Koronakorrupsie
Dit is nie net in Suid-Afrika waar die COVID-19-pandemie vir sommiges ’n gulde geleentheid was om geld uit regeringskoffers te maak nie. In Nederland het die 30-jarige politieke kommentator Sywert van Lienden na wat verneem word nie minder nie as €9 miljoen, sowat R148 miljoen, uit die sogenaamde mondkapjesdeal verdien. Van Lienden het in 2020 ’n niewinsgewende organisasie, Stichting Hulptroepen Aliantie, opgerig om die tekort aan mondmaskers die hoof te bied. In Mei 2020 het hy sy werk by die stadsraad van Amsterdam bedank om volgens hom op die werksaamhede van sy stigting te fokus. ’n Jaar later, in Mei 2021, berig De Volkskrant van die miljoene wat Van Lienden uit die handel van mondmaskers met die regering verdien het. Die mondmaskers, ter waarde van sowat €100 miljoen, sowat R1,6 miljard, is bestel, maar nooit gebruik nie omdat die RIVM, die Nederlandse NIOS, aanbeveel het dat maskers juis nie gebruik word nie, omdat dit gesondheidsrisiko’s kon inhou.
Van Lienden het op die televisieprogram Buitenhof gesê hy neem verantwoordelikheid vir die skandaal:
Van Lienden het beloof om die geld aan ’n kankerfonds te skenk. Die kankerorganisasie KWF Kankerbestrijding het intussen laat weet dat hulle geen geld van Van Lienden sal aanvaar nie, al is die organisasie nie deur hom genader nie.
Op dieselfde TV-program het Van Lienden ook te kenne gegee dat hy die politieke party die CDA in kennis gestel het van sy maatskappy wat met die regering sake doen. Van Lienden het met die CDA se verkiesingsveldtog gehelp. Die CDA het gister op Twitter laat weet dat die Landelijk Bestuur, die nasionale bestuursraad, ondersoek instel of Van Lienden wel die party oor die kwessie in kennis gestel het.
Het Landelijk Bestuur onderzoekt of Sywert van Lienden het cda heeft ingelicht. De Integriteits-en royementscommissie geeft in ieder geval aan niet ingelicht te zijn. Bij het onderzoek zal de gebruikelijke zorgvuldigheid in acht worden genomen waaronder hoor-en wederhoor.
— CDA (@cdavandaag) June 6, 2021
Die demissionêre minister van mediese sorg, Tamara van Ark, het intussen bekend gemaak dat die kabinet ’n ondersoek na die voorval gaan laat doen.
Lae Lande repatrieer IS-aktiviste
Nederland het die vrou genaamd Ilham B en haar drie kinders die afgelope naweek uit Sirië na Nederland gerepatrieer. Sy is met haar aankoms in hegtenis geneem en aan die Landelijk Parket, die nasionale vervolgingsdiens, oorhandig. Die kinders is aan die Raad vir Kinderbeskerming oorgegee. Die rede vir haar repatriëring is om te voorkom dat haar strafsaak van die rol geskrap word. Ilham B word sedert 2016 in Nederland vervolg omdat sy haar by ’n terroristeorganisasie aangesluit het en na die organisasie die Islamitiese Staat gereis het. Dit is die eerste keer dat ’n volwasse vrou aktief deur die Nederlandse regering in Sirië gaan haal word om vervolg te word.
Intussen het ’n Belgiese afvaardiging ook na Sirië gereis met die doel om vroue te repatrieer wat by die IS aangesluit het. VRT berig dat sowat 13 Belgiese moeders en 30 kinders in kampe in Sirië vasgekeer is. Nege van die 13 Belgiese ma’s sal ook vervolg word omdat hulle lid van ’n terreurorganisasie is en sal met hul aankoms in België in hegtenis geneem word. Die meeste vroue wil graag terugkeer na België en het al in 2018 laat blyk dat hulle die IS verlaat het. De Belgiese regering moet egter beslis of hulle na hul land mag terugkeer.
Rampvlugregsaak begin uiteindelik
Ná 25 voorbereidende sittings het die hof by Schiphol Maandag uiteindelik met die hofsaak van vlug MH17 begin. Malaysia Airlines vlug 17 was onderweg van Amsterdam na Kuala Lumpur toe dit op 17 Julie 2014 in Oekraïne deur ’n vuurpyl getref is, waarna die vliegtuig neergestort het. Al 283 passasiers en 15 bemanningslede is dood. Die Onderzoeksraad voor Veiligheid het vasgestel dat die vliegtuig deur ’n Russiese Boek-vuurpyl getref is en die VN-Veiligheidsraad het eenparig besluit dat die passasiersvliegtuig inderdaad afgeskiet is. In 2017 is besluit dat die saak in Nederland aangehoor sou word. Daar word algemeen aanvaar dat die vliegtuig deur Russiese rebelle in Oekraïne neergeskiet is – iets wat Rusland tot nog toe ten sterkste ontken. Drie Russe en een Oekraïner staan tereg op verdenking van moord op al 298 oorledenes, van wie die meeste Nederlanders was. Die beskuldigdes woon nie die verrigtinge by nie en slegs een word deur ’n advokaat verteenwoordig. Daar word verwag dat die saak tot ten minste November sal voortduur.
Vrou skenk geboorte aan boord van ’n KLM-vlug
RTL Nieuws berig dat ’n vrou aan boord van ’n vlug vanaf Nairobi na Amsterdam Vrydag geboorte geskenk het. Dit is veral opmerklik aangesien vroue wat langer as 36 weke swanger is, afgeraai word om te vlieg. Dit is nog nie duidelik hoeveel weke die vrou swanger was nie, maar na wat berig word, gaan dit goed met die ma en die kind. ’n Dokter was aan boord om met die bevalling te help. ’n Woordvoerder van KLM sê gewoonlik as daar ’n mediese voorval aan boord van ’n vlug plaasvind, word gevra of daar ’n dokter aan boord is. Die dokter kry dan ’n tas met mediese toerusting en medikasie. Die vlieënier neem die finale besluit of die vliegtuig moet land en of die vlug kan voortgaan.
Klaprose teen die wind
Die papawers, of klaprose soos hulle hier bekend staan, is vanjaar ’n lus vir die oog. In veral België staan die weilande, rande van paaie en velde vol in die bloei. Volgens die plantkenner Roosmarijn Steeman is daar beslis vanjaar meer papawers as ander jare. Sy sê dit is die gevolg daarvan dat die meer onlangse somers baie warm was, waardeur plante langs die rande van velde afgesterf het. Die ruimte is nou deur papawers ingeneem. Papawers groei graag op kaal bodems waar daar nog nie ander plante groei nie en is veral tuis in droë grond. ’n Mens sien hulle gereeld in geploegde grond en slagvelde is die ideale plek vir hulle om te ontkiem – vandaar dat hulle die simbool van die Eerste Wêreldoorlog geword het.