Die simboliek van Suid-Afrika as ’n reënboognasie het ongelukkig nou, 30 jaar nadat ’n demokratiese bestel ons landsake begin bestuur het, verouderd of uitgedien geraak. En algaande het die mense wat eens dié beeld uitgeleef het, verwyderd van mekaar geraak, asof elkeen op sy eie ashoop van wanhoop gaan neersak het. In die oë van die wye wêreld het ons ook aansien verloor: eers weens staatskaping, toenemend oor die geopolitieke vriendskappe wat ons vorm en verbrou, en naderhand ook weens die verbrokkeling van ons versoeningsprojek.
Sommige mense sal haastig (oorhaastig, gretig) wees om jou daarop te wys dat die idee van ’n reënboognasie uit die staanspoor ’n gedwonge beeld was. Hulle bou hulle argument op die afwesigheid van spesifieke kleure – sê maar swart – in die reënboog se samestelling. Ander sal die tanende aanhang vir die reënboogbeeld – in ’n meer positiewe beskouing – daaraan toeskryf dat ons Grondwet in elk geval die diverse samestelling van ons Suid-Afrikaanse nasie vier en die uitbou daarvan grondwetlik verskans. Wat meer wil jy hê?
Dit word immers deur die leuse op die land se ampswapen, geskryf in die Xam-taal van die Khoisan, bekragtig en verewig: !ke e: /xarra //ke, oftewel “diverse mense verenig” of “diverse mense kom tesame”. En dit is wat uitgebeeld is deur die feesvieringe van Suid-Afrikaners van alle kleure, tongklik en kulture toe die Springbokke die eerste keer rugby se Wêreldbeker in 1995 gewen het – nieteenstaande die feit dat Chester Williams die enkele bruin of swart speler in die groep was. ’n Jaar later het die nasionale sokkerspan ons weer saamgesnoer toe hulle die Afrika-Nasies-beker, soos die Springbokke, op eie bodem verower het. Nagenoeg drie dekades sou verloop – ten spyte van ’n verdere aantal bekronings (2007 en 2019) vir die Springbokspan as wêreldkampioen – vir rugby en sokker om tegelykertyd die land se gemoed te lig.
Hier word verwys na die Springbokke se vierde Wêreldbekeroorwinning in 2023 en Bafana Bafana se derde plek (bronsmedalje) in die 2024-toernooi om die Afrika-Nasies-beker te wen. Wat beide prestasies gekenmerk het, was die onmisbare rol wat spelers van alle kultuurgroepe gespeel het om dit tot uitvoering te bring; en ook, steeds maar ’n kuriositeit in ons land, dat die (oorwegend wit) Springbokke ’n swart kaptein sou hê en die (oorwegend swart) Bafana Bafana ’n bruin kaptein.
Wanneer daar egter oor die reënboogbeeld gedink word, is dit altyd die eerste, behoorlike gevoel en uitvoering daarvan wat met die eerste nierassige verkiesing in 1994 ervaar is: In die toue by die stembusse – uitgerek en kronkelend in sommige stede of in sommige landelike gebiede – was almal vir die eerste keer volwaardig gelyk, geen kleurvoorkeur of rasbevoorregting nie. Net oues van dae en siekes sou dalk vorentoe in die tou kon beweeg; die res van ons moes geduldig wag tot dit ons beurt was. In die ongekende ervaring van saam geduld uitoefen is ook ongekende bande van vriendskap en mededeelsaamheid gesmee: Naas vriendelike geselsies wat aangeknoop is, is warm drinkgoed ook gedeel. En bedagsaamheid. Die “Nuwe Gelyk-wees”, noem Antjie Krog se ma, Dot Serfontein, dit in die konteks van haar brief oor haar belewenis van 27 April 1994 aan haar dogter. In Sotho, ’n aanhaling van haar pa, wat weier om die voorreg van “die b----” vorentoe in die tou beweeg van die hand wys (bl 143): “Tholoana tsa morole o montsi mashi di a tlhakanela tshelong,” sê hy dat die teenwoordige swart kiesers in die ry (en ook die wittes wat die taal verstaan) dit duidelik moet hoor. “Vandag drink al die kalwers melk uit dieselfde trog.”
Die son van samesyn het deur die reënboog gebreek. Snoesig het dit oor die hele land begin skyn.
Maar soos met alles in die lewe – en menseverhoudings is ’n uitstaande voorbeeld daarvan – bereik dinge die einde van hul rakleeftyd. Ons het dit ook begin sien in die wyse waarop verskillende groepe stem begin dik maak het vir groter beklemtoning of beskerming van die “eie”: “100% Zulu” sou jy op T-hemde lees; en “Praat Afrikaans of hou jou bek”. In die algemeen het die mense in die middel – hulle wat aanhou glo in die Mandela-mantra van medemenslikheid – sterk bly staan. Ongelukkig het verhoudings in die onlangse verlede weer begin verkrummel weens verwikkelings soos president Donald Trump se boodskap aan die wêreld dat ’n “wit volksmoord” in Suid-Afrika aan die gang is.
Suid-Afrikaners het hulle hieroor blitsvinnig na denkkampe van koppestamp teen mekaar gewend. Die bloed loop soos wat ons staar na mekaar.
En tog vind daar steeds dinge plaas, ongelukkig dikwels op die agtergrond gestoot of in die skadu gestel deur (politieke) aaklighede, wat ons genoeg rede gee om te bly glo dat ons kan saamstaan en saamwerk en saam presteer. Soos die onlangse vertonings van spesifiek ons 4x400-atletiek-aflosspanne, mans en vroue – en niks het dit beter bewys as hul asemrowende mylpale by die Wêreldatletiek-aflosbyeenkoms in Guangzhou in China nie. Selfs al moes die vroue met ’n derde plek (of bronsmedalje) tevrede wees, het die mans met goud weggestap; en vir hul algehele prestasies is die hele Suid-Afrikaanse groep atlete (ingesluit ook die mans-4x100-kampioene en die gemengde 4x400-span) as “Beste span van die Aflosbyeenkoms” aangewys.
Dit is in die name van die atlete in die 400 m-aflosspanne dat jy opnuut bewus gemaak word van die krag van die reënboogklank: Shirley Nekhubui, Precious Molepo, Miranda Coetzee en Zeney van der Walt; en Zakithi Nene, Leendert Koekemoer, Udeme Okon en Gaerdeo Isaacs.
’n Mens moenie nou die denkfout maak om ’n ophef oor die atlete te maak slegs omdat hulle as spanne gewen het nie. Wat dit geverg het, is dalk selfs belangriker. Dink byvoorbeeld hieraan: Om die gepaste kombinasie van middelafstandatlete saam te stel – wie moet wegspring, wie moet tweede die aflosstok dra, wie daarna en wie sal uiteindelik die beste geplaas wees om die laaste 400 m die vinnigste of op die mees strategiese wyse te voltooi? So, op dié wyse, word ’n wenplan beraam, sáám. Die een gee die stok vir die ander een; elkeen lewer net die beste, gemeet aan sy of haar beste, en die een moedig die ander een aan soos wat die stok oorhandig word. Die stok wat belofte inhou, waarmee die volgende een toevertrou word om die span vorentoe te neem, ’n helpmekaar-aksie op die atletiekbaan en heeltyd deur die hoop dat die span, danksy elkeen se bydrae, hul mededingers sal weghardloop, sal wys dat hulle – terwyl elkeen ’n deel van die wedloop aflê, maar tog as één span – die wenstreep kan oorsteek.
Ons moet dalk begin dink aan ’n plaasvervangerbenaming vir ons nasie – noudat die reënboogbeeld skynbaar begin taan. Ons moet die aflosspanbeeld inspan: “Saamspan, vorentoe, Suid-Afrisamers.”
