Nog twee provinsies bevestig gevalle van Cholera

  • 0

Mpumalanga se Departement van Gesondheid het Donderdag die provinsie se eerste sterfgeval weens die cholera-uitbraak bevestig.

Volgens Mandla Zwane, provinsiale gesondheidswoordvoerder, is ’n 73-jarige vrou van Phake op 26 Mei in die Mmametlhake-hospitaal opgeneem nadat sy simptome soos diarree en naarheid getoon het. Sy is Dinsdag oorlede.

Joe Phaahla, die nasionale minister van gesondheid, het Woensdag gesê daar is die vorige sewe dae twee nuwe sterftes in cholera aangeteken.

Phaahla het Woensdag gesê daar was altesaam 99 bevestigde gevalle van cholera in Tshwane, waarvan sewe die voorafgaande 24 uur aangemeld is.

’n Onlangse uitbraak van die siekte het tot dusver 24 lewens in Tshwane en die Vrystaat geëis.

Limpopo het ook reeds die provisie se eerste cholera-geval in Musina bevestig.

Die Vryheidsfront Plus het Donderdag in ’n verklaring gesê verskeie waarskuwings van hulle party oor die erns van die waterkrisis in dorpe soos Musina en Louis Trichardt is geïgnoreer en die ANC-beheerde munisipaliteite kan letterlik nie nou hul hande in onskuld was nie, want daar is nie water om dit te doen nie.

“Dit wil voorkom asof die LUR vir gesondheid in Limpopo, Phophi Ramathuba, skynbaar onbewus is van die feit dat haar beroep op gemeenskappe om hande te was en skoon water te drink, eintlik ’n klap in die gesig van elke belastingbetaler is.”

Ramathuba moes volgens die VF Plus eerder haar gewig agter die oplossing vir die voortslepende waterkrisis gegooi het aangesien dit nie net die gesondheid van gemeenskappe en inwoners raak nie, maar ook hospitale en klinieke.

President Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê die onlangse cholera-uitbrake beklemtoon die belangrikheid van water- en afvalwaterbestuur. “Ons onmiddellike prioriteit is om die verspreiding van hierdie siekte te stop en maatreëls te tref om menslike gesondheid te beskerm,” het hy geskryf.

Die huidige cholera-uitbraak in Hammanskraal kan volgens Phaahla met die polisie-opleidingskollege in die omgewing verbind word nadat die eerste aangemelde saak by die kollege aangeteken is.

Phaahla sê ’n polisiebeampte wat vir ’n kursus van drie weke ingeskryf het, het op 7 Mei by die kollege aangekom.

Hy is vier dae later hospitaal toe gehaas nadat hy van diarree en braking gekla het.

Hy is op 15 Mei met cholera gediagnoseer en is steeds in ’n intensiewesorgeenheid in ’n stabiele toestand.

Verdere ondersoeke het getoon meer studente kla van spysverteringskanaalsimptome; altesaam 33 is by verskeie gesondheidsfasiliteite ondersoek, wat tot agt opnames gelei het.

Phaahla sê hoewel die polisiebeampte nie die bron is nie, is meer ondersoeke nodig nadat waterbronne in Hammanskraal van enige cholera gesuiwer is.

News24 berig die ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, het Woensdag aan die parlement gesê onlangse cholerasterftes is ’n “harde herinnering” van voortgesette verwaarlosing van munisipale infrastruktuur.

Die grondoorsake van swak dienslewering was onvoldoende vaardighede en kapasiteit, ’n gebrek aan leierskap, en ’n gebrek aan aanspreeklikheid en gevolge, het sy gesê.

Slegs 38 van Suid-Afrika se 257 munisipaliteite het skoon oudits in 2022 ontvang.

Die VF Plus sê stappe wat die party tot dusver gedoen het om die cholerasituasie in Limpopo aan te spreek, sluit die volgende in:

  • Daar is reeds in Oktober 2022 ’n dringende skrywe gerig aan die munisipale bestuurder van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, Tshimangadzo Ndou, asook Limpopo se LUR vir samewerkende regering, Baisikopo Makamu, om dadelik ’n aksieplan saam te stel om die waterkrisis op te los.
  • Die saak is ook verwys na die party se parlementslid vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Michal Groenewald, om dit in die parlement se Cogta-komitee te hanteer.
  • Die waterkrisis wat die inwoners van die Makhado plaaslike munisipaliteit (Louis Trichardt) ervaar, asook die swak dienslewering van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, is op 16 Februarie vanjaar verwys na die premier van Limpopo, Stanley Mathabatha, vir dringende optrede.
  • ’n Klag is op 27 Maart deur die VF Plus by die menseregtekommissie teen die Vhembe-distriksmunisipaliteit ingedien oor die voortslepende waterkrisis.
  • Die VF Plus het op 28 Maart ’n strafregtelike klag teen die uitvoerende burgemeester van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, Nenguda Dowelani, en die waarnemende munisipale bestuurder, NC Tshikovha, by die polisie op Louis Trichardt ingedien.
  • Die party het ook op 23 Mei ’n dringende skrywe gerig aan die munisipale bestuurder van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, Tshimangadzo Ndou, om daadwerklik die riool- en waterkrisis in die gebied op te los.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top