salman, op Ramaphosa se pleidooi was om hulle olieproduksie te verhoog.

Daar is nog geen aanduiding met hoeveel die petrolprys volgende maand verhoog sal word nie. Die nuutste aanduiding van die Sentrale Energiefonds is dat die onderverhaling op petrol tans sowat 17 sent per liter beloop en op diesel sowat 13 sent per liter.

Suid-Afrikaners behoort teen 28 Julie te weet hoeveel hulle meer vir petrol sal moet opdok en die nuwe prys sal op 1 Augustus van krag word.

Die Organisasie vir Belastingmisbruik (Outa) het voorgestel dat die algemene brandstofheffing en padongelukfondsheffing verlaag word. Volgens Outa het die algemene brandstofheffing oor die afgelope tien jaar kumulatief met 165% verhoog.

Buurlande se brandstof kos minder as in Suid-Afrika en Outa wil weet waarom Suid-Afrika se buurlande met ’n kleiner vraag na brandstof minder vir brandstof kan vra as Suid-Afrika.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top