Nog twee politieke partye het hulle op die vooraand van Kersfees by die Veelpartyhandves aangesluit wat hoop om die ANC in volgende jaar se verkiesing met ’n koalisieregering te vervang.
Die Veelpartyhandves het Donderdag in ’n gesamentlike verklaring gesê hulle is verheug om twee nuwe partye in hulle midde te verwelkom.
Altesaam tien politieke partye het hulle nou reeds tot die Veelpartyhandves verbind.
Die jongste twee partye is die Ekhethu People’s Party (EPP) en United Christian Democratic Party (UCDP) wat beide van die kleiner partye in die land is.
The multi-party charter is getting bigger and stronger every day!
We are proud to welcome the EPP and the UCDP ????????????????https://t.co/lewNJnYnM9
We call on South Africans to join us in uniting around these core principles, no matter our great diversity.
Together, we are a…
— ActionSA (@Action4SA) December 14, 2023
Die ander agt partye wat reeds deel is van die alliansie, is die Demokratiese Alliansie, Inkatha Vryheidsparty, Vryheidsfront Plus, ActionSA, African Christian Democratic Party, Independent South African National Civic Organisation, United Independent Movement, en Spectrum National Party.
???? [JOINT STATEMENT]
The Multi-Party Charter is delighted to welcome two new parties. The Ekhethu People’s Party and the United Christian Democratic Party. The Charter continues to grow and is working hard to unite South Africans to bring the change our nation so urgently needs. pic.twitter.com/633ay0xCuG
— Democratic Alliance (@Our_DA) December 14, 2023
Die UCDP is ’n minderheidsparty wat in 1997 deur Lucas Mangope, die voormalige president van Bophuthatswana, gestig is as ’n opvolger van die Tswana Nasionale Party wat in 1977 deur hom gestig is. Die meeste van die party se steun kom uit Noordwes (waar die ou Bophuthatswana geleë was) met geen of weinig steun in die res van die land.
Die UCDP was die amptelike opposisie teen die ANC in Noordwes in 1999 en 2004, maar het in 2009 tot vierde in die provinsiale wetgewer gedaal en in 2014 al sy setels in die provinsiale wetgewer verloor.
Die EPP is ’n nierassige, nieseksistiese en demokratiese politieke party wat daarop aanspraak maak dat hulle al die mense van Suid-Afrika se belange voorop stel.
Die party sê op hulle webwerf dat hulle daartoe verbind is om tasbare verandering vir die meerderheid Suid-Afrikaners aan te bring deur ekonomiese welvaart met regverdigheid en sosiale geregtigheid te balanseer, strukturele ongelykhede af te breek en regeringstrukture te transformeer.
Die EPP pas volgens die Veelpartyhandves goed in hulle midde, omdat dit breedweg belyn is met hulle kernbeginsels vir goeie regering. Die EPP is in Gauteng gesetel en sal in 2024 nasionaal meeding.
“Ons is vol vertroue dat die EPP baie stemme sal wen van voormalige ANC-kiesers wat ontnugter geraak het met die ANC.”
Die UCDP is volgens die Veelpartyhandves ook ’n baie welkome toevoeging tot die groep, omdat hulle ook tot hulle kernbeginsels verbind is.
Die Veelpartyhandves sê hulle is vol vertroue dat die UCDP baie stemme van ontevrede voormalige ANC-kiesers sal kan wen.
Die Veelpartyhandves sê hulle totstandkoming die afgelope jaar het Suid-Afrika se politieke landskap ingrypend verander en ’n nuwe magsentrum geskep wat aan kiesers ’n alternatiewe regering in 2024 kan bied met ’n geloofwaardige pad na mag en ’n regering wat op wenbeginsels gebaseer is.
“Hierdie beginsels bind ons as partye tot die Veelpartyhandves se ooreenkoms. Ons doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om saam met ons te verenig rondom hierdie kernbeginsels, ongeag ons groot diversiteit.”
Die partye verbind hulle in die handves tot:
- die Suid-Afrikaanse Grondwet, die oppergesag van die reg, en gelykheid voor die reg
- desentralisering van mag na die laagste effektiewe regeringsvlak
- verantwoordbare, deursigtige regering met geen verdraagsaamheid vir korrupsie nie
- ’n bekwame regering wat publieke geld doeltreffend bestee om kwaliteitdienste aan almal te lewer
- ’n omgeeregering wat mense eerste stel en die armes prioritiseer
- ’n vryemarkekonomie
- beleide wat gelei word deur bewyse dat dit positiewe resultate vir die samelewing lewer
- regstelling van die onreg van die verlede deur nierassigheid en eenheid in diversiteit te bevorder.
Die Veelpartyhandves sê slegs ’n regering wat op hierdie beginsels gegrond is, sal ’n groeiende ekonomie, energiesekerheid, wet en orde, ’n volhoubare maatskaplike veiligheidsnet en kwaliteitonderwys en -gesondheidsorg en basiese dienste vir almal kan verseker.
Hulle beloof om in die aanloop tot 2024 se verkiesing hard te werk om Suid-Afrikaners agter hierdie beginsels te verenig sodat hulle saam die verandering kan bring wat die land so dringend nodig het.