Nuusdekking oor Afrika is goed, maar kan beter

  • 0

Navorsing oor die internasionale media se verslaggewing oor Afrika het aan die lig gebring dat daar ruimte is vir verbetering wanneer dit kom by die dekking van nuus oor Afrika.

’n Span vooraanstaande navorsers uit die Verenigde Koninkryk (VK) het ’n verslag bekendgestel wat die neigings en vooroordele wat verband hou met wêreldwye medianarratiewe oor Afrika beklemtoon.

Volgens die navorsers is dit egter gerusstellend dat die meeste media ’n hoë telling behaal het op die “diepte van dekking”-aanwyser. Hierdie aanwyser het balans, stereotipering, konteks en raamwerk beoordeel. Dit wys dat die meeste goed befondste media-organisasies ter wêreld bewus is van die beginsels van ’n goeie nuusverhaal.

Die Global Media Index for Africa (GMI) is die enigste indeks wat kyk hoe die wêreld se invloedrykste nuusverskaffers nuus op die vasteland dek. Dit is geskep in reaksie op die feit dat globale nuusdekking oor Afrika voortgaan om sekere persepsies oor Afrika te vorm.

Die impak van hierdie aanhoudende stories oor konflik, korrupsie, armoede, swak leierskap, slegte politieke omstandighede en siekte het ’n groot invloed op beleggings, toerisme en die beeld van Afrika in die algemeen.

Die GMI is ’n inisiatief van die Universiteit van Kaapstad (UK) se Sentrum vir Film- en Mediastudies in samewerking met Africa no Filter en die Africa Centre, New York.

Dit is ’n baanbrekersinisiatief wat kyk hoe 20 van die wêreld se invloedrykste nuusverskaffers verslag doen oor nuus wat met Afrika verband hou.

Dit het aan die lig gebring dat daar ruimte vir verbetering is wanneer dit kom by die dekking van nuwe, progressiewe narratiewe oor Afrika.

“Ons navorsing verskaf nie net ’n momentopname van huidige mediapraktyke nie, maar ook ’n oproep tot aksie vir die globale media om hul storievertelling oor Afrika krities te ondersoek en die impak daarvan te verstaan,” het Wallace Chuma van die UK se Sentrum vir Film- en Mediastudies gesê.

Volgens die navorsingsresultate beklee The Guardian die eerste plek op die indeks wat sy algehele dekking van die vasteland betref, met ’n telling van 63%. Dit was ook nommer een vir die diversiteit van onderwerpe gedek, met ’n telling van 57%.

AFP- en Reuters-agentskappe is in die tweede en derde plek met onderskeidelik 61% en 60%. Die drie toonaangewende Amerikaanse nuusblaaie The New York Times, The Wall Street Journal en The Washington Post is die laagste op die lys, in die 18de, 19de en 20ste plek, met net 51%, 48% en 47% onderskeidelik.

“Die indeks dien as ’n basislyn van waar ons kan aandring op meer genuanseerde en regverdige medianarratiewe. Hierdie studie is ’n belangrike stap om die status quo uit te daag en globale begrip van Afrika te verryk,” het Chuma gesê.

Die navorsers doen ’n beroep op media-organisasies om te prioritiseer en te belê in die skep van diversiteit in die nuuskantoor met ’n fokus op geslagsgelykheid.

“Ons doen ’n beroep op media-organisasies om etiese storievertelbeginsels te handhaaf en gebalanseerde verslaggewing van Afrika-dekking se diepte en konteks te verbeter.”

Hulle vra ook mediaregulerende liggame om riglyne daar te stel wat sal verseker dat nuusdekking oor Afrika by die etiese beginsels van storievertelling sal hou.

“Medianarratiewe vorm die perspektiewe wat bepaal hoe wêreldwye besluitnemers by Afrika betrokke raak. Mediadekking van Afrika het oor die jare meer gebalanseerd geraak, grootliks as gevolg van die koms van sosiale media wat eerstepersoon-teennarratiewe bied vir vooroordele in joernalistiek gebaseer op verouderde oortuigings,” het Uzodinma Iweala, uitvoerende hoof van die Afrika-sentrum, gesê.

Daar word ook gepleit vir groter samewerking tussen media-afsetpunte, regulerende liggame, navorsers en burgerlike organisasies om ’n meer omvattende begrip van Afrika-narratiewe te help fasiliteer.

Hulle sê deur mediageletterdheidsinisiatiewe en mediageletterdheid op skool te integreer in kurrikulums en die bekendstelling van openbarebewustheidsveldtogte, kan lesers bemagtig word om mediadekking oor Afrika krities te evalueer.

Daarbenewens kan die ondersteuning van kruiskulturele uitruilprogramme, feeste en vennootskappe ook bydra tot die bevordering van wedersydse begrip en respek tussen Afrika en internasionale gemeenskappe.

  • Die verslag kan hier gelees word.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top