Die regering staar verskeie regsakies in die gesig wat met die COVID-19-pandemie verband hou.
AfriForum en Solidariteit het hul regspan opdrag gegee om ’n saak voor te berei om die regering se voorgestelde monopolie op die aankoop en verspreiding van COVID-19-entstowwe teen te staan. Die twee organisasies wil verseker dat die regering se beweerde wanbestuur en korrupsie nie daartoe sal lei dat daar verhoed word dat mense wat die entstof wil ontvang, dit kry nie.
Volgens @cpm747 Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, kan Suid-Afrika nie die nasionalisering van entstowwe toelaat nie. Die staat het ’n geskiedenis van mislukkings en Suid-Afrika kan allermins nog ’n mislukking tydens hierdie krisis bekostig.
— AfriForum (@afriforum) January 8, 2021
Die verbod op alkoholverkope wat onlangs vir ’n derde keer ingestel is, sal waarskynlik ook in die hof draai nadat die Suid-Afrikaanse wynbedryf en SA Brouerye hulle kommer uitgespreek het oor die negatiewe gevolge van nog ’n alkoholverbod op drankverwante besighede.
Wat COVID-19-entstowwe betref, is AfriForum se standpunt dat die regering nie ’n monopolie kan hê om te besluit wie die entstof kry en wie nie. AfriForum en Solidariteit sê in ’n verklaring hulle beplan regsaksie teen regeringsmonopolie op die aankoop en verspreiding van COVID-19-entstowwe.
Die twee organisasies sê as die privaatsektor toegelaat word om die entstowwe aan te koop en te versprei, sal die verspreiding van die entstof aan diegene wat ingeënt wil word, meer doeltreffend wees, dit sal magsvergrype deur die regering verhoed, en dit sal verseker dat die proses nie ontspoor word deur die regering se onbevoegdheid of beweerde korrupsie nie.
“Regdeur die inperking het die regering bewys dat korrupsie en onbevoegdheid hoogty vier wanneer hulle ’n monopolie het op COVID-19-verwante beleid en -verpligtinge. AfriForum wil dus die moontlike misbruik van regeringsmag probeer verhoed waar die aankoop en verspreiding van COVID-19-entstowwe ter sprake is, deur tot die stryd toe te tree om die privaat sektor toe te laat om deel te wees van hierdie poging,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.
Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit-navorsingsinstituut, kan Suid-Afrika nie die nasionalisering van entstowwe toelaat nie. Hy sê die staat het ’n geskiedenis van mislukkings en Suid-Afrika kan allermins nog ’n mislukking tydens hierdie krisis bekostig.
Wat die drankverbod betref, sê die Suid-Afrikaanse wynbedryf by monde van Vinpro in ’n verklaring hulle deel die President te kommer oor die skielike en vinnige groei in positiewe COVID-19-gevalle en verwante sterftes en verstaan die noodsaaklikheid vir drastiese stappe om dit aan te spreek. “Ons is egter teleurgesteld en uiters bekommerd oor die algemene beleidsbenadering met betrekking tot die verkoop van alkohol wat weer eens deur die regering geneem is in die stryd teen die pandemie,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof.
Vinpro, in samewerking met die res van die alkoholbedryf, doen ’n beroep op die regering om deursigtig te wees oor die stand van die gesondheidstelsel om die verbod op kleinhandel- en op-perseel-verbruik so gou moontlik te hersien. “Ons doen ook ’n beroep op die regering om regulasies streng af te dwing, aangesien dit nie haalbaar is om meer rigiede regulasies in te stel elke keer wanneer ons gesondheidstelsel ’n krisis beleef, sonder die streng polisiëring van die regulasies nie.
"A third blanket ban on the sale of wine and other alcohol cannot be justified," says Vinpro MD @RicoBasson. The organisation is seeking legal advice on the matter.
READ: https://t.co/g9QuorTdBG#saveSAwine #drinksouthafrican #drinkresponsibly
— Vinpro (@Vinpro_za) January 8, 2021
Die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) het reeds te kenne gegee dat hulle die hof gaan nader om die grondwetlikheid van die derde verbod op drankverkope te betwis. SAB het verlede week in ’n verklaring gesê hulle verskil ten sterkste met die algehele verbod op drankverkope.
This legal action is the last resort available to SAB in order to protect our employees, suppliers, customers, consumers and all the livelihoods we support.#ResponsibleTogether
— SABreweries (@SABreweries) January 6, 2021
Die verbod op alkoholverkope het volgens Vinpro alreeds ’n vernietigende impak op die wynbedryf gehad, insluitend ’n verlies aan inkomste deur verkope van meer as R7.5 miljard, beduidende werksverliese en ’n aantal wynkelders en toerismefasiliteite wat noodgedwonge hul deure moes sluit. As gevolg hiervan staar die bedryf nou meer as 250 miljoen liter ongekontrakteerde wyn in die gesig, met die 2021-oes wat binne dae afskop. Dit plaas verdere druk op die bedryf se reeds benarde finansiële posisie. Hierdie situasie én die derde verbod gaan volgens die wynprodusente matelose skade berokken aan die wynbedryf én die 290 000 individue wat hul lewensbestaan uit die wynbedryf maak.