Nuusflitse uit die Lae Lande

  • 0

Belg geskiet op Kaboel-lughawe

De Morgen berig dat ’n Belg uit Antwerpen, Hotak Jahanshir, Vrydag op die lughawe in Kaboel vermoedelik deur ’n Amerikaanse soldaat geskiet is.

Die voorval het verlede Vrydag om 14:40 Suid-Afrikaanse tyd gebeur tydens ’n operasie waartydens Belge probeer het om die lughawe van Kaboel te bereik. Volgens ’n broer van Hotak, Sherbaz, was hy en Hotak deel van die skare op die lughawe. Hulle is by ’n kontrolepunt deur Amerikaners beveel om te gaan sit. ’n Lid van die Belgiese weermag het toe ook by die kontrolepunt verskyn en gevra of daar enige Belge aanwesig is. Sherbaz sê die lid van die Belgiese weermag het ander laat weet dat sy broer na die poort mag kom, maar toe skiet, na bewering, ’n Amerikaanse soldaat hom. Volgens De Morgen kan dit nie bevestig word dat dit wel ’n Amerikaanse soldaat is wat geskiet het nie. Die slagoffer is na die hospitaal geneem, waar hy vir ’n gebreekte kaak behandel is. Die voorval word ondersoek.

Intussen berig VRT NWS dat sowat 100 bykomende Belgiese weermaglede na die lughawe in Kaboel en Islamabad in Pakistan ontplooi gaan word volgens die Belgiese minister van verdediging, Ludivine Dedonder. Volgens Dedonder is België gereed vir “alle mogelijke opties” in Kaboel. Die doel is om meer repatriasievlugte tussen Kaboel en die Pakistanse hoofstad Islamabad te bewerkstellig, maar volgens Dedonder kan Belgiese weermaglede ook help om die lughaweterrein in Kaboel te beveilig.

Nederlandse ontruimingsoperasie sukkel om op dreef te kom

Teen laat Woensdagaand verlede week is maar 50 mense uit Afghanistan na Nederland gebring nadat die eerste militêre vliegtuig met 35 mense aan boord Woensdag op Schiphol geland het. Volgens die Nederlandse Ministerie van Verdediging was sowat drie vlugte per dag uit Kaboel beplan, maar minder as 24 uur later berig die NOS dat een van die vliegtuie waarmee mense in Kaboel gehaal moes word, weens ’n tegniese probleem nie kon opstyg nie. Die C-130 Hercules-vliegtuig moes noodgedwonge êrens in ’n buurland van Afghanistan wag om herstel te word terwyl honderde mense op vlugte gewag het om die land te verlaat. Die Ministerie het verlede jaar besluit om sy vloot C-130 Hercules-transportvliegtuie vervroeg uit diens te stel. Die eerste van dié vliegtuie het in 1994 in Nederland aangekom.

Die Ministerie het intussen op Twitter laat weet dat sowat 800 mense reeds uit Afghanistan ontruim is. Luister hier na wat die Nederlandse ambassadeur in Afghanistan oor die gebeure vertel:

Twee verdagtes aangekeer vir poging tot moord op ’n joernalis

Die polisie in Nederland het twee mans van tussen 31 en 32 jaar oud aangekeer wat daarvan verdink word dat hulle verlede Donderdag brandbomme in en teen die huis van ’n joernalis in Groningen, in die noorde van Nederland, gegooi het. Hulle word aangehou onder verdenking van poging tot moord.

Die inhegtenisnemings volg nadat beeldmateriaal van kringtelevisiekameras versprei is waarin die verdagtes duidelik gesien kan word. Die joernalis, Willem Groeneveld, kon daarin slaag om die vlamme te blus. Niemand is beseer nie.

Groeneveld is die stigter van die nuuswebwerf Sikkom. Hy is al voorheen geïntimideer nadat hy berigte oor ’n eiendomsmagnaat geskryf het. Die joernalis en sy vriendin is tydelik na ’n plek van veiligheid geneem. Hy sê hy is bly dat die vermeende daders vasgetrek is: “We zijn opgelucht dat de vermoedelijke daders zo snel zijn opgepakt.” Hy is egter nie van plan om met sy werk op te hou nie. “Ik laat me niet de mond snoeren door geweld en intimidatie. Dan bereiken we alleen maar waar ze op uit zijn.”

Reusedwelmvonds in Rotterdam

Die polisie in Rotterdam het verlede Dinsdag tydens ’n klopjag in die Rotterdamse hawe op sowat 4 000 kg kokaïen beslag gelê en dit vernietig.

Die dwelms was in twee houers met pynappelpulp uit Costa Rica versteek. Die vonds was ’n gesamentlike operasie van die polisie, doeane, die Fiskale Inligtings- en Ondersoekdiens (FIOD), en die Nasionale Vervolger. Niemand is in hegtenis geneem nie. Dwelms word gereeld in die hawe van Rotterdam onderskep. ’n Week vantevore is 2 100 kg kokaïen met ’n straatwaarde van sowat €157 miljoen (nagenoeg R2,7 miljard) gevind.

Amsterdam loop weer deur weens vermeende onverdraagsaamheid

NOS berig dat ’n brand Donderdagnag in ’n woonstelgebou in Amsterdam-Wes uitgebreek het in wat vermoedelik brandstigting was. Volgens die polisie lyk dit of daar ’n verband is tussen die brand en reënboogvlae (wat met die LGBTI-gemeenskap geassosieer word) wat by die gebou gehang is. Dit blyk dat daar ook probeer is om brand te stig by ander woonplekke waar reënboogvlae hang. Reënboogvlae is algemeen in Nederland te sien, veral in Amsterdam, en word by sakeondernemings, woonplekke en selfs kerke aangetref.

Die brand is binne ’n uur onder beheer gebring. Vier mense is vir rookinaseming in die hospitaal opgeneem. Volgens die Amsterdamse nuusdiens AT5 was daar vroeër ook voorvalle by woonplekke waar reënboogvlae hang. In die afgelope paar weke is Pride-plakkate en reënboogvlae van papier ook aan die brand gesteek.

Eksotiese muskiet in België ontdek

Navorsers van die Instituut vir Tropiese Geneeskunde (ITG) in Antwerpen het vir die eerste keer die muskiet Culiseta longiareolata in België aangetref.

Die muskiet is oorspronklik van die Asore en Sentraal-Asië en kom ook in Suid-Afrika voor, maar nie in Wes-Europa nie. Die afgelope 10 jaar is die spesie wel opgemerk in onder meer Duitsland, Oostenryk, Slowenië, Switserland en Luxemburg. En nou vir die eerste keer ook in België. Die insek hou gelukkig nie veel probleme vir die mens in nie, maar kan siektes oordra op voëls, berig VRT NWS. Die muskiet is bekend daarvoor dat hy die Wes-Nyl-virus op voëls kan oordra, wat vir voëls dodelik kan wees. Die voorkoms van die insek in Wes-Europa word aan die gevolge van klimaatsverandering toegeskryf.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top