Noodplan teen geweld op vroue

  • 0

............

“Ons optrede sal bepaal of ons sink of nie.” – Cyril Ramaphosa

............

President Cyril Ramaphosa het oorlog verklaar teen enige vorm van gendergeweld. Tydens ’n buitengewone gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies het die president Woensdag ’n noodplan oor gendergeweld aangekondig.

Dit was die eerste keer in die geskiedenis van ’n post-demokratiese Suid-Afrika dat ’n gesamentlike sitting van die parlement saamgeroep is.

Verskeie maatreëls is deur Ramaphosa aangekondig om geweld teen vroue hok te slaan maar hy het ook na ander vorms van geweld verwys.

Talle vroue is daagliks die slagoffers van geweld in ons samelewing. Die afgelope tyd het hierdie euwel erg toegeneem. Verskeie oproepe is reeds deur talle organisasies gedoen om dit stop te sit.

#AmINext-optog (Foto: Cliffordene Norton)

Kunstenaars, bekende persoonlikhede en organisasies het verskeie projekte begin om vroue by te staan, te beskerm en om bewustheid te skep van die negatiewe impak wat die geweld nie net op vroue het nie, maar ook op die hele gemeenskap.

Die Afrikaanse radiostasie RSG het ook sy ondersteuning vir hierdie pogings bevestig. Luisteraars word aangemoedig om deel te word van die protes met die hutsmerke #GenoegIsGenoeg #EnoughIsEnough.

............

“Geweld teen kinders het ook Woensdag hooftrekke gehaal toe die konstitusionele hof beslis het dat lyfstraf onwettig is.”

............

President Cyril Ramaphosa sê die vlaag geweld teen vroue in die land is ’n aanduiding van ’n algemene probleem in die Suid-Afrikaanse samelewing. Die president het tydens die gesamentlike sitting van die Nasionale Raad van Provinsies en die Nasionale Vergadering gesê die regering sal ’n aantal meganismes in werking stel as deel van pogings om die kwessie te takel.

Die president het ook na xenofobie verwys en gesê die land is by ’n kruispad. “Ons optrede sal bepaal of ons sink of nie.”

Hy sê daar is geen plek vir xenofobie in Suid-Afrika nie maar het misdadigers gewaarsku dat misdaad ook nie in Suid-Afrika geduld sal word nie. “Suid-Afrika is nie xenofobies nie. Ons haat nie mede-Afrikane nie. Ons sal egter nie misdadigheid duld nie,” het die president gesê.

President Ramaphosa sê geen man word gebore as ’n verkragter, vroueslaner of moordenaar nie. Hy sê die fenomeen van afwesige pa’s dra dikwels by dat seuns wat sonder rolmodelle grootword, oorgelaat word aan die strate en bendes.

“Ons is nou by ’n punt waar ons die siklus moet breek. Ons as mans moet voorbeeldig lei en vroue met respek behandel. Ons moenie wegkyk of wegloop as ons sien hoe vroue mishandel word nie.”

Die kabinet het besluit om R1,1 miljard te bewillig vir ’n omvattende reaksie op gendergeweld. Elke departement sal versoek word om prioriteit te verleen aan die finansiering vir die stryd teen gendergeweld en die presidensie en tesourie sal dit monitor.

Geweld teen kinders het ook Woensdag hooftrekke gehaal toe die konstitusionele hof beslis het dat lyfstraf onwettig is.

Kinderregte-aktiviste het die Konstitusionele Hof se uitspraak oor lyfstraf verwelkom. Die hof het beslis dat die redelike toepassing van lyfstraf ongrondwetlik is.

’n Aantal kinderregtegroepe het die hof genader om ’n 2017-uitspraak van die Hooggeregshof in Johannesburg te handhaaf. Dié hof het bevind dat dit kinders se regte skend.

Die organisasie Freedom of Religion South Africa het hom tot die Konstitusionele Hof gewend om die beslissing om te keer, terwyl kinderregtegroepe en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke die hooggeregshof-uitspraak gesteun het. ’n Professor by die Universiteit van Kaapstad se Kinderinstituut, Shanaaz Mathews, verwelkom die uitspraak en sê hulle het vir langer as ’n dekade ’n stryd gevoer om by dié beslissing uit te kom.

Diegene wat ten gunste is van lyfstraf het egter sterk uitgevaar op sosiale media teen die hof se beslissing dat kinders nie lyfstraf mag kry nie.

“Wat hierdie lafaards van regters nie wil erken nie, is dat hulle die bron van sosiale verval is met hulle absurde links-liberale dogma oor die reg op lewe en lyfstraf. Maar, hulle het eenvoudig geen probleem om ’n sosiale euwel soos dagga, te regverdig en te wettig nie. ’n Paar ouens met ’n toga om hulle nekke, wat vir ’n hele nasie van miljoene voorskryf wat hulle mag en nie mag doen nie,” het van die kommentators uitgevaar teen die hof se beslissing.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top