NSFAS-skandaal: Blade se kop moet waai

  • 0

Die jongste skandaal wat die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) geruk het, moet die laaste spyker in Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, se kis wees.

So sê die DA se skaduminister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie, Chantel King, na aanlering van die jongste onthullings oor die skema.

Skaars ’n week sedert die Organisasie teen belastingmisbruik (Outa) sy verslag oor NSFAS vrygestel het, asook uitgelekte opnames wat na bewering die minister, die NSFAS-raadsvoorsitter Ernest Khosa en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) aan korrupsie verbind het, het Netwerk24 onthul dat Nzimande se adviseur, Tilson Manyoni, ’n R44 miljoen-NSFAS-tender losgeslaan het.

Manyoni was ook die voorsitter van die Nasionale Adviesraad vir Innovasie (NACI) en die voorsitter van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) se direksie toe sy maatskappy Vision Wave in 2022 die kontrak van vyf jaar vir sy Enterprise Resource Planning- (ERP-) stelsel gekry het.

Die DA het Dinsdag Wits en die Universiteit van Johannesburg op ’n toesighoudende inspeksie besoek voor registrasies. Die party sê studente word uitgesluit van geleenthede weens NSFAS-korrupsie en wanbestuur onder leiding van Nzimande.

Die DA het in ’n verklaring opnuut ’n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om nie net Nzimande af te dank nie, maar ook ’n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) te gelas na die Outa-bewerings en die Vision Wave-kontrak.

King sê dit word al hoe duideliker dat Nzimande aan NSFAS dink as ’n spaarvarkie vir hom en sy kamerade, wat hom ongeskik maak om aan die hoof van enige ministerie te staan.

Nzimande het die afgelope Sondag tydens ’n media-inligtingsessie alle bewerings teen hom ten sterkste ontken.

ActionSA sê dit is noodsaaklik om te beklemtoon dat hoewel oproepe vir die bedanking van Nzimande en die NSFAS-raadsvoorsitter geregverdig is, die hele direksie ook verantwoordelikheid moet neem en bedank.

“Dit is van kardinale belang dat die onafhanklike regsfirma wat deur NSFAS aangestel is om die bewerings teen mnr Khosa te ondersoek, dit onpartydig en sonder vrees of guns doen om die openbaarmaking van die hele waarheid te verseker. Ons glo dat Khosa geen vorm van vergoeding tydens sy afwesigheid moet ontvang nie,” het Hluphi Gafane, die voorsitter van ActionSA se jeugforum, vroeër in ’n verklaring gesê.

Die DA se studente-organisasie, DASO, het ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om met die DA kragte saam te snoer om Nzimande uit sy amp te verwyder. Hulle sê die tyd het aangebreek dat “die man met ’n sak vol leë beloftes” aanspreeklik gehou word vir die ineenstorting van NSFAS.

Die DA het verlede week ook strafregtelike klagte teen Nzimande aanhangig gemaak vir sy rol om NSFAS na bewering te bedrieg deur terugbetalings wat aan hom, aan Khosa, en aan die SAKP betaal is.

Liam Jacobs, DASO se federale leier, sê in ’n verklaring dit sal nie onverwags wees as die klagtes teen Nzimande bevestig word nie, want dit dui sterk op die bekende patroon van korrupsie wat met die ANC-regering geassosieer word.

Dit was die afgelope Maandag D-dag vir alle 2023-studentetoelaes wat betaal moes word. Dit het nie gerealiseer nie. Jacobs sê ’n besoek deur ’n DA-afvaardiging aan die NSFAS-kantore om druk op die “siek studente- finansiële skema” toe te pas, het niks opgelewer nie en daar bestaan geen konkrete planne om NSFAS uit sy benarde situasie te red nie.

Volgens Jacobs het Nzimande ’n gebrek aan integriteit en dryfkrag om die toekoms van Suid-Afrika te help vorm. Hy sê die minister sal vir ewig ’n nalatenskap hê dat hy NSFAS van die wal in die sloot gehelp het. “Hy het geen benul hoe om NSFAS te laat herleef nie, of hy gee eenvoudig nie om nie. As hy wel omgee, sou die skaamtelose minister verseker dat elke NSFAS-student beskerm en gevoed word. Maar dit gebeur nie,” het Jacobs gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top