Nuus uit die Lae Lande

  • 0

’n Jong reebokkie; hommeltuie word deesdae gebruik om hulle te beskerm. (Foto: NickyPe | Pixabay)

Rusland sny gastoevoer na Nederland af

Die Nederlandse gasmaatskappy GasTerra het afgelope Maandag aangekondig dat die Russiese gasleweransier Gazprom vanaf Dinsdag nie meer gas aan Nederland sal lewer nie. Dit volg nadat GasTerra nie wou toegee aan eise van Rusland om betalings in roebels te maak nie. Die Russiese president, Wladimir Poetin, het in reaksie op Europese sanksies kort ná die inval in Oekraïne ’n dekreet uitgevaardig ingevolge waarvan lande in die EU wat Russiese gas aankoop, voortaan hul betalings in roebels moet maak.

Die gevolg van Gazprom se besluit is dat twee miljard kubieke meter gas vir die periode 31 Mei tot 30 September 2022 nie meer na Nederland gestuur word nie. GasTerra sê egter dat hy voorbereid was op so ’n stap deur Rusland en reeds elders gas ingekoop het. Nederlanders hoef dus nie te vrees dat hulle in die afsienbare toekoms nie meer verwarming in hul huise sal hê nie. Minister Rob Jetten van Klimaat en Energie sê hy ondersteun GasTerra se besluit. Hy sê hoewel dit effens moeiliker word om Nederland se gasvoorraad vir die komende winter aan te vul, verwag hy geen probleme daarmee nie.

Die energiekenner Lucia van Geuns het vroeër aan die NOS gesê die twee miljard kubieke meter gas is nie ’n enorme hoeveelheid nie. “Dat kunnen we compenseren, mogelijk met andere bronnen of landen.” Sy waarsku egter dat Rusland se besluit om die gastoevoer van al hoe meer lande in die EU af te sluit, onrus op die mark kan veroorsaak wat op sy beurt tot verdere styging in pryse kan lei. Rusland het so pas weer ’n kontrak met Serwië gesluit, wat beteken dat die verlies aan inkomste uit Nederland elders gekompenseer word.

Die energiekenner Remco de Boer is egter minder optimisties as sy kollega Van Geuns. Hy waarsku in ’n onderhoud op die televisieprogram Op 1 dat Nederland en Europa eintlik glad nie so voorbereid is op die onderbreking van gastoevoer uit Rusland as wat daar beweer word nie. Hy dink dat die kans bestaan dat Europese lande tog met ’n omweg nog van Russiese gas gebruik sal maak.

Polisie gryp in om woedende sokkertoeskouers te laat bedaar

Minstens vier polisiebeamptes en ’n onbekende aantal omstanders is beseer toe woede in die ADO-stadion uitgebars het ná ’n promosiewedstryd tussen ADO Den Haag en Excelsior. Sommige beseerdes moes in die hospitaal behandeling ontvang. Buite die stadion was daar ook oproer en is skade aan eiendom aangerig. Volgens die polisie was die oproermakers gewelddadig en aggressief, berig die NOS.

Talle mense is in hegtenis geneem, maar kalmte het eers teen middernag in die omgewing van die stadion teruggekeer.

Aanvanklik het dinge goed gelyk vir ADO Den Haag toe hulle met 3–0 voorgeloop het. Maar ná ’n reeks strafskoppe het hulle tog die wedstryd verloor. Toe die fluitjie aan die einde van die wedstryd blaas, moes die spelers inderhaas die kleedkamers invlug om die woedende toeskouers te ontduik wat op die veld gestroom het.

Ondersteuners van Excelsior is ook met vuurwerk en stoele bestook. Die onlustepolisie is ingeroep om die toeskouers van die veld te verwyder.

ADO het in ’n verklaring die voorval betreur en gesê: “We schamen ons diep voor wat er gisteren heeft plaatsgevonden. We bieden de supporters die zich niet veilig gevoeld hebben in en om het stadion, en met name de supporters, spelers en staf van Excelsior, onze welgemeende excuses aan. Het is te gênant voor woorden.”

Intussen het die Koninklike Nederlandse Voetbalbond, die KNVB, ’n onafhanklike ondersoek na die voorval gelas.

Groot ontwrigting weens landwye staking in België

Staatsdiensinstellings het vir Dinsdag ’n landwye staking in België afgekondig. As rede vir die staking gee die vakbonde die “algemene malaise” in die sektor aan. Groot ontwrigting is verwag in openbare vervoer asook nuusuitsendings en programmering van die staatsuitsaaidiens, die VRT. Die staking raak ook kleuterskole, die posdiens en vullisverwydering. Daarbenewens word skeepsverkeer ook bemoeilik. Volgens VRT NWS het nagenoeg 75 skepe in ’n stadium voor ’n geslote sluis gewag omdat die sluiswagters besig was om te staak.

Na wat berig word, het die staking weinig invloed op die oggendspitsverkeer gehad en het ongeveer dieselfde aantal verkeersknope as normaalweg voorgekom. Die vakbonde eis beter salarisse, pensioene en beleggings in die openbare sektor. Die vakbond ACOD sê in ’n onderhoud aan die NOS: “We praten, maar er komen geen akkoorden uit. We voelen weinig respect vanuit overheden voor het personeel.”

Premier De Croo het die staking veroordeel en sê die verlies aan koopkrag vanweë inflasie in België word gekompenseer deur outomatiese indeksering, wat beteken dat lone styg sodra lewenskoste styg.

Kerk wil skeur oor vroue in die amp

Dit is nie net in Suid-Afrika waar sommige kerke nog worstel met die kwessie van vroue in die amp nie. Binne die Christelik-Gereformeerde Kerke het ’n hewige twis ontstaan oor die vraag van watter ampte vroue binne die kerk mag beklee – soveel dat ’n skeuring binne die kerk nie buite rekening gelaat kan word nie, berig die NOS.

Tydens die afgelope sinodevergadering het ’n klomp mans 21 dae lank – die langste in die geskiedenis van die kerk – beraadslaag oor die vraag of vroue toegelaat moet word tot die amp. Die twispunt handel oor die interpretasie van die teks in 1 Korintiërs 14:33–34: “Soos in al die Christelike gemeentes moet die vrouens ook in julle byeenkomste stilbly, want hulle word nie toegelaat om te praat nie. Hulle moet onderdanig wees, soos die wet ook sê.”

Vir die meeste Christelik-Gereformeerde Kerke is vroue in die kerklike amp dus uitgesluit. “Die meerderheid zegt: we hebben helemaal geen enkel probleem met de emancipatie van de vrouw. Wij willen geen enkele achterstelling van de vrouw. Maar wij denken dat je op Bijbelse gronden vrouwen niet kunt bevestigen als predikant, ouderling of diaken.”

Maar nie almal in die kerk stem saam nie. Dominee Bram Hofland van die gemeente Emmeloord sê: “Wat mij betreft is er zeker ruimte voor vrouwen in het ambt. De Bijbelteksten zijn heel moeilijk te onderzoeken en te interpreteren.” Die meeste Christelik-Gereformeerde Kerke volg ’n letterlike interpretasie van die Bybel, wat beteken dat diegene wat dit nie volg nie, volgens hulle ongehoorsaam is. Met 32 vir en 19 teen is die besluit bekragtig dat vroue steeds buite die amp sal bly. Hofland het egter gesê hy is nie van plan om die besluit af te dwing nie.

Ongeluk tydens pretparkrit

Drie besoekers aan die Sprookjesbos-pretpark in Valkenburg in die provinsie Limburg is beseer toe die karretjie waarin hulle afgelope Vrydag gery het, van ’n hoogte van 6 m grond toe getuimel het. Die twee volwassenes en ’n kind is in die hospitaal opgeneem. ’n Vierde insittende van die karretjie, nóg ’n kind, is nie beseer nie. Volgens ’n woordvoerder van Sprookjesbos was die beseerdes in ’n karretjie van die Ballontoren Calidius, wat besoekers in gondels tot op ’n hoogte van 10 m neem, van waar hulle dan ’n uitsig oor die hele park het. Nadat die nooddienste die terrein verlaat het, is ’n deel van die Sprookjesbos weer oopgestel, maar die meeste besoekers het die park toe al verlaat, berig die NOS.

Tegnologie red reekalfies van die grassnyer

In die Belgiese munisipale gebied Brakel is 12 pasgebore reekalfies met behulp van hommeltuie gered. (’n Ree is ’n soort takbok.) Die kalfies was in lang gras versteek en kon maklik met ’n grassnyer omgery gewees het. Klik hier vir ’n skakel om te sien hoe so ’n kalfie lyk.

In die afgelope paar jaar kom daar al hoe meer reë in die gebied voor. Die kalfies word in die gras in die weiveld versteek waar roofdiere hulle nie kan sien nie. Maar wanneer die gras gesny word, kan dit gebeur dat ’n grassnyer oor die kalfies ry. Maar nou word spesiale hommels met hitte-opsporing ingespan. “Zodra de dronepiloot een kalfje gevonden heeft, gaan de jachtmeesters erop af om het op te pakken,” sê die saaiboer Liban Pollet. “Ze doen dat heel omzichtig en zorgen ervoor dat het dier geen menselijke geur opneemt. Anders zou het verstoten worden door de moeder. Ze wikkelen het reekalfje in lang gras en verplaatsen het met handschoenen aan naar een plaats waar niet gemaaid wordt.”

Prinses Amalia se gekose universiteit bekendgemaak

Prinses Amalia het bekend gemaak dat sy nie soos haar ouma, prinses Beatrix, en oumagrootjie, wyle koningin Juliana, in Leiden gaan studeer nie, maar wel aan die Universiteit van Amsterdam. Sy gaan ’n Engelstalige baccalareusgraad volg in politiek, sielkunde, regte en ekonomie. Dit volg nadat sy haar vir die keuringsprosedure ingeskryf het en dit geslaag het. Sy sal in September, wanneer klasse begin, na Amsterdam verhuis en gaan in ’n studentehuis woon wat sy met ander studente gaan deel.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top