’n 21-jarige Kapenaar het die land behoorlik aan die gons gehad met ’n satiriese petisie waarin hy voorgestel het dat die Noord-Kaapse provinsie teen ’n bedrag van R420 miljard aan Namibië verkoop word om Eskom te skuld te help delg.
Instead of bailing out Eskom with R69 billion, I have a better idea:https://t.co/yHbll8CHZa pic.twitter.com/bjcKRJTIMZ
— Aidan (@aidanvn) February 20, 2019
Honderde mense het reeds Aiden van Niekerk se petisie onderteken. Die Sol Plaatjie-munisipaliteit was min beïndruk dat hulle provinsie somer so opgeveil word. ’n Woordvoerder van die munisipaliteit, Sello Matsie, het in ’n verklaring gesê die Noord-Kaap sal nooit te koop wees nie en het die idee as vergesog bestempel.
Volgens die petisie het Eskom te veel skuld. Belastingbetalers is moeg om daarvoor te betaal en niemand bly in elk geval in die Noord-Kaap nie. Hy meen Namibië se regering sal beter in staat wees om die Noord-Kaap te bestuur.
’n Artikel hieroor wat in die Diamond Field Advertiser verskyn het, het alle rekords laat spat wat lesers betref met duisende mense wat dit gelees het. Van Niekerk het aan die koerant gesê die idee dat die Noord-Kaap verkoop word om Eskom te skuld te help delg het by hom ontstaan toe hy na die Minister van Finansies, Tito Mboweni, se begrotingsrede in die parlement geluister het.
“Mboweni het die ontbondeling van Eskom bespreek en ek het net ’n gloeilampie-oomblik gehad. Verkoop liewer die Noord-Kaap aan Namibië. Ek het ’n paar syfers saamgegooi en uitgewerk die Noord-Kaap is ongeveer R420 miljard werd wat toevallig ooreenstem met die bedrag wat Eskom skuld,” sê Van Niekerk.
Hy het aan die koerant gesê die proses, wat Nexit Cape gedoop is, was ’n satiriese grap maar hy reken tog die idee om die Noord-Kaap aan Namibië te verkoop is prakties en eenvoudig – iets waarmee mense kan identifiseer en wat hulle verstaan. Mense sien dit as ’n moontlikheid (hoewel klein) teenoor die ontbondeling van Eskom wat vir baie ’n vreemde begrip is. Volgens hom is dit die rede waarom sy grap soos ’n veldbrand versprei het.
Die Sol Plaatjies-munisipaliteit het die grap egter nie ligtelik opgeneem nie en vinnig vure begin doodslaan. “Die provinsie het ’n bevolking van 1,2 miljoen mense wat gelykstaande is aan lande soos Gabon, Swaziland en Botswana. Ons het nie nodig om verkoop te word nie. Hoewel ons nie noodwendig veel bydrae tot die land se nasionale ekonomie nie, huisves ons verskeie strategiese bates van nasionale belang.”
Die munisipaliteit sê dit sluit die nasionale gevegskool in wat een van slegs drie in die wêreld is waar verskeie gevegsoperasies ontwikkel het.
Die Noord-Kaap se hoofstad, Kimberley is toevallig ook die tuiste van die land se grootste gat.
Die verontwaardigde woordvoerder van die Sol Plaatjies-munisipaliteit het die publiek daarop gewys dat Kimberley vir meer as 140 jaar van die beste diamante in die wêreld opgelewer het en steeds bekend staan as die diamanthoofstad van die wêreld met bronne wat nog lank nie uitgeput is nie. Dit word beskou as ’n geologiese boerpot wat ontgin moet word gegewe al die diamantpype wat nog daar is, het Matsie sy provinsie se lof uitbasuin.
Sommige lesers het besef Van Niekerk skeer eintlik gek en het saam begin gons oor die moontlike verkooptransaksie. Party wou weet of Namibië enigsins sou belangstel om die Noord-Kaap te koop en wat hulle daarmee sou doen aangesien dit feitlik ’n woestyn is waarvan Namibië meer as genoeg het.
Op Twitter het “die Republiek van die Noord-Kaap” saamgespeel en met die hutsmerk #NoForeigners aan Van Niekerk gesê hulle doen goed sonder enige buitelandse inmenging. Indien hy die grens sou oorsteek sal hy in hegtenis geneem en dadelik gedeporteer word.
https://twitter.com/RepublicCape/status/1101073983175299072
Van Niekerk sê hoewel hy ’n goeie dosis haatpos ontvang het van mense wat wil weet hoe durf hy, en wie dink hy is hy, was die meeste reaksies, selfs van Noord-Kapenaars positief met baie wat die gedagte ondersteun het.
Hy het op Facebook geskryf hy kan nie glo hy moet dit sê nie, maar dit lyk asof mense nie snap dit was ’n grap nie. “Dis ’n grap, niemand gaan iets verkoop nie.”
Buro: NB